Voor ek begin, as ek ‘n lys maak van waarvan ek seker is van vaderskap, of kan doen, sal dit aansienlik korter wees as die waarvan ek nie seker is nie, of teoreties verstaan maar prakties of heeltemal of gedeeltelik faal. Dan is daar die groot ‘grys’ arias waar ek vermoed daar is die regte manier, maar kry dit nie reg nie. Verder sê hulle ‘n mechanic se kar is die stukkendste, so voor dat ek voorgee (soos die mechanic) ek weet baie, wil ek net sê ek doen nie, en by dit nog voeg my rol as pa is nou baie anders en uniek, en ek deel maar my ‘notas’ en redenasies uit ‘n baie eng benadering van ‘n komplekse saak wat geskied in omgewings waar al twee ouers wat miskien werk, enkel ouerskap en verskeie ander ‘gebroke werklikhede’ wat die realiteit nog verder veel meer kompleks maak.
Iets waaroor ek egter baie seker is ‘n mens se gesin, en dus jou kinders is onlosmaaklik verbind tot jou geestelike en fisiese gesondheid. So, tydens my beroerte het ook my drie seuns se lewens erg verander met ‘n situasie wat eensklaps verander sonder waarskuwing en hulle lewens beïnvloed het. Eers om net deur die traumatiese gedeelte te kom (± die eerste 3 maande na my beroerte) en dan die daarop volgende jare(2004 tot nou) is enige aanpassing baie ontwrigtend as gevolg van my unieke omstandighede.
Ek plaas ook die blog sonder laat dit hersien was. So lees dit maar met sinskonstruksie foute en plaas asseblief die klem op wat ek wil sê.
Venster-tyd is baie korter as wat ‘n mens besef
What lies behind us and what lies before us are small matters compared to what lies within us – Ralph Waldo Emerson
Soos wat alle ouers sal weet die tyd wat kinders onder jou dak kom tot hulle daaruit is, is baie kort! Nie verniet sê hulle met kinders is ‘n dag lank , maar die jare kort nie!
Eers ‘n bietjie teorie wat die tafel dek. Ek het die Blake en Mouton se bestuursraamwerk so bietjie aangepas om by ouerskap aan te pas, en lyk nou so:

Ek weet nie van iemand wat die heel tyd op die 9.9 plek kan bly jaar in en jaar uit nie. Verder verwys hulle na ‘situasionele leierskap’ (dis waar jy na gelang van die situasie jou styl aanpas. As ‘n huis brand waardeer jy tog iemand wat bevele uitblaf en sentrale speel sonder om mooi te praat met mense en sterk leiding te neem, maar in rustige tye kan die styl aanpas om meer mensgerig en demokraties te wees.
Ek dink ek was al by alle style, maar by die 9.9 styl wil ek dink dis ‘n mite. Ek verkeer onder geen illusies nie dat ek ook nie daar is nie. Volgens my begin jy met ‘n baba meestal by die linker kant van die illustrasie (jy neem alle besluite soos wanneer moet hulle eet en wanneer moet hulle slaap). Dan land jy meestal op in die middel in die Laerskool, en eindig meestal met tiener soms by voorskriftelike opdragte (jy moet jou kamer opruim, jy moet jou huiswerk doen/ leer…)en dan weer soms by die 1.1 as ek net mooi keelvol is en takies selfdoen (skottelgoed/honde was), by 1.9 was ek weer op vakansie/naweke, en 9.1 as ek van deelnemende gespreke oorgaan in ‘n outokratiese styl en nie vra nie, maar voorskriftelik sê, terwyl ek maar probeer om so nou en dan ‘n 5.5 styl te handhaaf (en selfs dit kry ek selde reg!). Darem het ek al my momente van selfs bo 5.5 gehad. Een van dit is as ons en vriende kuier en die gesinsdinamieka is belyn met mekaar! Ek het meeste momente wat gehad het bo 5.5, en selfs hoër was met die tandem en ek het al met twee seuns daar uitgekom met fietsresesiese, die ander een (Anthony) het weer saam met my geoefen vir ‘n resies aan die begin van Julie, maar ek moes dit toe los van wee ‘n erge verkoue. Mens jou net kan indink op die tandem gaan jy deur ‘n belewenis van gebonde, interafhanklik (jy is afhanklik van die ander ou om hard te trap!), respek en vertroue terwyl jy heeltyd trap en net positief reageer op enige insident. Tans ry ek en Anthony ook nog ten minste een maal ‘n week as voorbereiding vir die 94.7, en het dit suksesvol gery in November. Ek hoop maar dit verskaf die nodige verwysingsraamwerk en skep ‘n unieke omstandigheid wat kan lei tot ‘n manier van optrede jeens almal . Die probleem is ek ry saam met een seun, en die res van die gesin kry dan juis dan min aandag.
