PIERRE SPIES-100 NIE UIT NIE

May 17, 2013 in SUPERRUGBY

 

 

 

 

 

Foto: Speedstickmedia

Ek staan langs die blok van ‘n man en kyk na sy bo-arms…dis so dik soos my bobeen, dink ek.

“Hoe lank is jy?, vra ek.

“Een-nege-vier”, se hy en ek sit dit om in voete en duime want ek is nog uit die oude doos.

“En hoeveel weeg jy?”

“As ek vet is 110kg, maar nou 108″.

Kan die man dan ooit vet word, dink ek by myself? Met so ‘n gym roetine in die loslootjie week, kan jy nie ‘n ons optel nie.

“Gee jy om dat ek aangaan terwyl ons praat?”, vra hy sag maar dringend en ek voel soos ‘n indringer in sy wereld.

Pierre Johan Spies, 28 jarige kaptein van die Bulls is werklik die “gentle giant“, ‘n eienskap wat hom bemind maak by baie mense maar ook die eienskap wat, volgens die skuim-om-die-mond ondersteuners van rugby, hom ‘n “softie” gemaak het. Een van die eerste spelers met wie hulle hom graag vergelyk, is die WP/Stormers agtsteman en mede-Springbok, Duane Vermeulen.

Pierre skram nie weg van die gesprek af as Vermeulen genoem word nie en hy weet maar al te goed dat Vermeulen verlede jaar alle kanse aangegryp het om vir die Springbokke te speel.

“Duane is ‘n baie goeie speler, en ek dink die kompetisie tussen ons is gesond. Dit bring die beste in my uit. Ek besef dat ek groot tree het om te gee om vanjaar Heyneke se oog te vang as Bok agtsteman, en ek is net dankbaar dat ek die geleentheid het om hierdie kans te he”.

“Die Pierre Spies op die veld en die een van die veld af”, vra ek, “is hulle dieselfde mens?”.

Hy vat so ‘n rukkie om sy laaste barbell curl met ‘n 30kg gewig te maak en kyk my vierkant in die oe; “ja, ek is- op die veld is dit my werk en ek doen dit voluit, van die veld af is dit my lewe en ek doen dit ook voluit.”

Dis die man van wie Frans Ludeke, hoofafrigter by die Bulls gepraat het as synde ‘n leier te wees, ‘n mens met geloof in die moontlike, ‘n mens met ‘n harde rugbyhart en ‘n skoon lewensreputasie.

By die Bulls, van Heyneke Meyer se tyd af was die kaptein en die hoofafrigter soos broers. Hulle het nog altyd geglo dat die kaptein ‘n verlengstuk van die denke en die persoonlikheid van die hoofafrigter moet wees om die unieke gel tussen spelers en afrigters op en van die veld af te verseker.

Ludeke en Spies vorm so ‘n kombinasie. Nooit in konflik met mekaar in die openbaar nie, al hang Spies se kop na ‘n vrot wedstryd.

Woensdag middag by die aankondiging van die span teen die Highlanders was daar vrae van kollegas aan Ludeke oor Spies.

Ludeke het oor Spies gepraat soos wat bloedbroers dit sal doen.

Ek het geluister na Frans, maar na Pierre gekyk en vir die eerste keer sedert sy kapteinskap in 2012, kon ek persoonlike emosie op sy gesig lees.

Sy oe was nat.

Dit het alles vir Pierre beteken om te weet hy draf die 100e keer vir sy geliefde Blou span uit. Dit het ook beteken dat hy ontsettend dankbaar is dat hy gesond is om in die voetspore van sy pa te kan volg.

Pierre Spies is die middelste “Pierre” in die Spies familie, want pa Pierre het hom die “groot leeu” genoem. Hy noem sy klein Pierre net Pierre.

Dis die man wat onbeskaamd se hy steek sy vinger in die lug op na ‘n drie omdat hy sy Skepper dank vir die pa wat hy gehad het en vir die geleentheid om te kan speel en sy span te kan lei.

Pierre Spies is in my boekies ‘n regte ysterman…

* Pierre speel toevallig in sy 100e wedstryd teen die Highlanders, die span teen wie hy ook sy debuut in 2005 gemaak het. “Daardie dag het die House of Pain in Nieu Seeland vir my nuwe betekenis gekry”, se hy met ‘n skalkse glimlag.

Spies het op vleuel uitgedraf en inderdaad die hele jaar daar gespeel totdat hy deur Wynand Olivier vervang is en Heyneke vir hom gese het dat agtsteman hom baie nader aan die spel sal bring.

Pierre Johan Spies is die 777e Springbok en slegs die vyfde speler in Blou wat sy honderdtal bereik. Hy het in vyftig toetse gespeel en sewe driee aangeteken.

Hy hou die rekord vir die meeste driee gedruk deur ‘n agtsteman (7) en hy het ook die meeste keer as agtseman vir die Springbokke uitgedraf (45).

ONS ROL DIE NIEU SEELANDERS

May 13, 2013 in SUPERRUGBY

 

 

 

 

 

 

Die Suid Afrikaanse span onder aan ons huidige punteleer-die Southern Kings, het Saterdag gewys hoe passie oorneem om wenne te verseker. Met net sewe punte tussen hulle en die Highlanders kort voor die einde van die wedstryd, was daar  bitter min te kies en met die telling op 34-27 het suiwer emosie voor hul tuisskare die uiteindelik die knoop deurgehaak.

‘n Interessante verskynsel is dat daar tot nou toe min lae tellings is in vanjaar se wedstryde. Miskien is die manier waarop die spanne oor die algemeen speel ‘n goeie refleksie van die rede vir die groot tellings. Dit geld vir al drie die lande in die kompetisie.

Om driee te druk beteken dat jy balbesit moet kry en hier doen die Suid Afrikaanse spanne vanjaar besonder goed in beide die skrums en die lynstane. Balbesit op die voorvoet word gereeld verseker.

