Avatar of Barend

by

.

August 17, 2012 in Uncategorized

Ek hou nie van verjaarsdae nie. Ek weet nie of is dit my KoenKoen bloed of wat nie, maar iets in my wese, iets in my gees, skop vas teen hierdie ding van die viering van verjaarsdae. Ek leer maar nog om myself nie té erg te kritiseer in die lewe nie, maar dit is asof mens sommer net wéét dat dié ding hou verband met die ‘heidense’ streep in jou. Jy kan nie help om te wonder of dit nie alles verband hou met die feit dat jy die twyfelaar is wat jy ís nie. Of dalk hou dit meer verband met my Germaanse bloed. Ek sal nie weet nie. Al wat ek weet is ek hou nie van verjaarsdae nie.

 

Vir my is die viering van Jesus se verjaarsdag eintlik al erg genoeg. Die ding waaroor ek altyd maar altyd die meeste oor wonder is, het Jesus ooit sélf Sy eie verjaarsdag gevier? En al my informele navorsing oor die saak toon vir my net een ding, en dit is néé – Die kans dat Jesus verjaarsdae gevier het is baie skraal. Die lewe was kort en hard in antieke Israel. Verjaarsdag was nie eintlik iets waaraan jy erg gedink het nie. Die gebruik van Jode om ’n groot paartie te hou op die ouderdom van 12, so het ek al gehoor, het eers laaaaaaank nadat Jesus geleef het ontstaan.

 

Maar óns vier Jesus se ‘verjaarsdag’. Jesus het waarskynlik sélf dit nie gevier nie. Jesus sou potensieel dit vreemd vind dat daar mense is wat Sý verjaarsdag vier en dit nogal só spandabelrig. Maar daar het jy dit.

 

En asof dit nie erg genoeg is dat ons Jesus se verjaarsdag vier nie, vier sommige mense tot glads Barend van der Merwe se verjaarsdag óók. Dit is totale malligheid.

 

En die ergste is hierdie dag is nog nie verby nie. Maar dinges, ek kan dit nie help nie. Ek is maar net ’n man, en ek het al gelees ons manne is van nature aandagsoekers. Ons laaik dit erg kwaai glo as ons ego’s bietjie gestreel word of as ons aandag trek selfs al ontken ons dat ons dit geniet. En dis waarskynlik dáárom dat selfs ék geroer word deur mense wat aan my dink. Ek wil gevolglik net die volgende bedankings maak. Baie dankie aan die volgende vir al hulle goeie wense:

 

1. Sunshine Video vir die teksboodskap. Anders as sómmige mense hou julle by standaard kantoorure.

2. Die SANBS. Júlle boodskap is nogstééds elke jaar dieselfde naamlik ‘Jy is ouer as wat jy was maar jonger as wat jy ooit sal wees’. Dankie vir die herinnering dat ek oud word, julle is duidelik nie ál mense wat verheug is oor die saak nie.

3.  My eks. Nie nét vir die goeie wense nie, sommer vir álles. Want ten spyte daarvan dat ek ingestem om jou ‘vriend’ te bly het ek maar ’n redelike onambisieuse ‘vriend’ van jou geword en tog het jy dit so aanvaar en verwyt jy my nie daarvoor nie. Baie baie dankie.

4. Alle familie vir die mooi wense. Dankie.

5. Alle ander mense wat vandag aan my gedink het. Dankie.

 

Baie dankie

 

Barend van der Merwe

Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>