Ek wil net ook byvoeg (eintlik brag!) met die resies in die begin van Julie moes een van my seuns(Gerald) inderhaas namens my ry. Want ek het lank vooraf oor internet ingeskryf. Die vooraf dae was ek grieperig, en waar ek eers gehoop ek sal nog kan ry, maar die aand voor die resies sien ek toe daar is nie eers naastenby ‘n kans nie. Toe willig Gerald in om saam met Anthony te ry sonder om te oefen, en nog so op nommer 99, en hulle ry toe nogsteeds die 60 km net oor 2 ure gery! Na die tyd was dit vir my baie verblydend want vir twee ure kon hulle fokus op ‘n uitdaging sonder om te moan, foutvinderig of afkrakend, en verskiklik interafhanklik te wees. Hulle beide se gesigte het by die einde behoorlik gestraal. Ai as ons maar daai dinamika kon vat en in pille sit sou ons baie geld kon maak, of net ten minste ons baie minder grys hare gee!
Die konsep van ‘n stelsel teorie of transaksionele model klink baie ingewikkeld, maar is eintlik baie eenvoudig en baie nuttig want dit voorspel baie dinge, en is volg:

Om die illustrasie beter te verduidelik vir Suid Afrikaners baie maklik. As jy misdaad wil aanspreek kan jy groter tronke bou (uitsette), beter polisiëring en hofprosedures hê (deursette) of wetsgehoorsame burgers kweek van jongs af wat norms en etiek skep wat teenstrydig met misdaad is(insette)
Weer terug by ouerskap. Die punt wat vir my uitstaan is ons as ouers is meestal betrokke tot die skep van ‘n standvastige omgewing en die skep van grense van wat aanvaarbaar is en nie wat ons kinders voorberei met die keuses wat hulle al gemaak het, maak, en gaan maak.
Ek en Angeli is in die prentjie nou meestal beperk tot min insette (waar ons vroeër meer aktief en rigtinggewend was) en as hulle eers uit die huis is, is ons met niks meer betrokke nie, verder het ons net hoop en drome vir uitsette van die kinders (hoop hulle doen goed, hoop hulle kry goeie werk, hoop hulle kry ‘n goeie gesin, hoop hulle het goeie gehalte van lewe), maar ek besef ter deë net hulle (en God) kan dit laat waar word. Hulle lewens tot nou was eers klei, wat nou vorm aan neem, en nog baie later afgerond word.
Hoe ek afleidings maak is, ons dek ons die tafel waar die kinders gaan eet. Ons het nie beheer of hulle gaan eet nie, maar ons kan hulle darem honger maak en die kos voorsien wat beperk word tot ons vorige ervarings en beskikbare geleenthede!
Bewuste vs Onderbewuste
Die bewuste –en onderbewuste is ‘n ingewikkelde konsep wat in hoofsaak beteken mens se gedrag word in hoofsaak gevorm deur die onbewuste en onderbewuste. So ‘n groot gedeelte van ons gedrag word bepaal deur faktore buite ons bewuste. Ek verstaan dit laat dit waarvan jy nie weet nie as die ruimte vir die Heilige Gees om in hoofsaak te werk, en waar ouers kinders onwetend beïnvloed en voorberei vir uitdagings. Die volgende skakel verduidelik Freud se weergawe van die psige in die verband. http://allpsych.com/psychology101/ego.html
Mens se onderbewuste is egter dus verantwoordelik vir meeste gedrag en reaksies. Daar word van die onderbewuste gesê dit is soos ‘n bandopname/video van alle insidente en gebeure in die mens se lewe wat met geboorte aangeskakel word en eers afgeskakel word as jy jou laaste asem uitblaas. Die bandopname/video sal alles opneem. Die groot ding van die onderbewuste is dat hy nie kan onderskei tussen die waarheid en ‘n leun nie. Die resultate of gedrag kom na vore as simptome. Verder sê hulle die onderbewuste is soos ‘n diep moeras van modder met elke insident vasvang wat soos ‘n lugborrel is en afhande van die invloed op jou sal lugborrels verskil in grootte en diepte. Die vermoë om met hipnoterapie, meditasie of enige manier wat suksesvolle intap op die onderbewuste met dinge wat pla of waaraan gewerk word is soos om die lugborrel met ‘n speld te steek sodat hy bars en jou simptome in die niet laat verdwyn.
