Kultuur van swak eetgewoontes moor Suid-Afrika
October 11, 2012 in Uncategorized
Wat ’n besondere stukkie skryfwerk was hierdie onlangse stuk in Sarie nie!, van die aktrise Shaleen Surtie-Richards, na afloop van die beroerte wat sy oorleef het. Hoeveel vervelige artikels verskyn nie week in en week uit in ons tydskrifte nie? Toegegee, wat vervelig is en wat nié vervelig is nie is maar ’n baie relatiewe saak. Dit verskil van mens tot mens. Maar hier is eintlik ’n storie oor ’n saak wat baie relevant is: gesondheid. Ek wil dit waag om te sê dat mense soos Shaleen Surtie-Richards seker maar min in hierdie tipe tydskrifte verskyn, vir redes wat jy nie ’n vuurpylwetenskaplike hoef te wees om te raai nie.
Om een of ander rede, as ek aan tydskrifte van hierdie aard dink, dan sien ek net vir Christi Panagio voor my geestesoog. Christi en Nico is nou terug van hulle 2de wittebrood op die een of ander eksotiese eiland halfpad om die aarde, en die Sarie/Rooi Rose span het by die Panagio’s gaan inloer om te hoor of alles nog klopdisselboom is aan daai kant en om sommer ’n string foto’s van die vuurwarm paartjie te neem…
’n Ander kandidaat is die model Minki van der Westhuizen…
Maar Shaleen Surtie-Richards? Sy is nie die tipiese kandidaat vir die glanspapier van Sarie nie. Sê vir my ek steriotipeer hierdie mense gruwelik en ek sal skud erken. Maar staaf tog my wanpersepsie verkeerd met genoegsame voorbeelde!
In elk geval. Nou moet ek ongelukkig bieg, ek is nie die Shaleen se heel heel grootste bewonderaar nie. Ek weet nie hoekom nie. Miskien is dit maar net die tipe rolle wat sy altyd speel. Soos so baie mense in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf moes Shaleen ook natuurlik haar deel doen in Suid-Afrika se sepies. Miskien is dit dáár waar Shaleen, net soos so baie ander akteurs/aktrises, my aan die slaap gespeel het.
Miskien moet ek hier net verder klassifiseer. Vir my is Shaleen geensins ’n swak aktrise nie. Nee wat, daarvoor is daar meer as genoeg ander kandidate teen wie Shaleen méér as net ’n swaargewig is. Dit is dalk maar net dat ek ’n baie kritiese TV/filmkyker is. Mense wat gereeld hier lees sal weet watse weersin ek in TV en films het. En dis soos ek sê, die teks speel uit die aard van die saak ’n kritiese rol in die pogings van die toneelspelers.
Want jy kan 10 000, ag, 10 miljoen episodes van 7de Laan nie vergelyk met Fiela se kind nie. En dis as Fiela wat Shaleen naam gemaak het en ek twyfel of enge ander mens op aarde ’n beter Fiela sou kon wees as juis Shaleen Surtie-Richards.
Maar hierdie artikel in die Sarie. Dit is, soos mense wat rooitaal praat sou sê, ‘hair-raising stuff’.
Ek lees hier in die Beeld. Daar word gesê dat 33% van alle Suid-Afrikaanse mans en tot 66% van Suid-Afrika se vroue ly aan vetsug. Die koste verbonde aan hierdie epidemie is natuurlik astronomies. Die staat kreun as’t ware onder die vetrolle.
Om van die skade wat rook doen nie eens te praat nie. Dáároor het ek al verskeie kere uitgevaar op hierdie blog en ek wil nie vandag weer nie.
Maar ek wil dit vandag waag om te beweer dat baie Suid-Afrikaners, inderdaad baie mense op aarde, waarlik tot ’n groot mate slagoffers is. Natuurlik is elke mens vir hom/haarself verantwoordelik. Maar in Suid-Afrika sit ons vasgevang in wat ek nie anders kan as om te beskryf as ’n kultuur van swak eet nie. Verkeerd eet is waarlik so deel van ons as wat rugby en braaivleis is.
Ek onthou jare gelede, toe ek nog ’n kind was, toe maak die een tannie van my die een dag vir my kos. En ek kan nie presies onthou wat dit alles behels het nie, maar dit was ’n ordentlike bord ‘Boerekos’, of dan nou ‘kookkos’, soos ons dit leer ken het. En dit het altyd ’n kombinasie van die volgende behels. Ten minste één tradisionele ‘stysel’. Ten minste. Dikwels meer as een. Hierdie ‘stysels’ het tipies uit die volgende bestaan: rys, stampmielies, koring en aartappels.
Dan die vleis. Daar was altyd vleis. Altyd ten minste een vleisgereg. En gladnie ongewoon as daar twee is nie.
En dan die groente. Wortels, pampoen, beet, ertjies en boontjies. Die boontjies is dikwels gemeng met aartappel. So ook tipies die spinasie. En saam met daai spinasie/aartappel… vet. Tipies botter.
Sélf het jy hierdie tipe ete as goeie, gesonde maar bowenal gebalanseerde kos beskou. Dit bevat tog 3 groente dan nie? Soos die dokter aanbeveel. En dit smaak hemels. Hoe kán dit dan nou ‘sleg’ vir jou wees.
En hoekom onthou ek dié spesifieke dag met my tannie só goed? Wel, ek het dié dag die ondenkbare skande gepleeg deur ‘net een keer te skep’. Geen tweede porsie nie…
Ja ne. Só is dit in baie Boerefamilies. Die kostafel is ’n plek waar jy in jou spoor moet trap. Eintlik is dit beter as jy jou skoene uittrek daar. Want dis heilige grond. En om ’n tweede porsie van hulle kos te weier is so goed jy verwerp hulle God.
En as jy iets grensend aan ’n oorlog wil sien, dan kritiseer jy die kos. Jy sê die ete bevat te min komplekse stysels en te veel suiker en toegevoegde vet. Die heel heel ergste verraad, so het ek dit al self beleef, is om jou eie slaaitjie gou-gou aan mekaar te slaan om saam met jou stukkie vleis te eet. Gou-gou kan dit lelik raak – o so ou Barend, my kos is nie goed genoeg vir jou nie, en ék is ook seker nie goed genoeg vir jou nie né?!
En so eet ons onsself siek. Jaar in en jaar uit. Boervroue laat die tafels kreun onder hierdie ongebalanseerde geregte. En pappa glimlag nét so breed en hy soen vir mamma diep en innig terwyl hy die strome water moet wegsluk soos die aptyt gewek word.
En die ergste van alles is, ons dink daai kos kan onmoontlik ‘ongesond’ wees. Ons dink ‘ander mense’ eet ongesond. Nie óns nie.
En dit is nie net ’n ding wat die ‘Boere’ doen, hierdie ding van ongesond eet nie. Om verkeerd te eet en te glo jy eet reg is uiteindelik in ons kultuur ingeweef. En selfs al weet jy van beter (en baie mense weet régtig nie van beter nie), hoe ontsnap jy die kultuur? Hoe sê jy ‘nee’ sonder om ’n broedertwis te begin wat oor generasies kan strek?
Dit is net so onmoontlike taak soos om ’n roker te oortuig om op te hou. Dit is eintlik maar ’n verlore stryd.
Ten minste is die gety darem besig om teen rook te draai. Maar wat kos betref is ons besig om te verloor.

Recent Comments