Crazy Mal – Dillon Lerm
August 15, 2012 in Uncategorized
Die interessantste ding vir my toe ek Dillon Lerm se album ‘Crazy Mal’ begin draai, is al die lekker sterk kitaarklanke daarop. Ek het jare gelede, sal ek sê, ‘crazy mal’ geraak oor daardie tipe klank. En ek het altyd geweet ek sal dit nooit ooit heeltemal regtigwaar kan verleer nie. En Lerm, tja, hy span dit alles lekker kreatief in. Maar…
Daar was nóg iets wat my verras het vandag aan hierdie, wat sal mens dit noem, ‘produk’. Dit is die feit dat daar ook ’n DVD deel van die hele ding is. Ek het gedink dis net ’n musiekskyf. Die DVD-skyf bevat ’n musiekvideo van die lied ‘Emma’s song. Die video is interessant, bietjie vreemde einde wat my betref, maar ek sou dit as ’n mooi video beskryf met kleurryke natuurtonele.
Nou ja Dillon Lerm het ’n interessante stem. Ek hou nogal daarvan.
Maar…
Ek het hierdie CD met komplimente danksy die gawe mense van Rapport. En hierdie Dillon Lerm man. Hy het baie dinge, sal ek sê, ‘going’ vir hom. Maar ek loop nou draaie.
Net ’n paar régtige vreemde dinge. Ek vind dit vreemd dat mens, wanneer jy jou Afrikaans lekker meng met Engelse woorde, en jy skryf dit uit, dat jy vir sommige Engelse woorde ‘aanhalingstekentjies’ sal gebruik en vir ander nie. Hoekom is ‘song’, ‘proper’ en ‘loose ends’ in aanhalingstekens, maar ‘menatlly’ en ‘prepared’ is daarsonder. O.k., ek weet dit is nét ’n CD-boekie. Maar nogtans. Ek wonder. En as ék wonder gaan daar ander mense wees wat óók wonder. Ek weet sulke dinge. Mens plaas tog dinge in ‘aanhalingstekens’ om ’n spesifieke iets daarmee te probeer sê dan nie? En wat sê Lerm met sy sommige Engelse woorde in aanhalings en andere daarsonder?
’n Ander ding. Snit nommer twee met die titel ‘La di di’. Dit is geskryf op die wysie van Achy Breaky Heart en waarlik, die oorspronklike lied is baie, baie meer interessant. Jy kry liedere wat skelm skelm gebaseer is op Achy Breaky Heart. Liedere soos ‘Rooi rok bokkie’. Maar Lerm se lied is onbeskaamd die lied wat bekend gemaak is deur Billy Ray Cyrus. Dit het nou net kommin Afrikaanse woorde.
Hierdie ding van oninteressant wees, dit kenmerk vir my ongelukkig die grootste gedeelte van Lerm se album. Want dit wat hy met Achy Breaky Heart doen, doen hy ook eintlik maar met die openingsnit ‘Baby Makes Her Blue Jeans Talk’. Hier is byvoorbeeld ’n reël uit die titelsnit van die album, ‘Crazy mal’:
“Baby ek’s crazy mal verlief op jou”
Ek dink hierdie reël dien as ’n goeie mikrokosmos van die hele album. Maar dan moet ek net bysê, ek dink dit kan baie suksesvol wees hierdie album. Die feit dat ek nie gek is daaroor nie beteken nie veel nie. Hierdie is beslis nie musiek vir ’n Woensdagmiddag nie. Dit is vir Vrydagaand.
Vir my eindig die album baie beter as wat dit begin. So is daar byvoorbeeld ‘Emma’s song’. ‘Emma’s song’ is, sy titel ten spyt, seker amper die enigste Afrikaanse lied op hierdie CD wat regdeur die hele snit uit keurige Afrikaans bestaan. Dit is ’n roerende lied wat Lerm self geskryf het by die heengaan van een van sy geliefdes. Ek dink hy verdien ’n klop op die skouer vir hierdie een.
En dan die heel laaste lied, ‘If My World Stopped Turning’. Ag, dit is eintlik maar doodgewoon. Nie veel daaraan nie. Ek dink dit is grootliks al die vreemde musiek wat dit voorafgaan wat maak dat mens hierdie een sommer wil waardeer. Sommer méér waardering daarvoor kry as wat dit seker verdien. Maar in elk geval.
Ek wil net nog een opmerking maak oor Dillon Lerm se album ‘Crazy Mal’ voordat ek vir ewig daarvan gaan probeer vergeet. Vir dié doel keer ek terug na wat geskryf staan in die ‘boekie’. Ek dink baie mense gaan nie hou van hoe Lerm sy Afrikaans met Engels meng nie, maar laat ek net sê, ek dink die man raak heel inspirerend in die deeltjie wat hy geskryf het. Sy vreemde taalgebruik kan nie eens veel afbreek doen aan die feit dat hy inspirerend kan raak nie. So, hier’s wat ek dink: Ek dink hierdie Dillon Lerm man het besondere skryf én singtalente. Maar ai, ek kan nou ongelukkig nie sê ek is sélf ‘Crazy Mal’ nie. Veral nie oor hierdie album nie. Inteendeel.

Recent Comments