Mense kan dus die bewuste net oppervlakkig en met selfinsig aanspreek, maar aanvaar dis net oppervlakkig en is baie beperk.
Daar is ‘n tegniek wat ons met spanbou gevolg het wat idee gee oor hoe daar met onderbewustes gewerk kan word. Dit werk as volg om in te tap by die onderbewuste, en is ‘n proses wat met musiek gevoelens na die oppervlak bring, maar ek maak dit hierna duideliker.
Die proses begin waar fasiliteerders verduideliklik die proses vir iemand wat op die reis wil gaan as dat hy veilig sal wees (hy moet hom verbeel hy is in ‘n warm gemaklike lugborrel, en hy kan uiting gee deur bewegings of net stil te staan en musiek gaan hom begelei in ‘n proses om emosies en gedrag beter te verstaan. Dit gaan juis om met seerkry emosies of met die huidige gebrokewerklikheid issues te deel. Daar moet ‘n persoon bystaan indien hy iemand wil beweeg (laat die persoon kan fokus op die musiek sonder om te worry oor eksterne faktore, maar hy kan sommer op sy bed ook lê en dan is nog ‘n persoon nie nodig nie. Daar sal een stuk musiek wees. Direk daarna sy storie vingerverf op ‘n A4.
Benodighede is waterverf , ‘n glas water, vadoek en koerantpapier om op te werk. Daarna moet die persoon die verklarende verfwerk as ‘n storie aan homself skryf. Hy kan daai skrywe bespreek met sy fasiliteerder, maar dis net vir sy oë. So keuses om dit te bespreek is opsioneel. Waarna die verfwerk en skrywe verbrand word as bevestiging as die einde van ‘n era .
Die proses fokus die bewuste op sielsvolle musiek (sonder woorde soos klavierstukke, klasieke musiek…) en baie instrukteurs/begeleiers verkies liggaamsbewegings wat nie oordrewe is nie, maar meer hand, arms, bene en kopbewegings wat gepaard gaan in ‘n spasie van so 1 vierkant ‘n meter, terwyl die persoon geblinddoek is. Na afloop van die musiek belewenis laat deelnemers hulle lei om die hele proses te gebruik vir vingerverf (waterverf) waar in ‘n storie uitgebeeld word, waarna dit neergeskryf word as ‘n brief aan jouself of ‘n dagboek inskrywing. Die laaste gedeelte is waar mens die praat oor die belewenis. Om daai gesprek toe te laat om geëksploreer word is ‘n onafhanklike persoon die aangewese. Sulke fasiliteerders kan afskop deur te vra waaroor die verf gegaan het en wat iemand wou hy uitbeeld en hoe sy ervaring/ inherente menswees komponente sy gedrag beïnvloed.
Verdere notas aan begeleiers/ fasiliteerders is: Die proses moet rustig wees, en met so min as moontlik teenwoordigheid van die begeleier. Die begeleier moet in en uit die vertrek beweeg (so 2 of 3 keer). Die begeleier begin die musiek en weer uitloop. Dan kom die begeleier weer in en sit die musiek sagter en begin die vingerverfproses en loop weer uit. Daarna kan die begeleier weer vra of iets benodig word en weer op die einde die skryf proses begin. Daarna kan die begeleier sekere gedeeltes bespreek (of nie) van die betekenis van die verfwerk. Die einde is waar die verfwerk, brief in ‘n brandseremonie verbrand word as teken laat dit die einde van daai beperkende gevoelens is.
Nota: Om die persoon so weerbaar en ‘oop’ is in so ‘n proses moet daar deurentyd agter die skerms gebid word vir beskerming en leiding van die Here vir die pad wat geloop gaan word, of as mens self deur so proses gaan vra vir die Here se beskerming, en vra vir Sy leiding op ‘n onbekende pad, en ‘n belewenis wat ‘n groot vooruitgang sal beteken en vir die nodige insig en wysheid. Na afloop van die proses dank Hom vir die beelde, geheue en beskerming. Dis ‘n pad waar die individu alleen op gaan, met slegs die minimum ondersteuning maar sal ‘n groot impak maak.
Weer terug by kinders. So kinders lê alle gebeure van insidente en veral woorde vas.
Nog ‘n manier om in die onderbewuste te werk is meditasie. Daarby saam klink iets soos meditasie oosters. Maar soos Willem Nicol
http://www.kalahari.net/christian/Gebed-van-die-hart/35688/24996818.aspx dis nie so nie. Dis maar net ‘n manier wat mens deur intens rustigheid toe laat dat mens beter kan luister (in stede van jou wat praat!) met God.
