‘n Nuwe Afrikaanse eBoek oor die Recces

November 13, 2012 in Uncategorized

‘n Nuwe Afrikaanse eBoek oor die Recces is bekend gestel.

Oor die Recces soos hulle bekend is, die Spesiale Dienste of Verkenners is baie min bekend.

Daar is min oor geskryf en dit is ‘n jammerte. Hulle was uitgesoekte manne, die toetse wat hulle moes slag, beide die fisiese en die geestelike is byna bomenslik.

Hulle het, hulle moes dikwels alleen of slegs twee of ‘n paar meer ver agter in vyandelike gebied werk. Hierdie eBoek is ‘n denkbeeldige roman oor die lewe van veral een maar ook sy makkers se lewens as Recces.

Lees gerus hoofstuk 1

Die Recce

een

 

Waar begin en eindig Namakwaland, die Karoo en die Kalahari? Hulle is eindeloos en eners en baie verskillend. Daar kan jy baie ver sien. Die gesigseinder is altyd onmeetbaar ver, daar waar die blou so bleek word dat dit nie meer gesien kan word nie. Dit is waar die dae snikhittig warm kan wees en die nagte yskoud, selfs in die somer. Dit is die wêreld waar die San mense van hulle laaste vestings gehad het.

Gert Myburgh was op die plaas Eindeloos, min of meer in die middel van die gebied gebore. Dit was tussen Stoffelsvlei en Karreeboschkolk geleë, daar waar die Hantamberge en die Bokkeveldberge ligblou en klein in die verte gelyk het. Van jongs af het Gert die indruk geskep dat hy roekeloos is. Dit het gelyk asof hy nie juis bang was vir enigiets nie. In daardie wêreld sou jy maklik nie lank kon bly leef het as jy nie versigitg was nie.
Namakwaland en die Karoo se mense is taai en hard en sterk. Hulle moet so wees om daar te kan oorleef, dis `n wêreld wat nie genade met swakkelinge het nie. As jy nie geestelik sterk genoeg is om sy geaardheid te bemeester nie breek hy jou. As jy geestelik sterk genoeg is maak hy jou liggaam netso sterk. Maar die mense van daardie wêreld is nie gevoelloos nie. Dit is `n wêreld wie se mense gewoonlik stil is maar met `n diep waardering vir die mooi dinge van die lewe en verdraagsaamheid teenoor andere.
Toe Gert ses jaar oud was het sy pa vir hom `n ponie en `n windbuks gegee. “Jy ry nie alleen nie. As jy alleen ry neem ek die perd weg. Iemand moet altyd saamry. As iets gebeur kan een van die twee altyd kom hulp haal, as jy alleen is kan dit nie gebeur nie. Jy skiet geen voëls of enige ander lewende ding met die windbuks nie. Die enigste lewende goed wat jy mag skiet is giftige slange soos koper kapelle en pofadders as hulle naby die huis is. En jy moet versigtig wees, die geelslange sal jou aanval as jy mis skiet. Jy moet baie seker maak dat jy raak skiet. Behalwe vir slange mag jy net na teikens skiet. Ek sal nie weer hieroor praat nie. As jy nie luister nie verloor jy die goed.”
Gert het met al die erns van `n ses jaar oue seun na sy pa gekyk en gesê “ek sal luister, ek verstaan.”
Gert het toe begin perdry. Die werkers op die plaas was almal baie goeie ruiters en hulle en sy pa het hom gereeld geleer. As hulle na dele van die plaas wat nie te ver van die opstal was nie moes gaan het hulle hom saamgeneem. Sy pa het hom geleer hoe om te skiet. Hoe om die sneller te druk sonder om die geweer te ruk, hoe om asem te haal as hy aanlê, hoe om te skiet as hy sit of lê en hoe om uit die vuis te skiet en veral om vinnig te skiet. Gert het `n baie goeie ruiter en `n uitstekende skut geword.
Sy ma het vir hom skool gehou. Die naaste plaaskool was te ver weg. Toe hy agt jaar oud was, sy verjaardag was vroeg in Desember, het sy pa een aand gesê “jy sal van nou af op Calvinia moet skoolgaan. Daar sal jy by oom Kerneels en tant Sue bly. Dit sal beter vir jou wees as om in die koshuis te bly. Jy ken hulle en hulle kinders en julle sal goeie maats wees. Jy sal elke vakansie huis toe kom en dan kan jy jou neefs en niggies saambring as hulle hierheen wil kom. Dit is te ver en die paaie is te sleg om jou met lang naweke te gaan haal maar miskien kan ons af en toe `n plan maak. Jy verstaan mos dat jy skool toe moet gaan?”
