
Juri onthou die dae toe hy nog in die mall kon rook. Toe hy kon window shop en rustig teug terwyl hy van winkel na winkel drentel.

Toe begin rookwette die strop al nouer trek, tot waar ons nou sit. Jy kan dan nie eens meer BUITE ‘n restaurant op die deck sit en ‘n sigaret geniet nie.
Nou kyk, ek het self ‘n jaar gelede my rookgewoonte opgegee, maar ek het nog nooit deel geword van die heksejag teen rokers nie. Ek dink nou maar eenmaal net nie dis die wêreld se grootste sonde nie.
Maar toe sien ek dié berig oor ‘n vierjarige, ja vier jaar oue seuntjie in China wat ‘n kettingroker is. Volgens sy dokter lyk dit asof hy op die ouderdom van twee al begin rook het.

En skielik trap my teorieë water, want jy weet mos, monkey see, monkey do.
‘n Tweejarige leer nie op sy eie hoe om homself kanker te gee nie. Baba’s word nie gebore en dink “sjoe, nou verdien ek ‘n sigaret nie.”
Hulle sien – elke dag – wat grootmense doen, en as die grootmense rondom hulle elke dag rook, nou ja, die res is mediese geskiedenis.
En nou wonder ek ewe skielik. Ek met my liberale uitkyk op free choice en hou op teem oor mense se klein plesiertjies.
Het dit nie werklik tyd geword om sigarette finaal uit te wys vir die sosiale euwel wat dit is nie?
Is dit nie nou tyd om rokers, hul slegte gewoonte en sommer al hulle stokkies op die brandstapel te sit nie?
Heelparty medici reken sigarette is net so, of meer verslawend as heroïne.
Sal jy toelaat dat jou kleuterkind kyk hoe ‘n junkie ‘n naald in sy arm druk? So hoe kan jy dan toelaat dat hy kyk hoe iemand ‘n sigaret aansteek?
Recent Comments