.
July 27, 2012 in Uncategorized
Nou ja, ek het anderdag amper liries begint raak oor Tim du Plessis se skryfwerk. En hoe belangrik die dinge is wat hy sê en hoe BAIE ek met hom saamstem.
Laat ek dit maar erken, ek raak bitter. Ek raak bitter as ek lees hoe mense trap op die rol van swart Suid-Afrikaners in die ontwikkeling van my moedertaal. Maar ek weier om toe te laat dat hierdie dinge my onderkry. Ek weier. Inteendeel. Hierdie dinge motiveer my net meer en meer.
As ons aanhou gaan ontken en ontken wat die rol van swart mense in die algemeen en Afrika in die besonder op Afrikaans gehad het, dan gaan dit miskien beter wees as ons maar ophou om ons taal ‘Afrikaans’ te noem. Dan moet ons dit liewer maar Nederlands noem. Daar is genoeg rede dan maar. Een van die baie bekende bloggers op die nuus24 netwerk, i90Christian, het hierdie einste ding al in die verlede geredeneer – naamlik dat Afrikaans eintlik niks anders as ’n tipe Nederlands is nie.
Ek vind dit verstommend dat sommige mense skynbaar glo dat die Nederlanders wat hulself hier in die Kaap kom vestig maar grootliks so vanself begin ‘Afrikaans’ praat het. Die bewering dat die oorgang van ‘Nederlands’ na ‘Afrikaans’ waarlik só stadig was as wat beweer word verwerp ek. Dit was geen evolusionêre proses nie. Ek glo Afrikaans het ontstaan uit die interaksie tussen die verskillende kulture. Dit was ’n onderhandelde proses. En dit het nie oornag gebeur nie maar dit het ook nou nie juis eeue geneem nie.
Ag, eintlik het ek nie regtig ’n probleem met wát Johannes Comestor sê nie. Dit gaan oor die maniér waarop hy dit doen. Almal weet die Afrikaans wat ‘witmense’ praat en die Afrikaans wat ‘kleurlinge’ praat verskil, maar om sommer net te ontken dat die een groep se taal ’n vorm van ‘Afrikaans’ is… Om dit ‘Kaaps’ te noem. Ai, ek weet darem nie.
En wanneer is dit dan nou ‘Kaaps’ en wanneer is dit dan nou ‘Afrikaans’? O ja, ek kan raai, dit hang seker maar af of dit uit die bek van ’n ‘witmens’ kom en of dit uit die van ’n ‘kleurling’ kom.
Belaglik.
Dit was politieke mag wat bepaal het wat ‘standaard Afrikaans’ is. Dit was niks anders nie. Die komitees wat besluit het wat is ‘standaard Afrikaans’ was leliewit. Net soos vandag was daar toé ook mense wat die rol van swart Suid-Afrikaners in die ontstaan van Afrikaans ontken het – dit was net op ’n baie groter skaal.
Ek stem saam met Johannes dat moedertaalonderrig die beste tipe onderrig is wat daar is. Maar ek verwerp hierdie ding van die ontkenning van swartmense en slawe se rol in die ontstaan van Afrikaans.
Die oorgrote meerderheid mense aan die Kaap was spoedig ‘swart’ en ‘bruin’. En die ekonomie aan die Kaap was só gestruktureer om éérs Europa en dán blankes aan die Kaap te dien. Die ‘swart’ en ‘bruin’ mense moes maar noodgedwonge inval om te oorleef. Hulle was onderdruk en uitgebuit vir ekonomiese gewin. Dit was ’n samelewing wat gestruktureerd was met die oog op uitbuiting en misbruik. En deel daarvan was die gebruik om die slaaf se kultuur te vernietig. Want slaaf was sub-mens. Hy het nie eens sy oorspronklike naam gehou nie. Hy is dikwels sommer genoem na die maand waarin hy of sy bekom is. Januarie. Of Februarie. Of so iets.
Dit is in sulke omstandighede geen wonder dat slegs om en by 10% van ‘hulle’ (slawe en swart mense) woordeskat deel geword het van wat uiteindelik ‘Afrikaans’ sou word nie. Alles wat hulle eers was is dan tog verwerp en verag. Hulle hele wese is sommer net geïgnoreer. Hulle gode is as ‘heidens’ gesien. Die engiste God wat erken was, was die van die setlaars. Nederlands moes die ‘minderes’ dus Nederlands. Hulle het geen sê gehad nie. Nie in wat ‘taal’ is nie. Nie in wat ‘beskaaf’ is nie. Nie in wat ‘god’ is nie. Maar in die hele gesukkel moes die Nederlanders ook maar uiteindelik, noodgedwonge, aanpas by die onderdrukte mense. Dit was alles in belang van die god van geld.
En die uiteinde was ‘Afrikaans’.
Ek glo dat dit uiteindelik eintlik die ‘witmense’ was wat ‘Afrikaans’ by die swart en bruinmense oorgeneem het. Die feit van die saak is dat Afrikaans vir lank as ’n minderwaardige ‘taal’ beskou was. En die rede hiervoor was dat ‘witmense’ in hulle dag-tot-dag bestaan hierdie ‘Cape dutch’ met die ‘heidene’ gepraat het, móés gepraat het. Vir geld sien. Vir die ekonomie. En omdat hulle uiteindelik baie meer tyd saam met die slaaf spandeer het as in die pastorie, het dié vreemde tipe ‘Nederlands’ ook uiteindelik húlle manier van praat geword. Maar weereens, vir die saak van geld moes dit ontken word dat die ‘swartes’ enige rol in die ontstaan van ‘Afrikaans’ gehad het, verál toe ‘Afrikaans’ ’n nuttige instrument begin word het in die vergryging van politieke mag.
Geleerde mense soos bv. generaal Hertzog en Smuts het tot selfs in die 20ste eeu nog Nederlands in toesprake gepraat, en dominees het in Nederlands gepredik en geveg teen Afrikaans.
En om waarlik trots te wees op Afrikaans was iets wat witmense eers gedurende die 20ste eeu op groot skaal gedoen het. O.k. sommige was reeds teen die 19de eeu trots op ‘Afrikaans’. Maar vir baie het daardie kopskuif eers teen die 20ste eeu gekom, en ook met heelwat moeite.
Wie het tipies in die ‘kombuis’ gewerk? Dink maar daaroor. En dink dan ook daaroor dat Afrikaans ’n ‘kombuistaal’ genoem was.
Ek dink ons moet besluit. Ons moet besluit of ons ‘Afrikaans’ wil wees en of ons ‘Nederlands’ wil wees. Want as ons eersgenoemde wil wees, dan moet ons ophou om die invloed wat ‘Afrika’ op ‘Afrikaans’ gehad het te ontken.
Wat ek eintlik argumenteer is dat ‘Afrikaans’ aan niemand behoort nie. Afrikaans behoort aan almal. En dit behoort meer spesifiek aan wie ook al dit praat, ongeag wat hulle ras is of nié is nie.

Recent Comments