Die Nieu Seelanders kon nie in die laaste paar jaar beweer dat hulle die oorhand oor ons skrums gekry het nie en net so is ons lynstaanspel teen hulle voortreflik. In die verlede het ons swaar geleef by die afbreekpunte en omkeerbesit het te maklik vir hulle gekom, hoofsaaklik omdat hulle baie vining en nader aan die baldraer bly speel het. Dink maar aan Ritchie Mc Caw se manier om letterlik oor die onkantlyn te speel en sodoende die balbesit vinnig te kry voordat die opposisie ‘n speler daar het om counter rucking te kan afdwing.

Die Australiers doen net so goed om die Nieu Seelanders van balbesit in gebroke spel te beroof, maar soos ons het hulle daarin begin slaag om die balans tussen krag en spoed effektief te meng met goeie resultate vir vinnige omgekeerde besit.

Waar die Sormers verlede jaar die beste verdedigingspan was, het die Cheetahs en die Bulls dit nou reggekry om met vinnige verdedigings- en lynspoed op aanval foute af te dwing.  So word die teenstanders gedwing om onsuksesvolle skoppe onder druk te maak. Die verdedigingspatrone van alle spanne het in die algemeen so verbeter dat daar tussen die drie lande se voorlopers, bitter min te kies is op die gebied. Eweneens het die spanne daarin geslaag om die verdediging vinnig en effektief te maak, dat daar dan meer gapings oopgaan vir middelveld bewegings en dit tot meer driee (en groter tellings) ly. Let veral op die Aussies se akkurate aanvalle en ons eie sterkte in die middelveld; dit het die Nieu Seelanders heeltemal onkant gevang en hulle verhinder om vinnige balbesit om te sit in aanval-iets waarvoor hulle bekend was.

Tans lyk dit na die Bulls wie se kombinasie van aanval en verdediging baie goed uitgewerk is en dat hulle met goeie gevolg hul tradisionele skop- en- storm taktiek met puik agterlynaanvalle afwissel. Natuurlik moet ‘n mens die naam van Morne Steyn noem, want hy dikteer weer soos ‘n generaal en sy korrelpoot is in die kol. Ons sal eers aan die einde van hierdie seisoen die waarde van die man besef nadat hy oorsee vertrek het.

Intussen is die hoop van Suid Afrika gevestig op die Cheetahs en die Bulls om die uitspeelrondtes te haal, maar met ‘n paar plaaslike derbies wat voorle mag daar nog ‘n verassing of twee wees. Die Bulls se tuiswedstryd teen die Highlanders is hul derde laaste tuiswedstryd met nog net die Sharks en die Kings wat op Loftus moet kom kuier. Die Cheetahs speel die Reds en die Blues op hul veld en die Kings en Stormers weg met waarskynlik die beste plaaslike derby wat voorle teen die Bulls in Bloemfontein.

Soos menige kommentator, speler en afrigter dit al uitgespreek het, hierdie is ‘n kompetisie van kanse. As jy dit nie neem nie, kan jy nie wen nie.

Finish en klaar.

WAAR’S ONS NOU…?

May 8, 2013 in SUPERRUGBY

 

 

 

 

 

Die Suid Afrikaanse franchises in die Super reeks wie tans in rondte 12 van 20 die beste kans het om die uitspeelrondtes te maak, is die Bulls en die Cheetahs.

‘n Jaar gelede was die prenjie net mooi omgedraai, want die logwenner in 2012, die Stormers was die span wie die pas aangegee het. Hulle en die Sharks.

Vanjaar loop die beseringspook los rond in die Shark tenk en sal dit waarskynlik ten koste van die span se Superreeks wees. Geen span op hierdie vlak kan met soveel beserings sy wen momentum hou nie. Daar is egter hoop dat Willem Alberts weer reg is en dat Bismarck du Plessis en Butch James gekies kan word vir die tuis kragmeting teen die Bulls op 25 Mei.

Die Cheetahs het daarin geslaag om vanjaar die mees suksesvolste Super toerspan te word en sodoende het hulle die las van die houtlepel afgegooi. In een jaar het hulle die vier spanne teen wie hulle in 2012 verloor het met minder as 10 punte, in 2013 op toer geklop waarvan die Rebels wedstryd die een met die grootste punte verskil is (+18).

‘n Speler van die Cheetahs wie tans die oog vang is Philip van der Walt, wie die geleentheid met albei hande aangryp om agtsteman te speel.

Ashlea Johnson is tans oorsee en van der Walt het verlede jaar nog die nommer 7 trui gedra, maar vanjaar is hy soos ‘n tweede heelagter onder die hoe balle en skep hy ruimte vir die baldraers om uit gebroke spel aan te val. Hy doen ook sy ding in die lynstane en dra self die bal met groot sukses oor die voordeelyn.

Die Stormers is verantwoordelik vir hul eie ondergang; in hul voorbereiding om die beste verdedigingspan te word in die 2012 kompetisie, het hulle weliswaar die minste driee afgestaan. Maar in die proses het hul aanvalspel veel te wense oorgelaat, soos die afgelope naweek se wedstryd teen die Blues bewys het. Met meer as twintig fases op die Blues se doellyn kon hulle nie afrond nie en ‘n mogge-troffe skepskop van Elton Jantjies het nie eens die dwarslat gehaal nie. Dit terwyl Jean de Villiers van sy beste senterlopies opgelewer het vir twee puik driee.

Dit is dus terug tekenbord toe vir die aanvalsplanmakers, maar ek is bevrees dis neusie verby vir ‘n top twee posisie op die log wat op sy beurt beteken geen tuiswedstryde in die uitspeelfases nie. Die beste waarop hulle kan hoop is ‘n top ses posisie en ‘n weg semi- en finale wedstryd maar die Chiefs is egter die enigste span wie dit kon regkry om vanaf die tweede posisie op die log, die kompetise te wen. Die Stormers is beslis nie daar nie.

In die Bulkraal lyk dit goed; geen noemenswaardige beserings nie (Hougaard se chroniese enkelbesering lyk na iets van die verlede) en die bulkalfies van verlede jaar is nou besig om hardebaard te kry.

Hetsy ondersteuner of Bloubul-hater, manne soos Handre Pollard, Jano Vermaak, Wors Greyling, JJ Engelbrecht en Jan Serfontein speel monde stil. Voeg daarby Jurgen Visser en Arno Botha met ‘n Morne Steyn wat weer dikteer, en jy het ‘n span wie die uitspeelrondtes kan maak-op Loftus Versveld.

