Avatar of Barend

by

Suid-Afrika – Foxtrot van die fallus? (vervolg)

October 9, 2012 in Uncategorized

Wie onthou nog daardie dinge van ‘die Zuma-skildery’? Pffff. Mens kan eintlik vra, wie onthou dit nie? Die ‘Spies van die nasie’? Zuma, geverf met dáái kleure, met dáái liggaamsdeel so erg ontbloot. En ou Barend le Grange wat tog net wil seker maak dat almal weet dat ‘ons is nie almal só’ nie. Ons is nie almal die nare rassiste wat sommige van die Zuma-skildery se felste kritici, na afloop van uitgebreide studie en kritiese nabetragting tot die gevolgtrekking gekom het ‘ons’ is nie.

 

Ek haat eintlik sarkasme en is nie regtig ’n sarkastiese mens nie. Ek blaas net bietjie stoom af hier, so verskoon my asseblief.

 

Ja, die Zuma skildery. Daar was daai tyd mense wat naderhand gesê het ag, asseblief, kan ons net asseblief aanbeweeg nou? Hierdie saak raak nou bietjie afgesaag. Ek self het tot drie keer kort na mekaar oor die saak geblog – wat ’n rekord vir my moet wees. Drie keer oor presies dieselfde saak! Maar hier is die ding. Die ding wat mense soms vergeet. En dit is dat, in sekere sake, waar die debat net voortwoed en voortwoed en voortwoed sonder enige skynbare einde in sig, en waar mense naderhand skreeu – kan ons asseblief nou net bietjie aanbeweeg – in súlke sake gaan dit heel dikwels nie oor die spesifieke saak sélf nie, maar veel eerder oor die beginsel.

 

Hoekom stry en baklei mense tot vandag toe nog oor ’n boek wat Charles Darwin in die 19de eeu gepubliseer het? Dit het weinig met die boek self te doen. Dit gaan oor die beginsel. Dit gaan oor die implikasies van wat dit als behels. Want dit beïnvloed ons op die mees intiemste maniere. Van waar ons ons boeke koop tot hoe gesinne hulself organiseer . . .

 

Ek was ook daai tyd ’n kritikus van die skildery. Ek is nie ’n voorstander van publieke naaktheid nie. Maar ek kon toegee dat daar sin is in wat die kunstenaar daarmee wou sê. Want daardie skildery was ’n klassieke voorbeeld van wat kuns en kunstenaars dikwels in samelewings doen en regkry. Dit vra vrae. Dit daag mense uit.

 

Want in Suid-Afrika is die tradisionele roetes om vrae te vra, om krities te dink, om die demokrasie pro-aktief te dien, daardie opsies is nie regtig meer opsies nie. In die parlement sal daar nie gehuiwer word om vir jou te sê jou mening is onbelangrik nie – want jy is ’n “minderheid”. Die media word gedreig met muilband wetgewing. Die regstelsel is nie eens meer altyd ’n welkome bondgenoot nie en moet gedurig ‘hervorm’ word.

 

En dáárom het Suid-Afrika die ‘Spies van die nasie’ skildery gehad.

 

Daar word nou gereeld gehoor in die media dat president Jacob Zuma eintlik baie sterk staan op pad na die Mangaung konferensie. Dit is in teenstelling met wat ek self verwag het en voorspel het hier. Die pro-Zuma provinsies, so word daar gewaarsku, het groei getoon en sal meer afgevaardigdes na Mangaung kan stuur as die res.

 

Ek probeer onthou, ek het iewers oor die naweek, vermoedelik in die koerant, gelees hoe iemand sê: ons kort skole en klinieke in Suid-Afrika, nie paleise vir die president nie . . .

 

En ek lees wat word daar geskryf van die gissings oor die ‘nuwe party’. Ek kan nie presies saamstem met al die detail van wat gesê word nie, veral nie dat dit niks sal verander nie. Gissings oor ’n ‘nuwe party’ was maar nog altyd daar. Al sedert 1994. Almal weet dat die stryd teen apartheid ’n baie uiteenlopende ‘broad church’ van mense saamgetrek het in wat vandag die ANC is. En die wegbreek van COPE kan waarlik nie in dieselfde asem genoem word nie! Want COPE was nie  ’n populistiese wegbreek nie…

 

’n Skeur in die ANC gaan die politiek baie lewendig maak. Dit sal tot groot kompetisie lei. In hoe ’n mate dit ons demokratiese waardes kan verdiep sal afhang van die substansie van die nuwe party se leiers, asook in ’n groot mate oor hoe die ANC op die nuwe party sal reageer. Sal dit steeds voortgaan om leiers te kies wat die staatskas stroop?

 

Hierdie dinge van die president. Van die 200 miljoen rand. Dit is dinge wat besig is om mense bitter te maak. Miskien is dit so dat die regerende party weer vir president Zuma sal herkies in Desember. Maar die party kan homself lelik in die voet skiet indien dit gebeur.

 

Opposisiepartye sal waarskynlik in die stilte die herverkiesing van Zuma verwelkom. In die publiek sal hulle natuurlik die besluit kritiseer, maar in hulle harte, vermoed ek, sal hulle net dalk juig. Want nóg 5 jaar van wat ons sedert Poliokwane gehad het gaan dalk nie goed wees vir Suid-Afrika nie, maar net soos in 2009 gaan dit goed wees vir die opposisie by die stembus in 2014.

Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>