Die keuses wat kinders maak verseker hulle uitkomste, en ons as ouers bly soms afrigters maar ander kere toeskouers (veral met tieners!). Met moontlike aanmoediging, en rigtinggewende advies of voorbeelde van ouers hang die res van hulle af.
Diversiteit en ‘drielingseuns
Ek een keer ‘n navorsingsartikel gelees oor diversiteit. Daarin het gestaan dat dit ‘n biologiese feit is dat organismes wat dieselde as mekaar is mekaar vermy/uitroei in ‘n oorlewingstryd. Partykeer sit ons seuns in verhouding wat getipeer kan word as ‘gun – mekaar – nie – die son – oor -mekaar -se – koppe – nie’. Ek verstaan miskien die diversiteit-storie intellektueel as ‘n wedywering tot beperkte aandag, maar dan is my reaksie op die situasie egter een van onmiddellik kwaad en teleurgesteld. Meestal sê ek/ons iets, maar by tye sê ek niks (moeg gepraat).
So ruk terug het ek weer eens juis daaroor oor vir die seuns geskryf in ‘n brief wat meer as my gebruiklike minimum sê, wat die volgende was:
“Die eerste ding wat julle moet verstaan en glo is die beginsel van Jesus waar Hy alle sondaars lief het, maar sonde haat. So as julle eerlik met julleself is sal julle uitkom by die gevoel van ONVOORWAARDELIKE LIEFDE en dit beteken onder andere ek (en ma) is vir al ons seuns ewe lief, en julle kan niks doen om dit te verander nie-dis vas. Dus is goed wat ons oneindig seer maak as julle mekaar afkraak, lelik behandel of disrespekvol behandel. Ek kan dus eerlik en reguit vir julle sê ek haat ook enige lelike optredes teenoor mekaar, maar bly onvoorwaardelik lief vir julle almal.”
Ek weet as jy elke seun sy werklike gevoel jeens mekaar vasstel sal dit ongetwyfeld getipeer kan word as hope liefde. Ek voel ook in die eerste paar jaar het die seuns mekaar nie as ‘dieselfde’ of kompeteerend vir aandag ervaar nie maar die ‘tienerfase’ het dit totaal verander. Onder andere ons het al ‘n paar keer verwys na hulle oulike klein kind wees waar hulle goed oor die weggekom het, lekker vir mekaar gelag het en konsidererend was, en hoe dit nou (soms) verander het (op een van hulle foto’s is waar hulle as kleuters en opsigtelik gemoedelik en vriendelik. Op een van die ander foto’s is dit waar ek lê met al drie op my rug terwyl van gesigte se uitdrukkings wissel van skaterlag tot ondeund glimlag). In gesinne waar die rolle drasties verskil t.o.v mans, vrouens, ouderdom, belangstelling, buitemuurse aktiwiteite… is die uitdagings minder as met meerlinge van dieselfde geslag waar jy noodwendig meer getoets word deur raaiselagtige gedrag (veral as daar dieselfde belangstellings is- met die behoefte om te verskil, maar as een verskil sal hulle dit afmaak as logies is en dat dit ‘almal’ behoort te pla).
Toe die seuns klein (ek dink 8 jaar) was het ek ‘n program oor meerlinge en ESP gekyk wat beweer het as jy vir hulle vra om ‘n nommer onder 10 apart van mekaar neer te skryf is die kanse goed dat dit dieselfde gaan wees. Na die tyd probeer ek dit toe ook. Ek roep hulle en sê hulle moet elkeen op ‘n tafelhoek sit en ‘n nommer onder 10 skryf. Hulle doen toe die skryf, maar teken toe almal ‘n huisie. So ongetwyfeld is daar nog altyd ‘n noueband wat bo my begrip lê. So al is die band nie nou so ‘cool’ nie, maar ek weet daar is ‘n hegte band al verwys ek nooit daarna nie, en as een ‘n probleem met ‘n ander het, verstaan ek dit as het hulle dieselde behoeftes en soek dieselfde goedkeuring of prestasie en wil graag ‘n unieke individualis wees wat die bo-toon voer. As hulle om een of ander rede alleen by ons is verander hulle gedrag na inskiklik met geen aggressie nie, en baie inagnemend . Maar as hulle saam is verander dit tot meestens ordentlik. By dit kan ek ook net sê twee kom makliker oor die weg.