Die grootse verassing is die afwisseling van die Bulls se spelpatroon, iets wat die getrouste ondersteuner se irritasievlakke in die rooi gehad het. Wurg rugby was nog altyd ‘n deel van die Pretorianers se spelpatroon, maar die teenstanders het eweneens ‘n plan teen dit uitgedink. Met Xander J van Rensburg (hoe prestasie bestuurder), Andre Volsteed (krag en kondisioneringsafrigter) en Victor Matfield (voorspeler en aanvalsafrigter), sing die Bulls nou ‘n ander deuntjie.

Die Super toernooi se kalender vang egter die twee plaaslike voorlopers onkant met internasionale rugby in Junie tot Julie ; die Sharks kry sy sterkte terug en die Stormers kan dalk aan aanvalsplanne werk maar Bulls en Cheetahs lyk of hulle sal piek aan die einde van Mei. Die enigste wenner is Heyneke Meyer wie ‘n groep gekondisioneerde spelers vir die Castle inkomende toere pasella kry.

Laastens, die Kings.

Net soos op skool kan die gif van ontgroening jou  verbygaan as jy byhou, maar as jy begin uitsak tref die pyne jou.

Dis waar hulle nou is.

Maar almal was al daar- so, dis dalk toepaslik om te se “vasbyt en deurbyt”.

Die koring en kaf skei natuurlik…

OM TE LOG OF NIE…DIS DIE VRAAG

May 3, 2013 in SUPERRUGBY

 

 

 

 

 

 

 

 

 

“Ons kyk glad nie wat op die log aangaan nie, ons bepaal ons by ons taak vir die week. Ons sien onsself nie as die gunstelinge vir die Suid Afrikaanse konferensie wenners net omdat ons tans voorloop nie.

“Waar of onwaar?

Aan die woord is Pierre Spies, kaptein van die Vodacom Bulls by die aankondiging van die span teen die Hurricanes eerskomende Saterdag op Loftus Versveld. Ons weet almal dat sportspanne graag die sielkundige speletjie speel van “being the underdogs”, en in die openbaar altyd die mindere is. Te veel spanne het ook al die spit van windgatgeit afgebyt maar net soveel het die prys betaal om te lank die “underdog” te wees; dit lyk dus of daar ‘n fyn lyn is om op te balanseer.

Suid Afrikaanse spanne in die Super reeks se puntetotaal was lanklaas so opgekrop op die log soos hierdie jaar. Die voorste 4, die Bulls, Cheetahs, Sharks en Stormers het ‘n punteverskil van 4 alhoewel die Stormers slegs agt wedstryde gespeel het. Die Cheetahs met tien wedstryde gespeel is slegs 1 punt agter die Bulls. Die prentjie vertel verder dat die Cheetahs en die Bulls die meeste wenne het (7 en 6 onderskeidelik) en dat die Cheetahs die mees suksesvolle toerspan uit Suid Afrika was tot dusver. Die Suid Afrikaners doen net so goed as jy ons en die ander twee kompeterende lande se statistiek vergelyk; die Australiese Brumbies loop voor met 40 na 10 wedstryde, dan volg die Chiefs met 35 punte na 9 wedstryde en dan die Bulls op 32 na ook 9 wedstryde gespeel. Min te kies dus, met die klem daarop dat tuiswedstryde van nou af on-onderhandelbare wenne moet wees.

Vergelyk ‘n mens die Southern Kings se log posisie, sou jy kon se dat hulle, ten spyte van hul harde pogings, binne die vergelykende vermoe van die ander lande se onderdane presteer; die Australiese Western Force het 16 punte na 10 wedstryde, die Kiwi Highlanders 10 na 8 wedstryde en die Kings 15 na 9 gespeel. Die verhaal van die Kings is dus nie die een van die “underdog” nie maar eerder dat die log reflekteer wie die mees konstante en ervare spanne is wie wenrugby speel. Dis amper asof hul ondersteuners skaars kan glo wat met laasjaar se konferensiewenners, die Stormers vanjaar aangaan. Net so is dit by die Sharks; ‘n jaar tevore was hulle sterk op pad na die uitspeelwedstryde, net om vanjaar ‘n reuse insinking te beleef op en van die veld af.

In Pretoria het die Bulls afrigter, Frans Ludeke erken dat die drie nederlae wat hulle op toer gehad het (twee net- net teen die Brumbies en die Reds), hul gedwing het om te kom regmaak tuis. Toegegee, die Bulls het lanklaas in die kompetisie so ‘n goeie lootjie getrek met tuiswedstryde. Die Cheetah wedstryd op 13 April was ‘n hondegeveg, uit en gedaan. So ook was die Waratahs se poging op 27 April op Loftus ‘n toets vir motivering en karakter, maar hulle het nog vier tuiswedstryde oor (die Hurricanes,Highlanders,Southern Kings en die Sharks) terwyl hulle die Cheetahs en die Stormers weg moet gaan speel. Tuisveldvoordeel sou dus hiervandaan ‘n heilige betekenis kry en Pierre Spies sal tog sy een oog op die log hou.

Intussen le daar ‘n harde Britse en Ierse Leeutoer doer onder voor wat vir seker ‘n uitwerking op die Australiers se fiksheid en beserings gaan he teen die tyd wanneer die uitspeelwedstryde plaasvind. Die log voorloper, die Brumbies speel op 18 Junie teen die Britse en Ierse toerspan en tussen die 1e Junie en die 6e Julie toer die Britte en Iere kruis en dwars deur Aus.

Op 19 en 20 Julie vind die Super reeks se kwarteindrondtes plaas en die semi’s die week daarna. Gedagtig aan die Brumbies se sterk posisie op die log en die moontlikheid dat die grootste deel van die nasionale Aussie span uit hulle, die Reds en die Waratahs gaan bestaan, sal ons en die Kiwis sake op die Leeutoer fyn dophou vir die krukkelys.

Ons en die Kiwis se Super rugby kanse mag dalk net tienvoudig verbeter in die tyd.

