Avatar of Barend

by

W.P. jou ‘lekker’ ding

October 27, 2012 in Uncategorized

Ek lees een van die mees skokkendste dinge wat ek in ‘n lang tyd gelees het op die net die anderdag. Daar is glo ‘n skool in Bloemfontein waar daar nou ‘n verbod op ‘Ultra Mel’ is. Poeding ja, of, soos dit anders bekend staan, veral, ‘ou koek en vlae’. Op vlae ja. Daardie soet, geel, grootliks skadelose vloeistof wat sinoniem is met poeding. Maar plaas dit nou in die verkeerde hande en dan word vlae ‘n wapen.

 

Dit is maar net soos messe. Jy kan met dieselfde mes wat jy kos voorberei en wat jy dus gebruik om mense SAAM te laat eet, met daardie selfde mes kan jy moor en vervreem en vernietig.

 

Volgens die stuk wat ek anderdag in Volksblad gelees het, word vlae gebruik deur leerders om te ‘spog’ met hulle geld. Die vlae word op onsinnige wyse oral gespuit en gemors, selfs op mede-skoliere.

 

Die berig lui verder dat die praktyk glo teruggevoer kan word na skole in Johannesburg, waar skoliere selfs duur alkoholiese drank koop en op die grond uitgooi en geldnote verbrand, NET om vir andere te kan wys hulle kan dit bekostig. Hulle is belangrik en ryk genoeg.

 

En ek het gedink ek weet iets van my land af Gedink ek het al paar dinge in die lewe geleer. . .

 

Maar as daar een ding is wat ek wel geleer het van die afgelope twee jaar se Curriebeker finale, dan is dit dat die lewe maar uiteindelik ‘n gelukskoot is.

 

Hoe naby het die die Leeus nie aan ‘n oorwinnig oor die W.P. gekom verlede naweek nie? En wat gebeur toe? Nes verlede jaar sit amper die hele land terug en se, daar is geen manier waarop die Haaie hierdie jaar die beker gaan verloor nie. Kyk, hulle het net te veel ‘Springbokke’. Hulle voorspelers is net eenvoudig te goed. Die W.P. staan nie eintlik ‘n kans teen die magtige Sharks nie . . .

 

So erg was dit, ek het nie eens die moeite gedoen en gekyk nie. Wie wil tog nou so ‘n ‘eenrigtingverkeer’ storie sit kyk soos wat ‘die mense’ voorspel?

 

Nou wonder ek vandag so in my stilte, wat presies moet ek dan nou van die ‘Springbokke’ dink die volgende keer as hulle op die veld draf? Gaan daardie 22-tal WAARLIK die heel heel beste van my land verteenwoordig? Of is dit maar die wat gelukkig is wat die paal haal? Daardie mense wat toevallig die keurders se gunstellinge is? En nie noodwendig die bestes is nie?

 

Die lewe is ‘n dobbelspel. Jy word gebore en as jy gelukkig is, dan kry jy ouers wat vir jou leer dat kos ‘n skaars ding is wat nie gemors moet word nie.

 

Jy speel rugby met die hoop dat die keurder(s) waarlik die HEEL HEEL bestes sal kies. Nie op grond van wie hulle meer van hou nie. Maar die bestes.

 

Jy neem ‘n myn oor en jy hoop en bid dat die mense wat die minerale uit die grond uithaal tevrede daarmee sal wees om net-net te kan oorleef.

 

Jy regeer ‘n land en jy hoop dat die mense van daardie land tevrede gehou sal kan word met welsynstoelaes in plaas van werksgeleenthede.

 

Jy kry miskien ‘n kind en as jy gelukkig is dan leer daardie kind by jou dat dit afskuwelik is om kos te mors . . .

 

As jy gelukkig is.

 

As jy gelukkig is dan doen jy iets met jou lewe wat vir jou uiteindelik ‘sinvol’ was. As jy boonop finansieel welaf in die proses kan word dan is jy buitengewoon geseend. Maar mense wat WAARLIK hemel op aarde beleef is daardie mense wat aanvaar word en liefgehe word NET vir wat hulle is, selfs al is hulle nou nie juis belangrik of ryk nie. Geseend is sulke mense . . .

 

Ek wil sover gaan en se dat geluk speel ‘n enorme rol in ons geluk. En dinge kan in sekondes verander. Wat jy vandag het is tydelik.

 

Jy kan die eendag nog in die sewende hemel wees, omring deur mense wat jy kan liefhe en mense wat JOU liefhet. En die volgende dag? Dan bly daar niks van oor nie. Net die herinnering.

 

Jy kan die een dag voel dat daar vir jou ook ‘n rol is op aarde. Dat jy ook ‘n plekkie in die Skepper se sonlig het.

 

En dan, nie lank daarna nie, dan bly daar vir jou niks oor nie. Dan voel dit vir jou jy het geen rol meer nie. Jy is opsy geskuif en uitgedien – ‘n “has-been”, soos mense so dikwels na mekaar verwys.

 

Ek het hierdie een kennis, hy is al baie jare ‘n groot WP ondersteuner maar, soos ons weet, dis nou al 11 jaar, en ek hoor die afgelope tyd hoe die WP-mense se nee ‘ die WP skuld my groot’. Daarom, net die volgende – Tertius Fourie, baie geluk met jou span. Ek het sommer dadelik aan jou en al die ander ‘WP mense’ wat ek van weet gedink toe ek daardie laaste minute sien. Julle toewyding is uiteindelik weer vir ‘n slaggie bietjie beloon.

 

Ons ‘Cheetah-mense’ ken die gevoel goed om beloon te word na baie jare se teleurstellende vertonings en ten minste is WP hierdie jaar weer Westelike Provinsie en die ‘Weer Pretoria’ nie.

 

Ek wil graag ‘n voorstel maak. Kan ons dalk volgende jaar, as die Haaie dalk weer die finaal haal (met die klem op DALK), kan ons probeer om nie sommer net aan te neem hulle SAL die beker wen nie, veral nie omdat hulle ‘die meeste Springbokke’ het nie?

Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>