Die volgende kan dit miskien verklaar. Net na hulle geboorte was hulle twee(Anthony en Richard) baie siek met probleem longetjies van wee ‘n virus. Hulle was etlike dae in ICU met drips, respirators wat moes help asemhaal, en in hulle naeltjies was ‘n kateder om bloed gereeld te toets of hulle suurstofvlakke nog reg was. Richard het toe teen die respirator baklei en van sy longsakkies gebars. Gelukkig was die pediater by en kon die longetjie dreineer. Lank na die voorval het die pediater genoem net ±10% van sulke gevalle bly leef. Altwee is deur dieselfde tendense, en veral die ‘drips in hulle kop en kritiese punte was vir almal onstelend. Toe Richard sterker word sê die pediater ons kan Anthony huis toe. By die huis was Anthony omtrent onmiddellik heeltemal gesond. Die pediater het toe vir ons gesê Anthony het nooit die virus gehad nie en was daar om sy broer by te staan deur hulle spesiale band… (Na Richard se ongeluk van nou die dag en na sy hospitalisasie was met sy eerste dag by die huis vir ons almal rede vir blydskap. Maar met Richard se laaste dag in die hospitaal slaan Anthony uit met rooi kolletjies oor sy maag, nek en gesig. Dit vir ons gelyk na iets soos masels. Ek het dit maar verstaan as sy ‘simpatie staking’ want hy het bietjie kopseer gehad, en hy kon weer na vier dae skool toe gaan met die uitslag iets van die verlede)
Die verskil tussen ‘gewildheid’/ maat en leierskap/ouerskap
Daar was ‘n samajoor op Infanterieskool. Hy het vir ons troepe gesê ons moet ons sy taak mooi verstaan as hy vriende soek is dit buite die kamp, maar hierbinne gaan ons bars, want sy rol is om ons so goed as moontlik voor te berei en hy gaan ons voorberei deur te fokus op sy taak. So ons gaan hom as ongenaakbaar beleef, maar as ons klaar is sal ons bly wees want ons sal goed opgelei wees.
Die punt is vir my is ek sien myself nie as ‘n sersantmajoor nie, maar as die kinders maats soek is dit by hulle portuur, en as ons maats soek is dit by ons portuur. Dit wil nie sê jy ervaar nooit vriendskap of ligtelike oomblikke met kinders nie (eintlik is dit baie lekker en hopelik ervaar alle ouers dit vir ± 80 % van die tyd), maar eerstens bly jy die ouer en leier en baie later kom die vriendskaplike rol.
As ek van my op skool of op universiteits dae my huidige gedrag beskryf sal dit klink soos twee baie verskillende persone. Al wat ek kan dink verklaar dit is dat wat vir my destyds reg was, is anders as nou en veral met wat my rol verander het. Die vraagstuk wat ek wil uitlig is dat jou gedrag noodwendig sal verander om aan te pas by jou veranderende rol. Die punt is mens verander om aan te pas by jou huidige realiteit. Dus moet ‘n mens aanpas en jou gedrag gaan dus verander (en moet verander).
Emosionele intelligensie
So veel klem word gelê op IK, terwyl emosionele intelligensie dinge soos respek, liefde en emosies soos hartseer en blydskap omvat wat interpersoonlike gedrag beskryf. Om emosionele intelligensie(EI) te beskryf is makliker as mens die teendeel of baie beperkende gedrag te kan beskryf wat sal wees soos iemand wat skree, iemand anders dood praat, woede tantrums gooi, soos ‘n vuilbek of nukkerig is tydens konflik situasies optree. Ek glo daar word na IK en EI verwys om ons te wys na ‘n eiesoortige intelligensie, maar by dit wil ek ook redeneer jy moet ook Spiritualistiese Intelligensie kry. Volgens my is daar die baie ‘dom’ of ‘bankrot ‘kant, en dan die baie slim kant. Hoekom dit eiesoortig is by elkeen kan jy bepaal waar jy (of jou kinders) lê. Jy sal baie slimmes (IK) kry maar wat uit balans baie sleg vaar met die ander twee gebiede. Hoekom ek dink dit is belangrik vir kinders is dat van die mense sulke gebreke eers agterkom later in hulle lewe (dis soos alkoholisme die eerste stap na beterskap is as jy erken jy het ‘n probleem). Die ding is kinders kan emosionele intelligensie aanleer voordat skade aangerig word (proaktief i.p.v reaktief). Emosionele intelligensie word eers aangeleer deur die kinders by hulle ouers en daarna doen hulle-hulle eie ding doen, maar dis nooit vas nie en veranderbaar.
