’n Nuwe bundel van Breyten Breytenbach genaamd katalekte, met as onderskrif “artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan”, is pas uitgereik.
Katalekte, wat “ ’n versameling fragmente van ou dig- of prosastukke” beteken, kom ná Die windvanger(2007) en Die beginsel van stof(2011).
Die bundel van 212 bladsye sluit in altesame 20 afbeeldings in kleur, van pampoen tot nar, wat ’n integrale deel van die bundel is. Die leser tref in die nuwe bundel van sy belangrikste temas aan, naamlik afskeid, verganklikheid en die dood, luidens ’n persverklaring van die uitgewer Human & Rousseau.
“Maar tog is daar ook, soos altyd, gedigte wat ’n viering van die lewe en van die liefde” is. Soos voorheen, gedigte wat aards is én liries, sintuiglik én abstrak, eenvoudig én kompleks, onthutsend én teer. En steeds, die assosiasies en letsels, oorblyfsels, flardes, van onvolledigheid.”
Die bundel sluit in enkele prosagedigte wat herinner aan die bundel Katastrofes van 1964, dieselfde jaar waarin sy gedigtebundel Die Ysterkoei Moet Sweet uitgereik is. Die nuwe bundel sluit gesprekke in met vroeëre selwe van die digter en die werk van digters soos die Afrikaanse digter Boerneef (die skrywersnaam van Izak van der Merwe), by wie hy destyds aan die Universiteit van Kaapstad klasgeloop het. – Willem de Vries
) Van Breytenbach se visuele kunswerke wat hy in die gevangenis geskep het, sal op die Suidoosterfees van 29 Januarie tot 3 Februarie in die Kunstekaap-skouburg in Kaapstad te sien wees.
Recent Comments