.
August 16, 2012 in Uncategorized
Oei my blog is maar dikwels my plek waarheen ek kom om gal te kom braak. Dit is my shrink seker maar. Net ’n baie goedkoop shrink. En ek het eintlik beplan om oor iets heeltemal anders as godsdiens te skryf. Maar soos die lewe is, onvoorspelbaar, so is my gemoed ook maar. En ek is vandag bietjie bitter. Ek is bitter want ek loop my vas in Moslem mense en wat ek sien en beleef verskil hemelsbreed van al die haat en verdagmakery waarmee mens so dikwels te doen kry.
Ek wonder of daardie Christen broers en susters van my wat dikwels so inklim onder die Islam, of hulle nie ooit skuldig voel wanneer mense vermoor word oor hulle geloof nie. Ek weet ek sou. Ek het op dieselfde manier skuldig begin voel omdat ek gays dikwels beledig het. En ons het mos dinge soos korrektiewe verkragting en sulke dinge hier in Suid-Afrika. Jy kan mos ’n moffie reg donner. Of jy kan hom reg bid, en die vroue, so glo sommige mense mos, kan ‘reg verkrag’ word.
En so versprei ons tog soms te graag valshede en haat oor andere. Ons mense van die kerk. Asof die Bybel nie ook sy wreedheid bevat nie. Ons vergeet gerieflik waar ons geloof vandaan kom. Ons lees die Tora en noem hom net die ‘ou Testament’. En wat maak dit saak dat die antieke Jode gaan besluit het om uit ’n hele panteon van gode die God van oorlog te begin aanbid? Wie gee om? Asof die Bybel nie sy dele het wat gewelddadig is nie, asof Jesus nooit ooit verklaar het dat Hy oorlog bring nie, só besig is ons mos om alles en almal rondom ons swart te smeer en te beledig…
En hoe graag sonder ons nie ‘wrede Islamitiese’ state uit nie? Asof álle Islamitiese state dieselfde is. Asof die VSA – ’n Christelike land, so wonderlik is. Asof daar geen wapens aan rebelle gegee word nie. Asof NAVO nog nooit vroue en kinders doodgeskiet het nie. Asof die ‘Weste’ altyd vooruitgang bring. Asof daar nooit kruistogte was nie. Asof daar nooit ’n heksejag in die middeleeue was nie…
En dan sit ons agteroor en ons verklaar selfvoldaan: Christenmense is goeie mense. Christene is vreedsame mense. So asof ons nog nét die bergprediking gelees het en nie veel meer as dit nie.
Dit is sulke tye wat ek lus is en hou op om my Bybel en my Qur’an te lees en lees maar nét my Grondwet. Ja die Grondwet maak voorsiening daarvoor dat daar teen my en my kinders (as ek ooit sal kry) gediskrimineer kan word op grond van die kleur van ons velle, maar ten minste juig onse Grondwet nie as daar baba’s is wie se koppe stukkend geslaan word nie.
Maar wat, ek praat verniet oor hierdie saak. Ek blaas maar net bietjie stoom af hier want die feite spreek eintlik vanself. Elke liewe dag leef duisende Moslems en Christene in vrede saam in hierdie land. Dit is maar uiteindelik slegs ’n klein bendetjie wat hulself nie kan gedra nie en wat verkies om hulle haat te versprei in die naam van Jesus en God.

Recent Comments