Avatar of Barend

by

OLD NECTAR: A garden for all seasons – Una van der Spuy

August 23, 2012 in Uncategorized

Ek wil graag ’n woord van dank uitspreek teenoor die gawe mense van Rapport vir my eksemplaar van die boek ‘OLD NECTAR: A garden for all seasons’. Baie baie dankie.

 

OLD NECTAR is daar naby die dorpie Stellenbosch. Dit is ’n pragtige opstal in wat ek aanneem die ‘Kaaps-Hollandse’ boustyl is (maar eintlik raai ek nou aangesien ek geen argitek is nie en slegs beperkte belangstelling in die onderwerp het). Maar hierdie boek, geskryf deur die baie bekende Una van der Spuy, gaan nie oor die huis nie. Dit gaan oor die tuin.

 

Nou is tuinboeke nie my tipiese leesstof nie. En laat ek dit maar erken, ek het nie alles absorbeer wat in hierdie boek geskryf staan nie. Daar is so baie bome en blomme en struike en elkeen het ’n ander storie. Party kort meer water. Ander minder. Sommige dra maande lank blomme. Ander dra vir korter tye blomme. Party plante kort koelte. Ander kort meer son. Party plante is immergroen. Ander is bladwisselend. Party plante is inheems. Ander is indringers. Partye plante … ek dink as jy nou nog lees dan kry jy ’n idee waarvan ek praat. Nou weet jy minder of meer wat in hierdie boek staan. Die verskil is Una noem al die tersaaklike plante se name, en hier en daar maak die staaltjies die teks darem baie interessanter as wat dit daarsonder sou wees.

 

Maar die uitstaande kenmerk van Una van der Spuy se boek is die foto’s. Dit is ’n boek met besondere foto’s. Ek dink mense wat baie belangstel in plante gaan dit geniet om te lees, maar vir die res van ons is dit die foto’s wat jou hart wen.

 

Daar is twee baie interessante dinge aan die tuin van OLD NECTAR wat ek van geleer het. Nie dat ek enigsins bewus was van hierdie tuin nie, moet ek nou ongelukkig tot my skaamte erken. Die eerste interessante ding is dat hierdie tuin was ’n tyd gelede opgeneem in ’n boek met die titel ‘1001 Gardens You Must See Before You Die’. Die tuin is internasionaal hoog aangeskryf. ’n Mens kan hierdie tuin amper as ’n ambassadeur beskryf. En Una is sý argitek.

 

’n Ander interessante dingetjie. Ten tye van die publikasie van hierdie boek was die tuin van OLD NECTAR die enigste tuin in Suid-Afrika in privaat besit wat tot ’n Nasionale Monument verklaar was (en vir al wat ek weet is dit steeds die geval).

 

Sjame, ek wil nie weet wat kos hierdie hopie foto’s op hulle se blink papier nie. Seker net kort duskant ’n tenk petrol. Self dink ek nie ek sal dit koop nie. Nie omdat ek dink dis nie ’n goeie boek nie. Inteendeel. Dis maar ’n kwessie van ander belangstellinge wat swaarder weeg.

 

Hierdie tuin van OLD NECTAR is ’n interessante deel van ons erfenis. Mens hoop die tuin bly nog behoue vir baie lank en ek hoop ek sal die plek eendag kan besoek. Die boek, wel die boek is pragtig. Die teks bietjie moeilik om te absorbeer. Nie vir elke tweede mens nie. Maar vir mense wat hou van tuinmaak dink ek is dié ’n wonderlike boek. En vir mense met koffietafels kan hierdie een ook gladnie skade doen nie.

 

Dis tog so jammer ek het nie ’n koffietafel nie.

Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>