Avatar of Barend

by

By die lees van Armstrong se ‘History of God’

August 1, 2012 in Uncategorized

Ek het onlangs vir die heel eerste keer daarin geslaag om Karen Armstrong se boek ‘A history of God from Abraham to the Present: the 4000-year Qeust for God’ van hoek tot kant deur te lees. Ek is elke keer oorweldig as ek met hierdie boek te doen kry weens een besondere eienskap van hierdie boek, en dit is die hoeveelheid studie wat in hierdie werk ingegaan het. Dit is vir my elke keer opnuut verstommend.

 

Armstrong se boek is eintlik maar niks anders nie as ’n studie in vergelykende godsdiens. Sy vergelyk verskeie godsdienste met hulle talle tradisies en denkers met mekaar. Die hooffokus is die Judaïsme, die Christelike geloof en die Islam maar daar word ook telkens verwys na ander geloofsisteme soos onder andere Boeddhisme en Hindoeïsme.

 

Wat my veral beïndruk is Armstrong se kennis van die Islam en die Islamitiese filosowe en denkers en als wat daarmee gepaard gaan.

 

Van besondere belang vir my was alles wat daar geskryf word oor die Bybel en veral die Tora. Dit is mos nou weer so hele omstredenheid en ongeag wat jou eie gevoel en/of mening oor die saak is, die kans is redelik goed dat jy jou in ongemaklike situasies gaan bevind. Dit gaan maar net afhang van in watter mens(e) se geselskap jy jou bevind wat die graad gaan wees. En dit gaan ook nie eens soseer oor verskille nie. Dit gaan baie meer oor hóé verskille gehanteer word. Baie meer.

 

Party mense gaan jou uitlag en verwerp as jy sê jy glo daar was regtig ’n mens soos Adam en dat daar ’n tuin van Eden was waar Eva van die verbode vrugte geneem het.

 

Ander mense weer, gaan jou verwerp as jy sê jy twyfel en/of jy glo dit nie.

 

Vir my is albei ewe erg. Die heel ergste verraad is volgens my beslis die feit dat ons as gelowiges dikwels nie simpatie het met twyfelaars nie. Ek kan nie verstaan dat mens nie vir andere ruimte gun om te twyfel en te wonder nie. Dit is betreurenswaardig en ek wonder of die Here dit so sal wil he dat mense verwerp word omdat hulle dit tog net gewaag het om mens te wees en te twyfel maar miskien moet ek nie hier begin spekuleer oor wat in God se gedagtes aangaan nie. Daar is mense wat baie meer gesout is in dié saak as ek.

 

In elk geval. Laat ek net twee dinge sê wat vir my interessant is en wat my opgeval het. Volgens Armstrong, en indien ek haar nie verkeerd verstaan het nie, was die antieke Jode nie juis mense wat die verhaal van Adam en Eva in Genesis letterlik vertolk het nie. Volgens Armstrong was dit geensins die skrywers van Genesis se bedoeling dat hierdie verhale as letterlike gebeure gelees moet word nie. Dit het ’n bedoeling gehad dat dit iets moet vertel van die verhouding tussen God en mens, veel meer as dat dit iets oor die skepping van die aarde moes vertel. Hoe waar Armstrong se beweringe is weet ek nie, maar dit is interessant vir my gewees om dit te lees.

 

Maar méér interessant is miskien die bewering dat een van die heel heel grootste kerkvaders van alle tye, óók nie die verhaal van ‘Adam en Eva’ as letterlike geskiedenis gelees het nie. Hierdie kerkvader was verantwoordelik vir van die belangrikste denkrigtings binne die kerk en sy nalatenskap word vandag nog gevier deur sowel Katolieke as Protestante regoor die aarbol. Hierdie man se naam was sint Augustinus.

 

Die leer van die drie-eenheid, wat in eie reg net so dikwels tot verskille en debatte binne die kerk lei, was nog nie so stewig gevestig in die tyd van Augustinus soos wat dit was later van tyd was nie. Augustinus was, soos ek verstaan, ’n groot kampvegter vir die idee van die drie-eenheid. Ek noem hierdie ding om te wys hoe groot figuur hy was. Dat ’n man van sy invloed en statuur na bewering nie die verhaal van ‘Adam en Eva’ as letterlike gebeure gesien het nie is vir my fassinerend.

 

Dit is verstommend hoe idees oor God oor al die eeue gekom, gegaan en dikwels wéér teruggekom het. Ongelukkig is dit bitter moeilik om alles wat Armstrong skryf behoorlik te absorbeer. Dit is net eenvoudig te veel. Te veel detail. Te veel moeilike name. Te veel komplekse idees. Maar wat ’n fassinerende boek is hierdie darem nie.

 

Dit is vir my duidelik dat mense baie, uiters versigtig moet wees wanneer hulle oor God praat. Is God waarlik kenbaar? Is dit moontlik om oor ‘God’ te praat in menslike taal? Ek wonder en ek dink dit is ’n baie bemagtigende boek hierdie. Dit leer jou nie ‘die waarheid’ of enige so iets nie. Dit probeer nie eens nie. Dit is nie daai tipe boek nie en miskien is dit vir daai einste rede ekstra betowerend. Dit wys jou eerder hoe baie mense baklei het oor die eeue om aan dit wat húlle as ‘die waarheid’ beskou het gesag te gee.

Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>