PIERRE SPIES-100 NIE UIT NIE
May 17, 2013 in SUPERRUGBY
Foto: Speedstickmedia
Ek staan langs die blok van ‘n man en kyk na sy bo-arms…dis so dik soos my bobeen, dink ek.
“Hoe lank is jy?, vra ek.
“Een-nege-vier”, se hy en ek sit dit om in voete en duime want ek is nog uit die oude doos.
“En hoeveel weeg jy?”
“As ek vet is 110kg, maar nou 108″.
Kan die man dan ooit vet word, dink ek by myself? Met so ‘n gym roetine in die loslootjie week, kan jy nie ‘n ons optel nie.
“Gee jy om dat ek aangaan terwyl ons praat?”, vra hy sag maar dringend en ek voel soos ‘n indringer in sy wereld.
Pierre Johan Spies, 28 jarige kaptein van die Bulls is werklik die “gentle giant“, ‘n eienskap wat hom bemind maak by baie mense maar ook die eienskap wat, volgens die skuim-om-die-mond ondersteuners van rugby, hom ‘n “softie” gemaak het. Een van die eerste spelers met wie hulle hom graag vergelyk, is die WP/Stormers agtsteman en mede-Springbok, Duane Vermeulen.
Pierre skram nie weg van die gesprek af as Vermeulen genoem word nie en hy weet maar al te goed dat Vermeulen verlede jaar alle kanse aangegryp het om vir die Springbokke te speel.
“Duane is ‘n baie goeie speler, en ek dink die kompetisie tussen ons is gesond. Dit bring die beste in my uit. Ek besef dat ek groot tree het om te gee om vanjaar Heyneke se oog te vang as Bok agtsteman, en ek is net dankbaar dat ek die geleentheid het om hierdie kans te he”.
“Die Pierre Spies op die veld en die een van die veld af”, vra ek, “is hulle dieselfde mens?”.
Hy vat so ‘n rukkie om sy laaste barbell curl met ‘n 30kg gewig te maak en kyk my vierkant in die oe; “ja, ek is- op die veld is dit my werk en ek doen dit voluit, van die veld af is dit my lewe en ek doen dit ook voluit.”
Dis die man van wie Frans Ludeke, hoofafrigter by die Bulls gepraat het as synde ‘n leier te wees, ‘n mens met geloof in die moontlike, ‘n mens met ‘n harde rugbyhart en ‘n skoon lewensreputasie.
By die Bulls, van Heyneke Meyer se tyd af was die kaptein en die hoofafrigter soos broers. Hulle het nog altyd geglo dat die kaptein ‘n verlengstuk van die denke en die persoonlikheid van die hoofafrigter moet wees om die unieke gel tussen spelers en afrigters op en van die veld af te verseker.
Ludeke en Spies vorm so ‘n kombinasie. Nooit in konflik met mekaar in die openbaar nie, al hang Spies se kop na ‘n vrot wedstryd.
Woensdag middag by die aankondiging van die span teen die Highlanders was daar vrae van kollegas aan Ludeke oor Spies.
Ludeke het oor Spies gepraat soos wat bloedbroers dit sal doen.
Ek het geluister na Frans, maar na Pierre gekyk en vir die eerste keer sedert sy kapteinskap in 2012, kon ek persoonlike emosie op sy gesig lees.
Sy oe was nat.
Dit het alles vir Pierre beteken om te weet hy draf die 100e keer vir sy geliefde Blou span uit. Dit het ook beteken dat hy ontsettend dankbaar is dat hy gesond is om in die voetspore van sy pa te kan volg.
Pierre Spies is die middelste “Pierre” in die Spies familie, want pa Pierre het hom die “groot leeu” genoem. Hy noem sy klein Pierre net Pierre.
Dis die man wat onbeskaamd se hy steek sy vinger in die lug op na ‘n drie omdat hy sy Skepper dank vir die pa wat hy gehad het en vir die geleentheid om te kan speel en sy span te kan lei.
Pierre Spies is in my boekies ‘n regte ysterman…
* Pierre speel toevallig in sy 100e wedstryd teen die Highlanders, die span teen wie hy ook sy debuut in 2005 gemaak het. “Daardie dag het die House of Pain in Nieu Seeland vir my nuwe betekenis gekry”, se hy met ‘n skalkse glimlag.
Spies het op vleuel uitgedraf en inderdaad die hele jaar daar gespeel totdat hy deur Wynand Olivier vervang is en Heyneke vir hom gese het dat agtsteman hom baie nader aan die spel sal bring.
Pierre Johan Spies is die 777e Springbok en slegs die vyfde speler in Blou wat sy honderdtal bereik. Hy het in vyftig toetse gespeel en sewe driee aangeteken.
Hy hou die rekord vir die meeste driee gedruk deur ‘n agtsteman (7) en hy het ook die meeste keer as agtseman vir die Springbokke uitgedraf (45).










Recent Comments