As Pierre Spies se hulle kyk nie na die log nie, is dit dalk wys om op te let of hy nie dalk sy wysvinger en middelvinger gekruis het om die leuntjie te verberg nie

SATERDAG DIE 13e

April 11, 2013 in SUPERRUGBY

 

 

 

 

 

 

 

Saterdag is dit die 13e April.

Vir die bygelowiges beteken dit ‘n dag om eerder in die bed te bly. Die probleem kom in as jy bygelowig is en ‘n Super rugby ondersteuner is. Dan mag jy glo dat die nommer 13 dalk by jou span spook. Baie Cheetah ondersteuners glo dat dit hulle jaar is vanjaar en om ‘n sewejarige wendroogte teen verlede jaar se beste verdedigingspan-die Stormers-te breek, wil gedoen wees. Sommige kenners meen dat die Cheetahs hier teen halfpad deur die kompetisie wind-uit kan raak soos laasjaar en dat hulle wenne op toer vanjaar teen die minder goeie spanne was.

Kyk ‘n mens egter in diepte na verlede jaar se vertoning in vergeleke met die huidige, let ‘n mens die volgende op;

2012:

5 uit 11 wenne wenne teen die Rebels (met 7),Hurricanes (met 9),Lions (met 11), Force (met 4) en die Waratahs (met 1) hul verste verloor was teen die Bulls met 32 punte en hulle het altwee kere teen die Bulls verloor (19-51 en 24-40)

2013:

twee vroee verlore teen die Sharks (met 7) en die Chiefs (met 42, reeds ‘n rekord verloor) wenne teen die Highlanders (met 17), Waratahs (met 2), Force (met 9), Rebels (met 18) en dan sedert 2007 die Stormers met 2 punte.

Vergelyk ‘n mens hul voorlopige wenvertonings in 2013 met dieselfde spanne in 2012, lyk hul rekord so;

Highlanders: 2012: 33/36 in Highlanders se guns (-3) 2013: 36/19 in Cheetahs se guns      (+17)

Waratahs: 2012: 34/35 in Waratahs se guns   (-1) 2013:  26/24 in Cheetahs se guns  (+2)

Force: 2012: 13/17 in Force se guns (-4) 2013:  19/10 in Cheetahs se guns (+9)

Rebels: 2012: 26/33 in Cheetahs se guns (+7) 2013: 34/16 in Cheetahs se guns (+18)

Stormers: 2012:  14/16 en 6/13 beide in Stormers se guns (-2 en -7) 2013:   26/24 in Cheetahs se guns (-2)

Hulle het dus 4 spanne teen wie hulle in 2012 verloor het met minder as 10 punte, in 2013 geklop op toer waarvan die Rebels die grootste punteverskil is (+18).

Vergelyk ‘n mens hul vertonings teen die Stormers moet jy erken dat die Cheetahs in 2012 ongelukkig was om nie te wen nie en dit geld vir beide die tuis en wegwedstryde teen die Kapenaars;14-16 en 6-13 onderskeidelik.

Hulle het dus daarin geslaag om die Rebels tweemaal te wen (2012 en 2013) en sedert 2007 hul wendroogte teen die Stormers gebreek met die twee punte oorwinning. Teen die Bulls span het hulle in 2012 tweemaal verloor, 19-51 en 24-40 met ‘n gemiddelde punteverskil van 24. Verlede jaar het hulle vyf wenne in totaal gehad; vanjaar het hulle met 7 uit 16 wedstryde reeds gespeel, hul 2012 kerf bereik. Wat hou die volgende 9 wedstryde vir hulle in?

Hulle sukses met die 2013 toerwedstryde is beter as die van die Bulls, wie naelskaapse verlore teen die Reds en die Brumbies gehad het en slegs een uit vier wedstryde kon wen. Die Cheetahs glo dus duidelik hulle is op die wenpad. Dit laat ‘n mens met die vraag waar die Bulls hulleself gaan bevind na Saterdag die 13e; in Super wildernis of op die pad van rugby heling?

Die Bulls weet dat hulle op die 13e iets anders sal moet doen om as wenners van die veld af te stap teen ‘n Cheetah span wie reeds hul geluk sien draai het.

Na die opwarmingswedstryd vroeër die vanjaar toe hulle die Cheetahs in Polokwane geklop het is daar  vir Naka Drodtske na die wedstryd gevra of die Bulls die dag iets anders gedoen het.Sy antwoord was ‘n droeë ” hulle het eenkeer na links, in plaas van na regs soos altyd, afgeskop.”

Mens wonder wat hy Saterdagaand -die 13e- om 9 uur gaan se…

 

 

DIT IS TUKS, DIE ANDER WAS NIKS

April 8, 2013 in Varsity Cup rugby

 

 

 

 

 

 

Foto: Varsity Cup

Tuks het dit tweekeer agtereenvolgens gemaak deur die Steinhoff Varsity Cup weereens voor Maties se neuse weg te raap, hierdie keer nie net met drie punte nie maar met ‘n allermintige 39!

Die westryd het teen so ‘n pas begin dat Tuks se kaptein Jono Ross skaars ‘n behoorlike TV onderhoud kon voer teen halftyd. Beide spanne se spelers was teen die 81e minuut byna uit op hul voete-’n tipiese eindstryd wat teen ‘n kookwater pas gespeel is deur twee van die land se beste Universiteitspanne.

Om spelers uit te sonder aan die kant van die wenspan sou onregverdig wees, want die hele span-voor en agter-het soos ‘n horlosie getiek. Chris Rossouw, Maties se afrigter en broer van die bekende Springbok Rossouws, se kop het reeds vroeg begin hang en selfs na rustyd kon hy nie sy span aanspoor om meer balbesit te kry nie.

Tuks het op ‘n stadium net voor die eindfluitjie, 117 teenoor Maties se 78 suksesvolle duikslae uitgevoer wat wys dat die Pretorianers met ‘n doel Kaap toe was; hou balbesit, kom oor die voordeellyn en verdedig soos tiere. ‘n Mens kon na rustyd sien dat die frustrasie en teleurstelling vlak in die wynboere se oe gele het met ‘n Tuks span wat nuwe betekenis aan die woord ”klinies” gegee het.

