Viva Andriëtte viva!
August 30, 2012 in Uncategorized
Ai die Andriëtte Norman, sy is ’n dame so na aan my se hart. Ek kan nou ongelukkig nie sê ek kén haar nie. Ek kan selfs nie eens sê dat ek veel weet van haar nie. Ek kan darem sê ek wéét van haar, al is dit dan nou ook nie veel nie.
Die details interesseer my in elk geval nie. Sy is ’n sanger. ’n Popsanger. En dit is al amper genoeg om te weet. Sy het deelgeneem aan die baie bekende Idols-kompetisie, waar sy presteer het. Dis al wat ek weet. Ek verbeel my ek het haar al ’n keer of wat gesien sing op die TV op ‘Huisgenoot Skouspel’ of ‘Die Grootste Afrikaanse musiek show’ of een van hierdie soort saamtrekke van populêre tipe sangers.
Dit is ongelukkig nié omdat sy sing dat ek vol waardering is nie. Dit gaan vir my oor alles wat onlangs in die media verskyn het. Van hoe Andriëtte by haar doelgewig gehou kry.
Volgens die berig in Sarie, word Andriëtte aangehaal waar sy verklaar dat “Ek bly weg van brood en suiker en eet ook nie saans enige stysels soos rys of brood nie. Groente en ‘maer’ vleis is maar die antwoord.”
Nou, ek wil net graag een ding hierop sê en dit is: Amen!
As ek president Zuma was dan het ek terstond die orde van Mapungubwe aan hierdie kampvegter vir ’n gesonder lewensstyl toegeken.
My frustrasies is baie in die lewe. Mense is oningelig. En dan soek hulle verskonings. En dit terwyl jy sekere dinge kan doen wat jou lewe handomkeer gaan verander.
Ek sien die anderdag by familie. Nee hulle eet nou net ‘low fat’ en ‘weigh less’ en die en daai maermaak ding. Daar is byvoorbeeld ’n baie bekende kaassmeer produk op die mark wat tot glads ’n ‘maerword’ weergawe het. Nou onthou ek ek het net anderdag daardie einste produk se standaard weergawe opgetel in die supermark en gekyk na die voedingswaarde. En dit het meer as 25% vet bevat. MEER AS 25% VAN HIERDIE ‘KAAS’ WAT JY EET IS SUIWER VET. Jy betaal met ander woorde vir 25% van jou ‘kaassmeer’, betaal jy vir vet.
Wat gaan die ‘low fat’ weergawe behels? 20%, 15%? Dit bly nog net so erg.
Weigh less produkte is ’n geldmaak gimmick. Die geheim is ’n gesonder lewe. En dit beteken kopskuiwe. Dit beteken jy moet net aanpassings maak. Eenvoudige aanpassings wat jou en al die mense rondom jou se lewe sal verander,.
Ek wens ons kan ontslae raak van rietsuiker. Daar is mense wat tog so maklik sal sê nee, ek het die of daai probleem. Maar as jy sien dan drink hulle al weer koffie met ’n paar lepels suiker in. Of dis hier en daar en dit en dat met oral bietjies bietjies verskuilde suiker in. Die antwoord is – raak ontslae van rietsuiker. Moet die goed nie koop nie. Rietsuiker is ’n moordenaar. Drink liefs jou koffie swart sonder suiker. Dit is hoe die goed bedoel is om gedrink te word. En dieselfde geld vir Rooibos. Dit mag sleg proe aan die begin. Maar jy sal dit gou gewoond raak en kort voor lank sal jy, soos ek deesdae, gril vir koffie met suiker en melk in.
En dan, die ding van vleis. Hoekom is dit so dat mense vleis se prys vir vet betaal? Vet is goedkoop. Dit kos niks in vergelyking met vleis se prys nie. As dit vet is wat jy wil eet, vra die slagter vir suiwer vet. Jy sal sien die prys van vet is baie baie minder as die prys van vleis. Hoekom dan wil vleissnitte gaan staan en koop wat klomp vet in het en veral ook sigbare vet.
Ek het al dikwels oor hierdie dinge met mense gepraat, maar dan word sommige van hulle sommer rebels. Soos tieners wat nie wil huiswerk doen nie. En al hoop wat vir ons oorbly, al wat sommige mense dalk, met die klem op dálk, sal verhoed om sommer lepels skoon botter te eet, is mense soos Andriëtte.
Hierdie Andriëtte Norman, sy hoort nie op die singverhoog nie. Ons het haar nodig op die politieke verhoog. Ek dink sy moet in die kabinet opgeneem word. Die kabinet is juis nou so enorm, hoeveel ministers is daar? 42? As ek nie verkeerd onthou nie is dit 42. Nog een kan tog nie skade doen nie! Veral nie as sy mense kan leer om beter te eet en gesonder te leef nie. Dit sal ons land enorme bedrae geld spaar. Ek meen, minister Motsoaledi probeer baie hard. Hy probeer sy bes gee hom dit. Maar ek dink die kabinet kan doen met iemand soos me. Norman.

Recent Comments