Pablo Neruda in Afrikaans
2013/02/03 in Uncategorized
Pobres muchachos
deur Pablo Neruda – uit Spaans vertaal deur De Waal Venter
Arme ouens
Wat kos dit op hierdie planeet
om mekaar lief te hê in vrede:
die hele wêreld ondersoek die lakens,
almal bemoeilik jou liefde.
En hulle sê vreeslike goed
van ‘n man en ‘n vrou
wat, na baie rondval,
en baie oorweging,
iets onvervangbaars doen,
saam op ‘n bed neerval.
Ek vra myself af of die paddas
hulleself dophou, hulleself geringskat,
of hulle fluister in dammetjies
teen onwettige paddas
teen die genietinge van hulle soort.
Ek vra myself af of die voëls
voëlvyande het
en of die bul luister na osse
voor hy begin vry na die koeie.
Nou het die strate oë,
die parke het polisie,
die hotelle het geheime,
die vensters skryf name af,
troepe en kanonne word uitgestuur
vasbeslote teen die liefde,
onophoudelik aan die werk
die kele en die ore,
en ‘n ou en sy meisie
word gedwing om te blom
terwyl hulle vlug op ‘n fiets.


Recent Comments