Tuks se sukses was hoofsaaklik daaraan te danke dat hulle weggebreek het van die stereotiepe Bloubul skop-en-jaag-rugby en deur die bal in hand te hou het die voorspelers die wurgwerk gedoen en toegelaat dat die hoogs talentvolle agterlyn die bal van hand na hand aangee. Dit het bewys dat die Tukkie afrigter Nollis Marais ‘n wedstryd plan in ‘n verassingspakkie of twee byderhand gehad het vir die aand. Maties is knaend van die voordeellyn af weggeboelie deur ‘n groep Tuks voorspelers wat onder ‘n kombers gejag het.

Die Maties het kort voor rustyd geslaag met ‘n mooi voet aangee om ‘n drie te verseker wat nie verdoel is nie. Die haker van Tuks, Bongi Mbonambi wie die veld vol gespeel het was net te laat om die vleuel van Maties Clearance Khumalo uit te hou. Teen die tyd het die TV kommentators namens Maties mekaar moed ingepraat, want na rustyd het Tuks sy verwoede aanval voortgesit.

Lynstaanwerk en skrumwerk was vir die Tukkies die groot sekerheid om ‘n suksesvolle aanvalsplatform te skep en ‘n dapper Matie span het kort-kort probeer om die gety te stuit- sonder sukses.

Vyf driee (Faasen, du Plessis, Ross, Skosan en Wills) en vyf doelskoppe het alreeds die telbord laat kreun vir Tuks.

Pollard en Blommetjies het onderskeidelik tweekeer die dwarslat oorgepiets om die telling op 44 te laat staan.

Maties se Khumalo-drie is nie verdoel nie.

‘n Oorstelpte skare by Hatfield Square in Pretoria het Pierre Spies, ‘n Supersport gas die “Wikkelspies” riel sien dans terwyl die Maties ondersteuners lank voor die eindfluitjie reeds elders gaan troos soek het.

Ek is seker “Dok Craven”, groot vader van Universiteite rugby het vanaand daar van bo af breed geglimlag; hy en Bliksem (sy hond)!

BAIE GELUK JAKE!

March 18, 2013 in SUPERRUGBY


 

 

 

 

Foto: Rugby 365

Brumbies are the descendants of escaped or lost horses, dating back in some cases to those belonging to the early European settlers, including the “Capers” from South Africa…

So skryf Wikipedia oor die Australiese wegloop perde wat nou nog-wild-in hul land aangetref word. Ironies dat ons land ook bygedra het tot hierdie unieke perdespesie.

Australie se Brumbie rugbyspan pronk ook met sy eie “prancing horse”, nes Ferrai. Al verskil is die Aussies s’n is in blou.

It was predicted that the Brumbies, made up of so-called ‘rejects’ — players not wanted by the other two teams — would perform poorly. Since then, they have enjoyed more success than all the other Australian teams combined, reaching five finals and winning two…

Die bostaande is ook aangehaal vanuit Wikipedia se artikel oor die span en plaas mens hulle profiel in konteks, het hulle net een meer toernooi as ons mees suksesvolste span, die Bulls.

Sedert Jake White uit die rugbywildernis ontsnap het, het hy ‘n afgewaterde Brumbie span in 2011 oorgeneem en is hy besig om van hierdie oud kampioenspan, die sogenaamde rejects, weer ‘n wenner te maak.

White is ‘n uitgeslape derduiwel, wat met ‘n sukkelende Springbokspan in 2006 (49-0 verloor teen Australie daardie jaar!) in 2007 die wereldbeker huistoe gebring het. Neem byvoorbeeld die Brumbies se onlangse geskiedenis; 2011 posisie-13e op die finale log, 2012 7e en in maand twee van die 2013 kompetise, is hulle die enigste onoorwonne span. Dit als onder leiding van Jake White.

Saterdag het White sy span ingestuur teen die Sharks op ‘n muwwe, bedompige Kings Park. Die twee spanne het in 2001 om die titel uitgespeel, wat deur die Brumbies gewen was, maar een van die twee spanne was nie naastenby op dieselfde vlak as in 2001 nie, en dit was beslis nie die Brumbies nie.

Ek het laasjaar die voorreg gehad om by White se Bulls/Brumbies Super 15 post match interview in te sit en ek moet se dat my voorgevoel toe as reg bevestig was; White het ‘n groter plan as wat ons mag dink. Hy wil nie net in Superrugby suskes behaal nie, hy wil weer ‘n wereldbeker wen. Hy is bekend daarvoor dat hy statistieke aframmel en of die syfers reg is nie, maak nie saak nie- sy gewensde resultate kry hy. Hy hou ook van groter spelers en is nie skaam om ‘n speler weg te wys as hy nie groot genoeg en vining genoeg is nie. Neem byvoorbeeld sy Brumbie voorspelers; Ben Alexander, Scott Sio, Sam Carter en Ettienne Oosthuizen vir wie daar nie plek op slot was in Suid Afrika nie.

Terug na die Sharks wie ’n duur les geleer dat hulle nie meer (soos die Bulls) besoekende spanne kan inboelie en versmoor met voorspelerspel alleenlik nie. Daardie truuk het nie met White se Brumbies gewerk nie en hul ingesteldheid, verassings aanvalle en skerp verdedigingslyne het weer gewys dat White ‘n student van die spel is.

Sewe wenne op toer en tans die mees suksesvolle span in die kompetisie….mmmmmm!…ek moet myself daaraan herinner dat dit maar die begin van die marathon is en ek hoop vir ons onthalwe die Brumbies het op 30 Maart 2013 ‘n afdag as die Bulls in Canberra opdaag (letterlik en figuurlik!)

Die manne van die blou pronkperde mag dalk net vir nog ‘n Super verassing sorg vanjaar…ons het vir die Aussies koloniale perde gegee, al was dit vanuit die Kaap en so ook was Jake White ‘n duur geskenk aan hulle doer onder. Ek hoop ons het nou klaar wegegee.

More, 18 Maart  is dit die verjaarsdag van Jakob Westerduin, voormalige Springbok afrigter, IRB kampioen en rugby afrigter van die jaar in 2007.

