Avatar of Barend

by

Met Londen op die horison

July 24, 2012 in Uncategorized

Hierdie mense wat so anti-sport is, dis vir my mooi. Dis vir my reg. Dit is hoe dit hoort. Elke mens is ’n unieke wese. Elke mens het die keuse of hulle hou van sport of nie. En baie baie mense hou niks van sport nie. Dit is vir my dikwels asof sommige sportmal mense geensins van hierdie feit bewus is nie. Asof hulle dink almal is maar soos húlle, wat op TV-skerms skree en pienk rugbytruie in die publiek dra of blou-bul knaters aan die agterkant van hulle bakkies vasmaak (met die horings natuurlik voor).

 

En dan elke nou en dan, dan kry jy mense wat uit hierdie sport-droom wakker word en dan die hele wêreld daar anderkant (buitekant) die sportveld ontdek. Dikwels ontwikkel sulke mense dan ’n weersin in sport. Hulle is ‘só nie meer into dit nie’.

 

Maar ek is nie een van daardie mense nie. Soos baie mense het ek ook iewers langs die pad my groot aptyt vir sport verloor. Ek weet nie presies waar nie, maar ek het. Dit was maar iewers so tussen kamp staaldraad en die Proteas se voortgesette geploeter (ja, ek is bewus Graeme en sy manne het die mees onlangse toets gewen, dis nie waarna ek verwys nie).

 

Op hierdie einste oomblik is ons in ’n tyd waar die fiksasie op sport amper so verspot is as wat mens moontlik kan kry (met die uitsondering van die sokker wêreldbeker). Dit was in die fietse, die rugby. Dis in die afwagting op die PSL, dis in Amla se rekord van 311(?) lopies en Ernie Els se beker. En dan is daar natuurlik die ou grote, die Olimpiese Spele…

 

Dit is in hierdie tye niks vreemd dat daar mense is wat al meer en meer ongemaklik raak nie. En dinge begin vra soos: ‘het sport nie ’n god geword nie?’ Is ons nie té sportmal nie? Wat is gesond en wat is nie?

 

Op RSG se program ‘praatsaam’ is daar vandag (24 Julie), baie gepraat oor sport en of dit ’n ‘goeie’ ding of ’n ‘slegte’ ding is. En daar is vertel van hoe die arme sportmanne tog so bitterlik swaarkry in die lewe. Hoe hulle dikwels hulle studies op universiteit moet opoffer om agter bolle aan te hol. Maar talle mense wat deelgeneem het aan die program het geen simpatie getoon met sportmense nie. Dis hulle keuse om te speel of nie, is daar gesê.

 

Ai, ek het sommer nostalgies geraak toe ek hierdie dinge hoor. Nou kyk, daar is potensieel mense wat nog nooit persoonlik met professionele sportmense te doen gekry het nie. Maar as jy ooit besluit om aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit te studeer, dan is daar ’n goeie kans dat jy met van hulle te doen sal kry. Baie van dit wat daar op RSG oor sportmense gesê word is waar. Hulle is dikwels mense wat ’n amperse obsessie met hulleself het (natuurlik is daar ENORME uitsonderings). Maar dit is dikwels so. ’n Talentvolle krieketspeler het dit eendag so aan my verduidelik. Hy het gesê daardie dinge van dink hulle is beter as almal, hulle móét so wees. Dit is daardie houding wat hulle help op die sportveld. En wat goed is vir die prestasie word jou god, want dit is wat jou aan die gang hou. Dit is wat die aandag op jou vestig en uiteindelik die geld laat inrol.

 

So is dit dan dikwels met sommige van hierdie sportmense. Hulle sal jou nie eens teruggroet as jy hulle groet nie. Eintlik is jy ’n non-entity vir sommige van hulle. Jy is eintlik maar deel van die landskap. Niks uniek nie. Een van die bekende uitdrukkings wat ek ’n sportman al hoor kwytraak het is: “I’d rather be a has-been than a never-been”. Ag man, dit is legendaries en beter kan ek daardie gees nie self in enige woorde (let alone enige Afrikaans) formuleer nie.

