Avatar of Barend

by

.

November 8, 2012 in Uncategorized

Dit is vir my teleurstellend dat ’n belangrike geestelike leier soos Kenneth Meshoe, ’n prediker in eie reg, homself en sy party beywer vir die behoud van Kersfees. Ja, dit is nou weer amper Kersfees. Dit gaan in ons keelgatte afgedruk word of jy daarvan hou of nie. Hierdie ‘heidense’ Roomse fees, waaraan die geboorte van Jesus eers veel later toegedig was, word gekenmerk aan vele praktyke wat weinig tot niks met die Christelike heilige geskrifte, wat kollektief as ‘die Bybel’ bekendstaan, te doen het nie. Selfs die afbeeldings van Jesus se geboorte (afbeeldings wat eintlik verbode is ingevolge die 10 gebooie) bevat dikwels misleiding, soos byvoorbeeld die beweerde ‘3 wyse manne’.

 

Kersfees is natuurlik die tyd wat baie mense herinner word aan hoe arm hulle is. Net anderdag is daar op die TV nuus gemaan dat mense liefs nie geld moet spandeer hierdie Kersfees nie. Maar baie gaan hulle nie hieraan steur nie. Want elke ouer wil sy kindjie ‘spoil’. Want almal doen dit mos. En ons moet mos soos almal wees.

 

Dit is ook die tyd waarin baie mense herinner word dat hulle eensaam in die wêreld is. Dat hulle nie regtig êrens inpas nie en ook nie vriende het nie. Dat hulle uiteindelik alleen en vervreem is en dat daar niemand meer eintlik op aarde is wat vir hulle omgee of selfs aan hulle dink nie. Dit is ’n tyd waarin derduisende eensame oumense in eensaamheid vergaan. Dit is geen wonder nie dat daar so baie selfmoord in hierdie tye is nie. Want Kersfees is vir baie mense die heel grootste herinnering dat hulle uiteindelik alleen in die wêreld is . . .

 

Daar is nie een enkele plek in die Bybel waar Christene die opdrag gegee word om Jesus se verjaarsdag te vier nie. Maar daar is ’n baie ou ironie aan die Bybel, en hoe ons as Christene met hom omgaan, en dit is dat ons kies wat ons wil glo en wat nie.

 

Dit is soos ’n navorser wat vooraf besluit wat die resultate van sy/haar ondersoek moet wees, en dan bloot toepaslike bewyse gaan soek.

 

Ek het nou die boek ‘An introduction to the Bible’ van J.W. Roggerson gelees. Dit was ’n ongelooflike ervaring. In sy boek maak Rogerson ook hierdie punt – dat mense die Bybel selektief lees. Ons tel die Bybel op en ons haal daaruit net wat ons wil. As ons nie van gays hou nie, kan ons die Bybel gebruik vir diskriminasie. As ons van ‘apartheid’ hou, dan is daar gedeeltes wat ons kan gebruik om dit te regverdig. As ons vroue as benede mans beskou, dan sleep ons die Bybel nader.

 

En die waarheid, en die werklikheid, so lyk dit my, is uiteindelik maar net iets wat onderhandel word. Ek het so lekker gesels met my een kollega die anderdag oor hierdie saak. Ek is nou totaal oortuig hiervan – die ‘werklikheid’ is beslis nie staties nie. As jy genoeg mense kan oortuig dat groen eintlik rooi is, dan sal groen uiteindelik rooi word.

 

Ek dink ons moet baie meer leer oor presies HOE om die Bybel te gebruik. Dit is die een ding wat ek oor en oor besef het toe ek Rogerson se boek gelees het. Dit is als goed en wel dat hier het jy nou die Bybel voor jou. Maar hoe presies moet jy dit gebruik? Moet jy die norme van die antieke wêreld presies net so as rigtingwysers in jou eie lewe gebruik? Moet jy die hele Bybel as norm gebruik? Of net sekere gedeeltes, soos wat die moderne kerk vandag doen?

 

Dit is duidelik dat Rogerson in sy boek ’n lees van die Bybel bepleit wat wegbeweeg van die fundamentalisme. Hier is die besondere paragraaf waarmee hy eindig:

 

“The most profound use that can be made of the Bible is not to treat it as a law book, but to seek to hear and act in accordance with its prophetic voice, a prophetic voice that is disturbing and unconventional, and which can never be content with the world as it is.” (p. 188)

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>