Ek en baie ander rugbymalles wens hom van harte geluk en hoop dat dit wat hy nog sou wou doen in die Groen en Goud, vir hom beskore is in die Goue truie van die Aussies.

Baie geluk Jake!

DIS DIE LESTE WAT ONS LEER

March 16, 2013 in SUPERRUGBY

 

 

 

 

 

Foto: speedstickmedia/

 

My laerskool maat, Maritz Schoeman het by sy ouma gebly terwyl ons op skool was. Ouma Mollie was ‘n oud onderwyser en was baie, baie kwaai. So daag daar op ‘n dag ‘n vars spannetjie op om by Maritz te kom speel met Ouma Mollie wat ons summier daar wegjaag; “gaan leer julle leste!” Ons het soos vlakhase gevlug en dit wat van ouma Mollie se vermanings oorgebly het, is of in ons ingeslaan of ingeteel, maar ons leste het ons geleer.

Vervolgens; hier is die leste wat ons in die laaste week of twee geleer het.

Ons leer dat ons spanne nie meer bang is om te toer nie. So is ons nie meer bang dat die Tjieters met net ‘n paar punte sal verloor nie en hulle wys dat die Highlanders en die Waratahs net nog op velde speel met vier lyne en pale en dat beide Oz en die Kangaroe-eiland oorwin kan word danksy ‘n man soos Raymond Rhule. Pure gif!  Ons leer ook dat die hongerste span die wedstryd sal wen. So het die Bulls laasweek dit teen die Chiefs gewys maar ‘n oorhonger Crusader span het gewys dat passie, talent en die tuisskare altyd die oorhand het…of nie? Die Bulls is nou op pad Oz toe met vier punte in die sakkie, ‘n paar sleutelspelers op pad terug na Loftus se pynpolisie en ‘n klomp ondersteuners wat niks minder as die beste verwag nie.

Ons leer ook dat die Konings van Oos Kaapland se spiese styf staan teen enigiemand wat waag om Madibabaai te ontset. Om die Sharks te steriliseer tot ‘n wedstryd met geen driee nie en die huidige Superkampioen te reduseer tot die laaste kwart om hul stempel op die wedstryd af te druk , vat als wat edel is. Het Naas Botha nog ‘n kroeg?

‘Toetie’ Allister Coetzee van die Stormers hou vol dat Jean de Villiers en Schalk Burger so fiks is soos viole en dat dit net ‘n kwessie van tyd is dat die Stormers hul vorm van verlede jaar sal herwin. Die Stormers vat vandeesweek vier log punte in hul rustyd en miskien is dit tyd om besef dat die span kan aangaan sonder Schalk en Jean en net soos die Bulls se ondersteuners moes leer dat daar ‘n rugbylewe oor is na Bakkies, Victor, Fourie en Danie se vertrek.

Wat de swernoot aangaan met die Sharks, verstaan ek nie;  iefie-iefie teen die Stormers, pap teen die Kings en bloedneus teen die Brumbies. Is hulle maar soos die Highlanders, Hurricanes, Waratahs, Force en Rebels ‘n klomp pakdonkies, wie saamhardloop maar nooit die wenpaal eerste ruik nie. Dis glad nie dat hulle nie die afrigters, tegnologie en spelers het nie maar hulle maak soos die Cheetahs soms maak- hulle finish nie!

Breytie bly se die Super kompetisie is eerder ‘n marathon en nie ‘n wedloop nie. Dankie tog want tussen die Bulls, Sharks en Stormers gaan ons nog baie woema nodig he, veral met spanne soos die Crusaders, Chiefs en Brumbies wat nou lyk asof hulle nog ‘n paar ekstra ratte in hul ratkaste het en ons nog baie leste gaan leer voor uitpeeltyd.

Andre Watson, Bestuurder Skeidsregtersake by SA Rugby leer ons dat die reel dat skrumskakels die bal reguit by die skrum moet ingooi, nog in die reelboek is. Dit na bykans drie jaar se gekerm dat die skrums nog steeds nie werk nie, touch, pause, engage/ touch, pause, set… Wat de maai!  Waar is die verskil? Die bal gaan nog steeds skeef by die skrumbek in en gulde geleenthede om voordeel uit skrums te trek, val plat soos ‘n pannekoek. Net so by die lynstane. Bid jou aan, daar staan ‘n vlagman…uhh…lynregter…uhh…assistent skeidsregter met een hand wat ‘n vlag vashou om die plek te merk waar die bal uit is en ‘n ander hand wat wys watter span moet die bal ingooi. Die haker staan reg voor hom, dus as die bal skeef deur die lug trek, is die ingooi…skeef! Assistent skeidregters en skeidsregters sien nie reguit lyne nie-punt. Dis my les.

Jakob Westerduin (sy doopname) alias Jake White het my ook ‘n les geleer. Daar is geen land in die wereld wat so ‘n moerse issue van ‘n sportspan se hoofafrigter kan maak nie, as Suid Afrika. Vat sokker en sy intriges met afrigters, bestuurders en spelers wat of verdag is, oneerlik is, konkel, inkapabel is- die lys hou aan.

Vat krieket en sy bestuur wat kopbene uitdelf van bestuurders wat steel en die wat na bewering nog gaan steel.

Atletiek? Bid jou aan-’n land se hele atletiekfederasie is vrot en bankort!

Dan kom jy by rugby; die politiek, intrige, rugsteek en gatomswaai hier is blykbaar erger as ‘n verkiesingsveldtog onder leiding van die Mafia. Jake het my geleer dat daar werklik waters van rus is waar ‘n afrigter en sy bestuurspan kan doen wat hulle betaal word om te doen, en dat jou dem goeie talent nie vir die varke gegooi word nie. Hy sal Australie nog wereldbeker toe vat, mark my words.

Terstond hier, het dieTjieters mooi gemaak, die Bulls het ‘n rugbyles by die Crusaders geleer, die Sharks het vals tande gekry by Jake White se Brumbies en die Kings is met een voet op die vliegtuig en het geleer dat Naas Botha nie altyd reg voorspel nie.

