Uittreksel uit ‘n nuwe eBoek “Verhale uit die Ander Wêreld”

February 19, 2013 in Uncategorized

Afrikaanse eBoek

Afrikaanse eBoek


Die Brandstapel


Uit die eBoek: Verhale uit die Ander Wêreld deur Andrew Barlow.

Die mens is `n bang wese. Daar is baie dinge waarvoor mense bang is en die belangrikste daarvan is seker die onbekende. Dit is verstaanbaar. As mense oor die algemeen baie sterk aan iets glo dan is daardie geloof `n gemeenskaplike eiendom. Enigiets wat dit bedreig, word dan met `n gesamentlike afkeur behandel en wee die enkeling wat die vrees ontketen.

So was dit vir baie lang eeue in die Westerse wêreld toe die kerk geglo het dat hy bedreig word deur sektes wat `n ietwat anders leerstelling as die amptelik goedgekeurde verkondig. Die staat was sonder uitsondering in baie nou vennootskap met die kerk. Dat daar van tyd tot tyd ook hewige botsings tussen staat en kerk ontstaan het is ook so maar dit verander nie die afhanklikheid van die twee aan mekaar nie.
Die duiwel was gedurende daardie baie lang eeue vir byna al die mense `n werklikheid. Die duiwel was dan ook die grootste bedreiging vir die kerk en die staat. Mense wat dus die duiwel aangehang het of wat deur die gemeenskap of die kerk of staat se organe en verteenwoordigers vermoed is die duiwel aan te hang was dan ook met die grootste vrees en veragting bejeën. Dit was maklik om `n onskuldige slagoffer te geword van so `n beskuldiging – en dit was uiters moeilik om die beskuldiging te weerlê.
Soms was die verhore op beskuldigings van kettery en heksery deur die sekulêre of die kerklike howe verhoor. Gewoonlik is die beskuldigde erg gefolter en gemartel om `n bekentenis van skuld te verkry. Die metodes wat gebruik was is deesdae uiters weersinwekkend. Geen mens; nouja byna geen mens; kon die foltering en marteling weerstaan nie en in byna al die gevalle is bekentenisse dus verkry. Almal, of byna almal se gewetes was dus bevredig. Reg het geskied. Nog `n gevaar vir die samelewing was verwyder.
Minderheid groepe was erg geteiken gedurende die tydperk. Een van die groepe wat die ergste onder die vyandigheid deurgeloop het was die Jode.
In die jaar vyftien honderd ses en dertig het die Spaanse Inkwisisie talle mense op allerhande klagtes verhoor wat op een of ander manier na die mening van die priesters die kerk en dus die geloof bedreig het. In die dorp in Zaragoza in Spanje het in daardie jaar `n Joodse man gesterf. Hy was `n handelaar en na sy dood het sy weduwee genoeg geld gehad om van te leef. Sy het `n huis aan die buitewyke van die dorp gekoop en alleen daar gaan woon.
Die vrou was lank en slank en soos die meerderheid van haar rasgenote het sy lang donker hare gehad. Haar oë was donker bruin en haar vingers lank en slank aanduidend daarvan dat sy `n fyn aanvoeling vir die kunste en musiek gehad het. Vir `n paar maande het sy rouklere gedra en toe soos voorheen toe haar man nog geleef het, het sy weer helderkleurige rokke gedra. Verskeie mans – Christene en Jode het toe by haar probeer kuier maar sy het op `n hoflike wyse aan hulle almal dit duidelik gemaak dat sy nie in hulle aandag belangstel nie.
Later was haar enigste besoekers Joodse vrouens.
Mense wat by haar huis verbygeloop het, het dikwels gehoor hoe sy musiek instrumente bespeel en sing. Sy het Hebreeuse liedere gesing. Die musiek was ontroerend en het vertel van die lang stryd wat haar mense gehad nadat hulle baie eeue tevore uit hulle tuisland verdryf is deur eers die Assiriërs en toe later deur die Romeine.
Dit was moeilike tye want die hele Europa en Brittanje het gebuk gegaan onder die periodieke voorkoms van die Swart Pestilensie wat miljoene mense afgemaai het. Mense was maklik agterdogtig teenoor andere. Die oorsaak van die siektes was nie bekend nie en miljoene katte is doodgemaak omdat hulle ook onder verdenking was. Die rotte bevolking, draers van die siekte, het dus vermeerder en die verspreiding en voorkoms van die pestilensie vererger.
Naomi Cohen, die vrou, het verskeie katte aangehou.
Iemand het by die plaaslike biskop gaan kla. Dit was genoeg. Naomi is gevange geneem en voor die Jesuïete tribunaal gebring. Sy was aangekla van kettery – omdat sy haar nie soos, die bevel op alle Jode in Spanje gerus het, as Christen bekeer het nie en omdat sy heksery pleeg deur die musiek te maak, katte aan te hou en die pes te versprei. Sy het die aanklagte ontken en geweier om bekeer te word. Die priesters het haar gefolter en gemartel. Sy het steeds geweier om aan die eise te voldoen en het ontken dat sy `n heks was.
Toe hulle uiteindelik nie daarin kon slaag om haar wil te breek nie is sy skuldig bevind en gevonnis om aan die brandstapel te sterf.
Op die bestemde dag is sy na die brandstapel gelei. Toe sy daar aan die paal tussen die brandhout vasgemaak is, het sy aan die biskop gesê:
“Jy sal van nou af aan nie meer rus hê nie!”
Die hout is aan die brand gesteek en sy het daar gesterf – soos baie duisende ander mense dwarsoor Europa en Brittanje gesterf het.
Daardie aand het die biskop weereens, soos op alle aande, aan die hoof van die tafel gaan sit om te eet. Daar was elke nag baie mense, almal belangrik in die samelewing, aan tafel. `n Bediende het sy glas vol wyn geskink en ander bediendes het die ander mense se glase vol geskink.
Toe hy sy glas lig om `n heildronk in te stel het hy en al die ander mense verstar.
Langs hom, skuins by en effens voor sy linkerskouer het die Joodse vrou gestaan. Lang swart hare, donker bruin oë, `n ligblou rok en haar regterhand langs haar sy gelig. Met die wysvinger gekrom in die teken van bevel om nader te kom. Stil. Geen geluid nie.
Die biskop het flou geword en van sy stoel afgeval.
Later het hy in sy kamer in die bed bygekom. Dit was pikdonker. Geen lig het gebrand nie. Geen lig het van buite gekom nie. Die klein venster was hoog teen die muur want sy woning was `n kasteel. Hy kon niks sien nie.
Toe in die donker sien hy haar weer. Sy staan langs sy bed duidelik sigbaar netsoos sy in die eetkamer was en sy roep nog steeds met die gekromde wysvinger. Hy het weer flou geword.
Daardie dag het hy beter gevoel en `n bietjie geëet. Toe het hy geslaap.
Toe dit aand geword het, het hy weer aan die hoof van die tafel gaan sit en gehoop dat die vrou nie weer sou verskyn nie. Hy het gedurende die dag vuriglik gebid en die priesters gevra om ook te bid dat hy verlos sou wees van die vrou.
Weereens toe die bediende sy glas vol wyn skink en hy dit oplig het die vrou verskyn. Weereens het hy flou geword. Weereens het hy daardie nag wakker geword en het sy weer in die stikdonker by hom verskyn.
Dit het `n week lank aangehou. Die biskop het kranksinnig geword en in dolle vrees een nag uit sy kamer gehardloop en by die lang trappe afgeval en sy nek gebreek.

Kliek hier om verder te lees!

#eBoeke

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>