Avatar of Barend

by

Stilte

October 14, 2012 in Uncategorized

Net gister, toe sien ek die film “’n Saak van geloof” op ’n televisie. Ek sukkel om te verstaan hoe mense ’n hele film maak met die sangeres Riana Nel wat een van die rolle vertolk, en dan sing sy nie eens ’n ou liedjie nie. Nie eens ’n ou enetjie nie.

 

Die storielyn van “’n Saak van geloof” het my nie erg beïndruk nie. Maar die Karoo het ’n manier om my asem weg te slaan. Dis ’n plek wat, soos Coenie de Villiers sing, “nog rou is, wat ’n mens nog in kan glo”. En dit is vir my opmerklik dat verskeie films al in die Karoo verfilm is. Daar was daai een, wat was die naam, Jakalsdans (?), as ek reg onthou. En dan was daar “’n Saak van geloof”. En nou is daar “Stilte”.

 

Daar was ongelukkig vir my iets aan die beeld wat bietjie dof was. Asof dit iets geel is. Wat als bietjie bederf het. Dit is jammer. Ek wonder of dit maar net die spesifieke teater was waarin ek myself bevind het.

 

Ag, eintlik is dit ook geen verrassing dat so baie films in die Karoo gemaak word nie. Ek meen, hoeveel liedere word nie oor die Karoo gesing nie? Hoeveel gedigte is daar nie al oor die streek geskryf nie? Ek neem aan verskeie skilderye is óók al van dié landskap gemaak. Dit is nou maar net so. Ek dink dit is daardie barheid. Daardie vaal omgewing. Die klippe en die niks. In só plek word enige mooi ietsie geaksentueer, en omdat die omgewing eintlik maar vaal is sien jy verál die mooi in mense net soveel makliker raak. Jy sien die mooi wat jy mis in die wêreld dáár in die harte van mense.

 

Misdaad. Ek wonder altyd hoekom skrywers nie méér dikwels van misdaad gebruik maak in storielyne nie. Veral in ’n land soos ons land. Ek weet so min van “Stilte”, ek wonder skielik of dit dalk gebaseer is op ware gebeure, want ek het daai kritiese begin gemis waar dié tipe van ding gewoonlik teatraal aangekondig word.

 

Ons land word gevange gehou deur geweldsmisdaad terwyl die politici net breed glimlag en agter hulle lyfwagte staan en verklaar dat Suid-Afrika baie veilig is. En in “Stilte” speel die trauma van geweldsmisdaad ’n sentrale rol in die verhaal. In daardie opsig word dit so ’n ég Suid-Afrikaanse ding. Jy kry die gevoel van dit wat jy eintlik maar elke dag vuisvoos en lusteloos in die koerant van lees. Baie dramaties. Die toneel waar die hoofkarakter in die klaskamer vertel van haar laaste herinneringe aan wat eens haar ma was . . .

 

Soos in enige knap drama is dit uiteindelik ’n kwessie van identiteit wat onder druk kom. Vir ‘Antoinette’ het die skynbare verlies aan haar stem haar in ’n enorme identiteitskrisis gedompel. Maar dis soos die spreekwoord sê: stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond. En gou word dit duidelik dat daar meer aan haar eie groot anders maak is as wat mens verwag het.

 

Dis ’n heel menslike verhaal hierdie “Stilte”. Ek glo dit sal moontlik wees vir mense, selfs ongelowige mense, om dit te kan geniet. Want ek dink tog dit skets iets soortgelyks van wat mense dikwels deurmaak in hierdie land. Hoe hulle die lewe probeer hanteerbaar maak. Ek het dit waarlik heel stimulerend gevind om te kyk. Daar is boonop baie mooi musiek, wat bestaan uit die soet stem van Nianell. Pretorius vertolk self ’n aantal liedere. Sy is nie in Nianell se liga nie, that much is obvious, soos die Engelsman sou sê. Maar haar vertolking van ‘Antoinette’ is wat my betref redelik oortuigend.

 

Die res van die akteurs doen wat my betref ook nie juis skade aan die produksie nie. Dit kom uiteindelik, so glo ek, grootliks neer op die teks. Die teks kan van wat gewoonlik ’n briljante akteur is ’n onder gemiddelde een maak, en anders om, natuurlik. En dit vat nie ’n ingewikkelde storie nie. “Stilte” is regtig baie eenvoudig. Dit lyk vir my of die manier hoe ’n teks gestruktureer word ’n kernelement van die sukses uitmaak. Die storie is uiteindelik amper net bysaak.

 

In elk geval. Angelique Pretorius. Ek sit so en dink nou-nou. Die heel eerste keer wat ek van Angelique Pretorius bewus geword het was juis in ’n film. Dit was die film ‘Stoute boudjies’ en ek weet nie meer regtig hoekom ek dáái een gaan kyk het nie. Ek vermoed dit het te doen met die feit dat ek gek is oor Afrikaans en dat ek uit my pad uit gaan om Afrikaanse films te kyk. Godsdienstige films soos “Stilte” is ook nou nie presies my gunsteling tipe kykstof nie. Maar ek is geneig en kyk als uit nuuskierigheid.

 

Met dié dinge in gedagte wil ek my indruk oor die film “Stilte” dan in een enkele sin probeer saamvat, en daarmee volstaan:

 

It’s one, small, step for Afrikaans theatre, one, giant leap, for Angelique.

2 responses to Stilte

  1. I want to download the music of stilte but I can’t find it love the movie soooooooooo much had me in tears

Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>