Die top tien log in Superrugby wys nog steeds dat ons prima spanne daar is en ons leer elke dag ons leste,danksy mense soos Tannie Mollie of dit nou ingeslaan of ingeteel is.

Dankie.

 

 

HOE MEER RUGBY JY KYK, HOE SLIMMER WORD JY

March 6, 2013 in SUPERRUGBY

 

 

 

 

 

Foto: Gallo Images

Die afgelope week het weereens gewys dat rugby ‘n sport van denkers geword het, soos een slim TV kommentator gese het. Verby is die dae waarin jy net algemene rugbyopmerkings kon maak rondom die braaivleisvuur, by die watergat of na kerk-en nog slim klink vir jouself ook. Jy moet oplet in die klas as jy wil saampraat. Soos toe die een kyker inbel na Superrugby, Maandag aand en vir Kobus Wiese se dat hulle wie in 1995 champs was, nou niks meer weet nie. “Gaan haal vir Victor Matfield hulle, hulle weet ten minste iets van die reels af”.

Eina! Jy kon sien hoe Wiese daai Bart Simpson kuif van hom intrek en hy ‘n paar liederlikhede na binne toe skiet. Gee hulle krediet, Wiese probeer ten minste uitvind en jy kan maar na Ashwin Willemse luister-hy’t opgelet. Breytie is natuurlik ‘n ander saak…Breytie is…Breytie.

Dus, ek gaan dit my ten doel stel om meer op te let en voordat ek die ondermaanse verlaat, ek ook eendag kan slim klink-al is dit net vir myself.

Tuks het afgetjop in die doodsnikke van hul wedstryd teen Maties op my moeder se verjaarsdag, en die Madibaz het gewys dat hulle kers opgesteek het by  die Southern Kings. Maties het Maandag aand lig daarvan afgekom nadat hulle bure die Universiteit van Kaapstad, amper vir ‘n verdere verassing gesorg het met hul dartellopies. Maar Maties lyk na die span om te klop in die Varsitybeker, vanjaar.

Ek weet nie wie het al by Naas Botha-hulle gekuier nie, maar ek is seker dat hy nie ‘n fotostaat van die huidige Superreeks se log in sy kroeg het nie.

Ek is nie seker of hy ‘n kroeg het nie.

Voor die die derde rondte was die Kings alweer die top SA span, iets wat Naas gese het ‘n rare verskynsel is; so raar dat ons ‘n afdruk daarvan moet maak en in ons kroee hang as aandenking. Ek kan my nie voorstel dat iemand soos byvoorbeeld oom John Williams, voormalige Springbokslot en Noord Transvaalse afrigter, vir Naas ernstig sou opneem nie. Nie daar waar hy, ‘n hanetree van die Limpopo af die enigste ding wat hy ernstig opneem-boerdery- geniet nie. Die Kings se groot vuurdoop le nou voor en weldrae sal hulle uitvind dat begeesterde spel en toewyding jou in hierdie kompetisie net sover sal bring. Plaas jy hul wen teen die Western Force in perspektief, moet jy maar laat lei deur die opmerkings van Frans Ludeke laas Saterdag by die mediakonferensie na afloop van die wedstryd; “hulle het ons verras, daai onderskepdrie het gewys dat hulle ons spel bestudeer het en geweet het dat as hulle anders sou uitkom, hulle ‘n kans teen ons gehad het…hulle het hul spel afgewissel en krediet aan hulle afrigters…”

Ek het opgelet dat Pierre Spies na die wedstryd verlig was-baie verlig was. Hy en sy span het hierdie wen teen die Western Force uit die leeu se kake gered.Ek stem saam dat hierdie tipe wenne nie mooi is nie en die onheilspellende stilte op Loftus kort voor die einde van die wedstryd is nie lekker nie, maar dat hierdie jong manne ‘n les geleer het in die kuns van vasbyt en deurdruk, is nou maar wors. Baie geluk.

Die wedstryd tussen die Sharks en die Stormers was laasweek aangepraat as die kersie op die naweek koek. Toe nie.

Beide spanne wie laasjaar om die louere in die Superreeks en die Currybeker gestoei het, het vanjaar nog nie naastenby gelyk na ernstige mededingers nie. Die Stormers laai hierdie week vir ‘n rondte teen die kampioene, die Chiefs en alhoewel dit op tuisbodem is, gaan dit kraak om die hoofmanne van die Suidsee te rol. As ek Allsiter Coetzee is, werk ek plan Z ook uit.

Die Sharks se Pat Lambie ken, soos Morne Steyn, elke hoekie van sy tuisveld, maar nie een van Morne se kompeteerders vir die Groen een Goud het my laat dink dat hier ‘n bedreiging op pad was nie.

Miskien dink Morne so daaroor-dis beslis my laaste jaar hier in Pretoria, ek moet die heel beste daarvan maak ter wille van die Bulle en Heyneke Meyer, let’s go! Daai drie van hom in die eerste minuut was pure gif en later die aand het ek opgelet dat Frans in my rugbykennis ingebou het toe hy verduidelik dat om Louis Fouche in te bring op binnesenter hier aan die einde, was logies. “Hulle (die Force) was op aanval en ons moes die gapings toemaak, toe bring ons vir Louis in…of hy nou op losskakel is of binnesenter, die lyne wat hulle hardloop is dieselfde…”

Dankie Frans, ek leer by jou.

Arme Tjieters, hulle het al die potensiaal om enige topspan op ‘n gegewe dag te roffel, maar daar gaan staan hulle en los die wurggreep op die Chiefs in die tweede helfte en dit kos hulle die wedstryd. Geen wonder Naka Drodske word grys en kaalkop gelyk nie. Die span sal moet leer om af te rond-gou ook.

Die Bulls is vandag op die vliegtuig, Nieu Zeeland en Australie  toe. Dit gaan ‘n groot poging kos om met twee uit vier wenne terug te kom (Blues, Crusaders, Reds en Brumbies), maar hulle dra die landsvlag en die trots van die Bloubul nasie saam.

