Afrikaans word gehoor in die vergadersaal van die Nederlandse Eerste Kamer
December 10, 2012 in Uncategorized
Die Interparlementêre Komitee (IPK) van die Nederlandse Taalunie se hoorzitting oor die stand van Afrikaans in Suid-Afrika het in die geskiedkundige senaatsaal van die Nederlandse parlement op 3 Desember plaasgevind. Die getuies wat die komitee toegespreek het was prof. Koos Malan, staatsregsgeleerde aan die Universiteit van Pretoria, dr. Michael le Cordeur, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, asook Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, en Henry Jeffreys, voormalige redakteur van Die Burger. Beeld
Die IPK bestaan uit Nederlandse en Vlaamse Parlementslede en hul vrae is in Nederlands gevra en in Afrikaans geantwoord. Wat ‘n voorreg om Afrikaans te hoor in die setel van demokrasie in Den Haag!
Flip Buys het die vraag oor hoekom Afrikaans, treffend geantwoord met ‘n aanhaling van Breyten Breytenbach “ Afrikaans is my asem”. Die voorsitter van die Kommissie, Martin Bosma se vertaling van asem as adem in Nederlands het ‘n Vlaamse verteenwoordiger genoop om by te voeg dat Vlaams ook praat van asem en nie adem nie. Die lede van die Taalunie is dit eens dat Afrikaans nader aan standaard Nederlands is as ander Nederlandse dialekte.
Dat Afrikaans so reg geklink het en so tuis was in die Vergadersaal van die eerste kamer met sy ryk Germaanse geskiedenis het net weereens bevestig dat nie Nederlands of Afrikaans hul wedersydse verbondenheid kan of mag vergeet nie.
Die Vergadersaal van die Eerste Kamer is geleë te Binnehof 22, Den Haag. Binnehof is die gebouekompleks wat al eeue lank die hart is van die Nederlandse politiek. Die stad Den Haag het ontstaan rondom die Binnehof. Ek is begroet op die binneplein deur ‘n kombinasie van sneeu, wind en reën en nadat ek navraag gedoen het by ‘n ingang waar die vergadersaal is het ek kennis gemaak met ‘n Nederlander van Utrecht, in ‘n besigheidspak, wat dadelik my Afrikaanse aksent herken het en ook op pad was na die hoorzitting. Saam kon Nederlander en Afrikaner die Eerste Kamer der Staten-Generaal soek.
Die Eerste Kamer der Staten-Generaal, ‘n monumentale vergadersaal wat gebou is in opdrag van die State van Holland en West-Friesland deur die befaamde argitek Pieter Post. Die vergadersaal moes die nasionale en internasionale invloed van die state Holland en Wes-Friesland uitbeeld. Wat my veral opgeval het is die plavonskilderye van Andries de Haen en Nicolaas Wielingh wat die Hollandse staatmanskap uitbeeld met hul verhoudings met verskillende volke waarmee die Republiek wêreldwyd bande gehad het. Die Statenzaal word sedert 1849 as vergaderplek vir die Eerste Kamer gebruik.
Flip Buys het betoog dat Afrikaans behoort aan almal wat dit praat. Flip Buys het ‘n prentjie geskep waar Afrikaans se posisie verswak as hoër funksie taal as gevolg van die funksionele eentaligheidsbeleid van die Regering. Die laervlak funksies gedy wel soos gesien kan word uitstekende Afrikaanse musiek, letterkunde en die groei van kunstefeeste. Die krisis waarin Afrikaanse moedertaalonderrig hom bevind word ook ervaar deur ander inheemse tale. Die uitdaging wat Afrikaans in die gesig staar is volgens hom dat Engels gesien word as die taal van geleenthede. Flip Buys het NP van Wyk Louw aangehaal wat geglo het moedertaalspreek ‘n broodsaak is.
Dr. Michael le Cordeur, Voorsitter van die Afrikaanse Taalraad het aan die kommissie getoon dat die nuutste sensus-syfers aantoon dat 7 Miljoen Suid-Afrikaners Afrikaans as huistaal het. Sedert die vorige sensus het Afrikaanssprekendes met 1 miljoen toegeneem. Afrikaans het volgens le Cordeur sedert 1993 sy vryheid verkry. Afrikaans het op grondvlag vlerke gekry. Le Cordeur het ook uitgewys dat alhoewel Afrikaans op grondvlak blom dit ‘n knelpunt is dat die regering nie Afrikaans ondersteun nie. Hy het die bemagtiging van Afrikaanssprekendes bepleit.
Volgens prof. Koos Malan word Afrikaans nie voldoende verskans in die Grondwet nie, ‘n voorbeeld daarvan is dat die bepaling dat ‘n burger by ‘n staatsinstelling in sy eie taal bedien moet word nie ingesluit in die Grondwet nie. Afrikaans het hoofsaaklik geprivatiseer geraak as daar gekyk word na KykNet, Napers en organisasies soos Afriforum. Die beleid van verteenwoorigheid van die regering benadeel ook Afrikaans, omdat bestuurs- en leierskapposisies nie toeganklik is vir Afrikaanssprekendes nie.
Dit het duidelik geword uit die getuienis wat gelewer is dat Afrikaans springlewendig is maar aangesien die taal geen ondersteuning kan verwag van die regering nie, ekonomiese bemagtiging die enigste opsie ter oorlewing is. Myafrikaans.com is ook gestig om die mark vir Afrikaanse eBoeke en e-produkte wêreldwyd uit te bou. Afrikaanse eBoeke het veral groot potensiaal in Nederland, België en lande wat ‘n groot getal Afrikaanssprekendes het. Afrikaanse eBoeke en Afrikaanse musiek is ‘n venster waarin Afrikaans as ‘n taal bekend gestel kan word wêreldwyd.
Die IPK is versoek om ‘n staande komitee vir Afrikaans saam te stel wat uit ‘n werkgroep moet bestaan van Nederlandse en Afrikaanse belanghebbendes. Die werkgroep moet veral kyk hoe die Afrikaanse kultuur bevorder kan word in Europa. Die werkskommitee kan skakel met Afrikaanse organisasies en internasionale beste praktyke ondersoek met betrekking tot die beskerming van minderheidstale soos byvoorbeeld Vlaams.
Kyk ook na Rigtingbedonnerd ‘n kort eBoek uitgegee deur tafelberg uitgewers oor die Afrikaner post 1994.