 

Eendag het een van hierdie sportmanne my egter probeer omkoop om sy opstel vir hom te skryf. Dit het eers begin by dat hy my lof begin besing het – jislaaik, jy ken jou ‘terms’ man. Toe wou hy he dat ek hom help om hierdie ‘terms’ te verstaan. Dit het ek met liefde probeer doen maar hy het meer gepraat as ek en duidelik gesukkel om enige iets wat ek gesê het te absorbeer. Na een so ’n lang futiele bespreking oor ‘feminisme’ het hy besluit feminisme ‘is mos daai van vroumense wat mans haat’. Ek het toe opgegee en vriendelik aanstaltes begin maak, en toe kom die versoek. Hoorie, Barend, sal jy nie my taak vir my doen nie? Ek het dadelik besluit ek gaan weier. Dit gaan nie werk nie. Dis ’n dom idee. Ek het ook ’n lewe al is ek nie op pad na die Springbokspan nie. Die lektor sal in elk geval dadelik my skryfstyl identifiseer en ’n rot ruik. Maar ek weier toe nie op die daad nie. Ek is nuuskierig oor hierdie hele doen-my-taak-vir-my versoek. En toe kom die aanbod – ek gee jou een-honderd Suid-Afrikaanse rand…

 

Nou, hierdie dinge het wel ’n tyd gelede gebeur, maar dit was nie in die tyd wat jy ’n klein karretjie met R100 kan koop, of ’n deposito vir ’n erfie langs die rivier of by die see nie. Om die waarheid te sê jy kon miskien so 12 of so liter petrol daarmee gekoop het daai tyd…

 

Man, dit is so waar wat mense sê van sport. Dit is waar, maar dit is nie absoluut waar nie. Iewers tussen die afskop en die eindfluitjie gaan daar soms van daardie mooi waardes verlore. Daardie waardes wat ons graag met sport assosieer. Dinge soos spanwerk. Dissipline. Uithoudingsvermoë. Sportmanskap. Kameraadskap. Ag, hoe kan ek dit verduidelik? Mense wat weet wat ek bedoel sal weet wat ek bedoel hier. Al daardie mooi dinge. Dit raak iewers soms verlore.

 

Nelson Mandela, daardie man vir wie die hele wêreld onlangs hulle fiksasie met sport vir ’n wyle verruil het om vir 67 minute welsynswerk te doen, die voormalige president van Suid-Afrika, skryf in sy legendariese boek ‘Lang pad na vryheid’ hoe sy perspektief op die boosaardige tronkbewaarders begin verander het die dag toe hy begin besef het dat hulle nie eintlik bose Afrikaners is nie, maar dat hulle doodgewone mense is en dat hulle in ’n sisteem vasgevang sit wat daardie boosheid beloon.

 

So is dit met sportmense. Hulle word beloon vir hulle pogings om kitsroem na te jaag. Om baie dinge, insluitend baie van hulle mooi waardes, op te offer in hulle gejaag na sukses op die sportveld. Dit is ons wat hierdie dinge beloon, ons, die sportgeesdriftiges wat so besete kan raak oor sportprestasies. Elke keer as ons regskuif voor daardie volgende belangrike ‘game’. Óns skep die platform vir hulle glorie, en, daarmee saam, ook die afgronde waarin hulle dikwels aftuimel.

 

Maar ek betwis die stelling dat sport ’n slegte ding is. Ek betwis dit tot my graf toe en selfs beyond. Dit is nie die sport wat ‘sleg’ is nie. Dit is maar ons mense wat soms die ‘sleg’ laat uitkom. Eintlik is sport een van die mees ongelooflikste verskynsels wat daar is. Andre P. Brink skryf iewers oor sport, veral rugby (ek dink dit is in sy boek ‘vurk in die pad’). En hy skryf daar oor hoe sport so goed soos die beste drama kan wees. En Brink is juis mos ’n kenner van daardie genre. Die Nobelpryswenner biskop Desmond Tutu is ’n ander goeie voorbeeld. Dié is bekend daarvoor hoe hy Suid-Afrika se sportspanne aanpor tot oorwinnings en self sommer deel raak van die aksie op die paviljoen. Tutu weet hoe wonderlik sport is. Hy wéét.

 

Sport verander mense se lewens. Dit gee mense hoop. Dit inspireer. Dat daar ’n donker kant aan sport is moet en mag ons nooit ontken nie. Dit sal altyd daar wees. Maar mens maak ’n fout as jy jouself blind staar teen óf die donker óf die lig.

 

 

 

*********************************

 

 

 

 

Hier by die Barend van der Mewe blog wil ons sommer ook van die geleentheid gebruik maak om vir span Suid-Afrika alles van die beste toe te wens vir Londen 2012.

Leave a reply

Your email address will not be published.


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>