Intussen was Chiliboy Ralepelle laas naweek die eerste Bloubul en SA speler wat uitgewys (gecite) is in die 2013 kompetisie. Dit nadat hy a-la-Bakkies Botha die vleuel Alfi Mafi binne sekondes nadat hy die losgemaal ingeduik het, Mafi op sy gat laat sit het. Nie een van die wedstrydbeamptes, insluitend die TV skeidsregter wie dit kon uitwys vir Jason Jaftah nie, het gedink dis nodig om lawaai te maak nie. Die Australiese uitwysbeampte het, getrou aan die spul se kultuur, gemeen dat dit vuilspel was. Toe nie. Adv Jannie Lubbe wie die voorsittende beampte was, het spesialisgetuienis ingewin en gese Chili is onskuldig. Vir ‘n oomblik of tien het ek gedink Bakkies is terug in Blou…

Chili is dus saam op toer en so van Bakkies gepraat, gaan kyk gerus na die wedstryd tussen Toulon en Toulouse waar Bakkies die Samoaan Census Johnson ‘n paar losskrum maniere leer. Teen die 45e minuut het die skeidsregter die spel gestop nadat Bakkies heel onder aan die losskrum beland het, Johnson met hom begin skoor soek het en hulle amper vir meer opwinding gesorg het as die Australiese been van die Super 15 reeks.

Hierdie Bulls toer is ook die laaste wat Wynie Strydom as spanbestuurder saamgaan. Mag dit daarom een van die bestes wees, en die groot gees van rugby verdien ‘n artikel op sy eie, wat later volg.

Ek het laas naweek byvoorbeeld geleer dis lekker om jou veldore (daai lekker mangafterkie wat jy inprop by jou ore en hoor wat die skeidsregter op die veld se), aan te hou voor en na die wedstryd. Jason Jaftah was beslis nie opgepluk met die Australiers nie, veral nie toe hy by die tonnel in verdwyn na die wedstryd en hy vir ‘n kollega se wat hy van hulle haker dink nie.

Ek kon sweer hyt gese “daai nommer twee van hulle is ‘n regte k*nt”.

Ek wou hom die voordeel van die twyfel gee om te hoor dat hulle haker regtig kort is, maar Jason was reg…

Collect enough brownie points, is ‘n goeie leuse om hierdie week te onthou want 72 uur se lewendige rugby, was nog nooit genoeg nie.

Ek gaan sekerlik oor baie rugby dink en baie leer…

 

 

GOEIE BEGIN IS NOG NIKS GEWIN

February 27, 2013 in SUPERRUGBY

 

 

 

 

 

 

Wat die 2013 seisoen aan betref, is die Bulls een kortkop voor die Stormers met die oortuigende wen op Loftus Versveld verlede Saterdag.

‘n 27-15 wen teen die beste verdedigingspan in die kompetisie is nie te versmaai nie en Ludeke se nuwe afrigtingsresep blyk vroeg-vroeg in die kol te wees.

Moren Steyn is weer “Generaal” Morne Steyn.

Voordat ons te opgewonde raak oor die driemalige Superkampioene se vooruitsigte vir die seisoen, ruk die hoofafrigter Frans Ludeke ons tot sinne; “Verlede week se uitslag is verby. Ons is dankbaar vir daardie sege (teen die Stormers), maar die fokus die week is ‘n nuwe teenstander wat ander uitdagings bied. Die Force is altyd ‘n moeilike teenstander vir ons en sal weereens eise stel aan ons algemene spel en verdediging. Ons het egter goed voorberei en sien uit na die wedstryd.”

Die Bulls is daarvoor bekend dat hulle eerder konserwatief omgaan met spankeuses en Frans Ludeke het dadelik by die aankondiging van die span teen die Western Force, Woensadg, die bespiegeling nekomgedraai dat hy die juniors in die span se lywe sou wou brei vir die oorsese trippie wat van volgende week af vir sy span voorle.

Dat Ludeke ‘n magdom van talent in sy span het, is so waar soos padda manel dra. As Akoina Ndugane nog gekrok is teen Vrydag, stap die blitsige Sampie Mastriet in. So doen Jean Cook ook met die nommer 19 op sy rug nadat hy verlede week doelbewus uit die Tukkie span teen Maties uitgelaat is met die oog op sy Super debuut vandeesweek. Cook is een van die mees belowende losvoorspelers wat deur die Bulls opgeraap is. Sy vermoe om agtsteman en oopkanflank te speel is reeds bekend. Sommige meen dat hy die Schalk Burger tipe flank is, maar ek sou hom nie in dieselfde boks plaas as die moedswillige rondvallery van die Kaapse wynprins nie. Soos ons voorheen al genoem het, laat die reelwysigings om los spel aan te moedig, sy merk op flanke en die laaste seisoen of wat getuig daarvan.

Nog ‘n resue aanwins vir die Bulls, Jan Serfontein sal waarskynlik ook sy Super debuut maak en sy giftige spel in die agterlyn kan die verskil tussen een of meer driee vir die Bulls maak.

Die Western Force is een van die Bulls se moeilike kalante op die rugbyveld. Alhoewel dit lyk asof hulle swaarkry sonder Natahn Sharpe en David Pocock, maak hul kop-aan-kop statsitiek dit ‘n 50% wenrekord teen die Bulls. Die spanne het seskeer teen mekaar gespeel en glad nie in 2012 kragte gemeet nie. Die Bulls se laaste oorwinning op Loftus teen hulle was in 2009 toe die Bulls naelskraap met 32-29 gewen het, maar in 2007 het die Force die Bulls getroef met 27-30 op die einste Loftus.

Saterdag se wedstryd sal nie naasteby die vlak van intensiteit bereik as wat dit teen die Stormers was nie, en die gewonde Force mag dalk net-net voorloop teen halftyd.

In die tweede helfte behoort die Bulls die krane oop te draai en die nuwe bloed in die span behoort te bewys dat hulle hul plek in die Blou Span nie toevallig is nie.

Dis soos die Engesle se “early days”, maar Ludeke en sy span het hierdie week die geleentheid om goed op te warm vir ‘n harde toer wat volgende week aanbreek en soos Pierre Spies ook aan ons gese het, is hy en sy spanmaats rustig, gefokus en lus vir goeie Superrugby.

Goed begin mag dalk half gewin wees en die jong Bulls span sal die gewoonte hul eie wil maak.