As ek een ding kan sê ek het in ‘n ouerhuis groot geword waar ek nie een keer gehoor het my ma moes skree of iemand doodpraat nie om ‘n punt te maak nie alhoewel dit altyd gemaak was – voorwaar ‘n voorreg! Nie ek of my suster moes ooit enige emosies onderdruk nie(juis daarom kan ons nou nog nie as konflik vermydende beskryf word nie maar is ook nie skoorsoekend nie).
Daarenteen waar IK verstaan word as byna vas, en is emosionele intelligensie op enige tyd verander- en vermeerderbaar.
Soos ek vir Angeli gesê het so ses jaar terug toe ons kinders begin het met die tienerfase. waar hulle tienerhormone hulle gedrag gaan beïnvloed maar volgens my is daar ‘n verskil tussen ongeskik wees en ander onverklaarbare ‘nuwe’ gedrag.
Ek het ook vir haar die voorbeeld gegee wat as volg is van as iemand wat op ‘n snelweg voor jou insny, en jy die keuse van hoe jou gedrag gaan wees :
1) as die insnyer klein en tingerig is sal sekere reaksies aanvaarbaar wees soos humeurig, rasserig of vloekerig , of
2)as die ou massief is met bultende spiere en ‘n geweer het sal jy liefs baie versigtig en bedees optree.
So situasies wat gedrag bepaal is ‘n klomp nonsens, en gee jou net verskonings oor wat vir jou pas.
Netso kan mens nie aanvaar dat tiener-hormone toelaat dat dit as verskoning dien vir swak gedrag nie. Dit kan voorkom of sekere situasies en geassosieerde hormone die gedrag bepaal, maar dis nie so nie. Mens kan slegs aflei die ‘hormone’ het slegs ‘n predisposisionele invloed op die mens wat sy sy gedrag beheer en sodoende die emosies en hormone altyd kan beheer en bepaal- ongeag (dit sluit PMS in).
Dan beskryf Daniel Golman in sy boek ‘The New Leaders’ hoe hulle twee en sestig CEO’s en hulle topbestuurspanne moes beskryf hoe gelukkig, energievol, en hoe gedetermineerd hulle was. Hulle was ook gevra hoeveel konflik daar binne die groep was, hoeveel persoonlikheidsverskille bestaan , hoeveel wrywing en emosionele konflik hulle belewe. Die studie het bevind hoe meer positief die klimaat hoe beter hulle samewerking- en hoe beter die finansiële resultate. Die teendeel was egter ook waar vir spanne waar baie konflik was was die resultate altyd ook sleg. Die gevolgtrekking wat hy gemaak het is dat die groepslede se emosionele intelligensie is die somtotaal van die lede soos getoon in hulle gedrag (veral m.b.t. harmonie). Die spanne wat goed gedoen het is daardie spanne wie se leiers juis geweet het hoe om ‘n balans te handhaaf tussen fokus op die taak maar ook op mense te fokus deur hulle kwaliteit van verhoudings hoog hou en op taak elemente te fokus en sodoende die harmonie, hoë prestasie en goeie resultate. Hulle het ook bevind daardie spanne waar bestuurders nie oor die weg gekom het nie se resultate was deur die bank sleg. Hulle het verder gesê dis so voorspelbaar dat hulle ‘n algoritme gebruik wat sê vir elke 1% verbetering in klimaat is daar ‘n 2% verbetering in resultate.
Ek is ook baie seker jy sal dieselfde tendens is by families kry. In harmonieuse huise sal kinders beter vaar, en in huise waar onenigheid dag in en uit die norm is sal mens kinders kry wat swakvaar, ‘n swak selfbeeld het en hulle toekoms self al hoe meer wegkalwe. Ons as ouers dek dus die tafel met ons huidige gedrag wat die toon aangee vir ons kinders se gemoedstoestand en siening van die toekoms. Jy as ouer kan nie net jou hande opgooi en saamslaan nie. Die punt is ons as ouers moet die verantwoordelikheid aanvaar wat saam met die posisie en situasies gaan en veral ‘n hoë premie plaas op ‘harmonie’.
Ek wil dus die stelling ook maak vir elke 1% verbetering in gesinsklimaat behoort te lei tot ‘n 2% verbetering in kinders se prestasie by die skool. Net so min as wat jy iemand kan dwing om te lag en jy moet hom eers ‘n grap vertel laat hy lag. So is emosies en ‘n gevoel van welstand die gevolg van iets, en vir daai ‘iets’ is ALLE gesinslede is saam daarvoor verantwoordelik.
Daar is ook ‘n bevinding laat spanne wat onder ongelukkige en stresvolle omstandighede beleef se IK’s dramaties daal, en onder ‘n lekker klimaat sal die IK weer toeneem tot hulle volle potensiaal. Ek wonder hoeveel kinders sal beter presteer met vakke, beter oor hulle self en die toekomsvooruitsig voel as hulle huisklimaat verbeter.
Ek sou sê mens se lewe is ‘n reeks maklike en moeilike tye. Mens kry as deel van jou lewe sekere ‘toetse’ of moeilike tye/gebeurtenisse en hoe jy daarop reageer sê meer oor jou as die gemaklike tye. Dis maar soos hulle sê jy kan nie karakter bou in goeie tye nie.
Dan is daar die storie van Victor Franckl ‘n Joodse oorlewende van die Nazi kampe om later baie invloedryk en toonaangewend werk in die sielkundeveld gedoen het. Ek is baie seker in sy afgryslike omstandighede is sy gedrag en ‘self talk’ nie deur sy situasie bepaal nie, sodat hy later baanbrekerswerk kon doen in die sielkunde. Wat vir my uitstaan hier is mense dink hulle reaksies is afhanklik van situasies. Vat maar eerder ouens soos Victor Franckl wat ongeag sy situasie in die moordkampe nogsteeds kon trots wees op sy reaksies en gedrag. Ek vermoed sy gedrag tydens die kampe was beperk tot ‘die regte geluide’ en sy oorheersende gevoel maar eers onderdruk het tot die situasie verander het (en nogsteeds bly fokus het op die positiewe en waardetoevoeging) waar hy vrylik sy mening kon lig, en soos wat hy natuurlik wou wat tog duidelik meer sinvol was.
In Victor Franckl se boek Man’s Search for Meaning, sê hy die mense wat die doodskampe oorleef het was die wat ‘n visie vir die toekoms gehad: “…everything can be taken from a man but one thing: the last of the human freedoms — to choose one’s attitude in any given set of circumstances, to choose one’s own way.” Verder was hy veral baie gekant teen mede kollega’s se redenasies van ‘reductionism’ (nog voor die oorlog) ‘n voorbeeld van dit was waar mede neuroloë (hy het homself eers as neuroloog in sy vroeë loopbaan toetrede gekwalifiseer). Die neuroloë het gedrag sien as ‘n neweffek van die brein, en glad nie erken dat daar iets soos spiritualiteit is nie. Hy het gesê daar was destyds ‘n hele generasie wat geïndoktrineer deur wetenskaplikes word om mense eng te sien as basiese oorsaak-gevolg wesens.
Daarby is Frankl se boodskap soos weergegee deur Dr C George Boeree “There exists, beyond instincts and selfish genes,” beyond classical and operant conditioning, beyond the imperatives of biology and culture, a special something, uniquely human, uniquely personal. For much of psychology’s history, we have, in the name of science, tried to eliminate the “soul” from our professional vocabularies. But perhaps it is time to follow Frankl’s lead and reverse the years of reductionism”.
Insig
Die vermoë om te (bly) verander word aan die hand gewerk deur selfinsig. Ander kan net sekere insette lig wat insig ondersteun, maar as dit nie tot selfinsig lei nie gaan niks verander nie. Ons as ouers gaan van wee ons ervarings sekere insigte deel maar net kinders kan met selfinsig sekere goed stop en met ander begin. Die probleem lê volgens my juis die tyd verskil tussen insig van ouers en selfinsig van tieners. Nie verniet sê hulle die tieners is die slimste ding op aarde nie. Hulle dink hulle het die antwoorde op alle dilemmas, en die het wel partykeer, maar ander kere nie.
Leer karbestuur is ‘n metafoor vir ontwikkeling
Een van die lekker taakies is om ons drie 17 jariges ten volle te leer karbestuur. Dit ongetwyfeld een van die hoogte punte vir my . Volgens my is daar die ‘meganistiese ‘ deel soos bepaal deur die wet en hulle leerlinglisensies, vir my was/is die dinamiese egter die gedeelte wat verskiklik lekker is. Die dinamiese gedeeltes waar hulle eers moes leer wegtrek op ‘n afgeleë grondpad, tot waar hulle almal goed in die dorp ry was vir my ongetwyfeld een van die hoogtepunte.
Pieter van Jaarsveld het eenkeer in ‘n aanbieding grappende wys onder andere vertel mens leer by jou ma van ESP/dubbel standaarde om ‘n trui aan te trek as sy koud kry of dink jy is koud. So hier is wat ek wil sê werk met dit wat jy sien en nie met aannames nie.
Vir my is die punt ook mens sê goed vir hulle bes wil, en so ook met bestuur. Maar op die ou end leer jy hulle meer met jou gedrag. Eintlik moet jy sê maak presies soos ek en ma en ons sal met ons woorde dit probeer helderder maak.
Ons het nou onlangs op ‘n Saterdag Krugersdorp toe gegaan, en ek kon gemaklik soontoe ry, maar moes toe van Krugersdorp op ‘n baie besige Ontdekkers na North Cliff toe en weer terug en weer na die ander kant van Johannesburg na my sister toe gaan. Net na my beroerte kon ek lekker kommentaar lewer as ek nie bestuur nie. Maar nie die slag nie! Die punt vir my is en daar kom ‘n (kritiese) tyd wat jy ‘n voorbeeld is en alle woorde verloor hulle waarde. Soos hulle sê ‘talk is cheap, but money buy the wisky’. Ek was baie bly die kar het nie een keer gestol nie, en dat ek mooi beheer gehad het met die wegtrek by heuwels met spitsverkeer. Op sulke tye gaan dit oor baie meer as woorde en lesings maar oor jou voorbeeld Op sulke tye gaan dit nie oor my egoïstiese behoeftes nie, maar om as goeie voorbeeld te dien wat navolgswaardig is
‘n Ouer se gedrag se gedrag spreek harder as woorde
A teacher affects eternity; he can never tell where his influence stops –Henry Adams
Die grootste ‘teacher’ is ons as ouers. Goeie of slegte voorbeelde kan mens nooit bepaal wanneer die invloed gaan stop nie bes moontlik na baie geslagte oor baie jare. Ek van mening daar word op swak punte gefokus terwyl dit baie eng as die totale prentjie afgemaak word terwyl die totale prentjie is van geboorte tot waar jy nou is. Mens kan kinders dus nie label as ‘slim’ ,’dom’, ‘betroubaar’, onbetroubaar … nie. Mens kan wel sê iets was sleg sonder om dit as ‘n label te personialiseer deur te fokus op die aspek waarmee jy verskil sonder om die hele persoon daarmee te beskryf (speel die bal en nie die persoon nie).
Ek wil die stelling prakties maak deur te verwys na my omstandighede waar ek laas in 2003 die broodwinner was en al my vriende het ‘n senior pos wat hulle dag omskryf terwyl ek by die huis sit, skottelgoed was en die kinders rondry- nie goed vir mens se selfbeeld nie, en nog slegter as ‘n navolgingswaardige voorbeeld. Ek gee nie om oor die ingreep van die beroerte op my lewe nie, maar die verlies van my vorige loopbaan is baie moeilik verwerkbaar en juis omdat dit so swak voorbeeld vir die kinders is maak dit nog erger. Mens kan so fikseer op die korttermyn probleme dat die volledige prentjie negeer word. Die kinders staan miskien voor loopbaan keuses, maar ek ook! Al wat ek beslis weet ek moet vinnig my gedrag wesentlik verander, maar ek kan nie die onlangse omstandighede gebruik om my te tipeer nie sodat dit blyk van toepassing te wees nog altyd nie.
Afsluiting
Ter afsluiting net die storie van Abram Maslow (Hergenhahn p 330) wat vertel van Maslow wat voor sy eie kinders ‘n entoesiastiese ondersteuner van die behavioriste was (die sielkunde bestaan uit verskillende skole van denke, onder andere behavioriste waarvan Pavlov die verband tussen stimulus en respons verbind het met sy op ‘n klokkie se geluid wat toon dat die honde gaan kos kry en dan begin die honde al kwyl) se redenasies was dus gekoppel aan die van behaviorisme. Toe hy sy eie kind die eerste keer vas hou verander hy oomblik om ‘n Humanis te word. Die humanistiese psigologie is ‘n denkrigting wat veral selfverwesenliking beklemtoon. Die groot ding is hy was vas oortuig van sy redenasies voor sy eie kind en toe verander (hy sê so vinnig soos die klap van ‘n donderslag) hy om baie erkenning te kry en hy het homself beskryf dit het sy benadering tot sielkunde so verander laat hy die behavioriste sien as ‘foolish’. Hy sê ook elkeen met ‘n baba kan nie meer ‘n behavioriste wees nie. Ons as ouers het die onsettende groot en lekker uitdaging om ons kinders te lei op ‘n duistere pad van totaal afhanklik tot onafhanklike jong mense wie se gedrag en besluite onder ouers se beheer uit is
Recent Comments