“Ja pa, ek verstaan maar ek wens nogtans dat ek hier kon bly.”
Sy ma het hom na haar toe getrek en vasgehou. Stil. Niks gesê nie. Die moeder hart was te seer om te praat. Die stil seun wat van kleintyd af Namakwaland was. Stil, sterk en slim – `n seun wat lyk asof hy vir niks skrik nie maar wat `n kat of `n hond kon vashou en troos en help as dit seergekry of geskrik het. Wat `n veldblom tussen al die ander blomme in die lente kon uitsoek en dit bekyk en bewonder en dit nie pluk nie maar weer versigtig terugsit soos dit was. Wat fyn kon luister as die voëls kwetter en sing. En wat selfs met begrip en waardering snags kon luister as `n jakkals ver weg roep en `n ander jakkals antwoord.
Toe hy die ponie en die windbuks aan sy seun gegee het, het hy Gau geroep.
“Kyk Gau van nou af aan is jou werk om vir Gert op te pas en te leer. Jy moet hom leer hoe om perd te ry, hoe om spoor te sny, hoe om wild te bekruip, hoe om die veld plante te ken en te weet watter van hulle geëet kan word en watter giftig is, watter plante vir `n mens kan water gee as al die ander water opgeraak het. Jy moet hom alles leer wat `n Boesman weet. Net een ding moet jy los. Ek wil nie gif pyle op die plaas hê nie. As ons wildsvleis nodig het sal dit soos gewoonlik met `n geweer geskiet word. As hy groter is sal jy hom dit ook leer. En jy moet hom oppas. Is dit goed so?”
“Dit is goed so. My hart is nou baie sag want ek het die klein mannetjie al lankal bekyk en gedink ek sal hom graag wil leer. Ek sal hom netso goed soos `n Boesman in die veld maak en ek sal hom oppas. Maar ek sal hom gereeld neem na waar met die skaap gewerk word sodat hy dit ook kan leer.”
Gert het al lankal baie van Gau die Boesman gehou. Gau was so raseg soos `n Boesman hedendaags kon wees. Sy skrefies oë het niks mis gekyk nie. Hy het die grootste perd op die plaas as sy ryding geëien. Dit was `n groot swart perd en dit was moeilik om die stiebeuels hoog genoeg op te trek sodat Gau se voete dit kon bykom. Die perd het hy Mi’Kai genoem. Gert se ponie was `n blou skimmel en Gert het die perd Hantam genoem. Toe sy ma hom vra sê hy sy perd is so `n ligblou; die Hantamberge lê so `n ligblou in die verte en hulle lyk van hier af nie groot nie en sy perd is nie groot nie.
Die twee het onafskeidbaar geword. Die volwasse Boesman – hoe oud was hy? Hoe weet `n mens hoe oud is `n Boesman? Dis eers as hy na aan die dood is dat jy weet dat hy oud is. Tussenin raai jy maar net. Die Boesman en die jong wit seun. Hulle was gedurig in die veld. Soms te perd maar dikwels te voet. Toe Gert hieroor kla het Gau gesê “as `n mens wil sien wat op die grond gebeur het moet jy na aan die grond wees. Jy kan baie van `n perd se rug af sien maar te voet kan jy baie meer sien. `n Mens moet lank en ver kan loop. Jy kan nie altyd `n perd hê om op te ry nie, dan moet jy te voet loop en as jy nie daaraan gewoon is nie kan jy nie ver en vinnig loop nie. Kom laat ek jou wys.
“Vandag gaan ons te perd ry hier van die huis af tot by daardie rante daar ver. Dan kyk jy hoeveel plante wat `n mens kan eet jy kan sien. Dis nou die plante wat jy nou reeds ken. More loop ons soontoe dan kyk jy weer en ons sal sien hoeveel jy vandag gesien het en hoeveel jy more sal sien.”
Hulle het te perd gery en Gert het drie keer geroep en na `n plant gewys. Die dag daarna het hulle te voet geloop en Gert het kort-kort na `n plant gewys.
“Sien jy nou” het Gau gesê, “dit is baie lekker om perd te ry en soms baie beter as om te loop maar as `n mens goed op die grond of enigiets na aan jou wil sien moet jy loop. Soos jy groter word en meer leer sal ek jou leer om baie vinnig te loop en nogtans alles te kan sien wat jy moet sien.”
Gert het geleer om plante soos oukossie. Kambro, raap, uintjiet’neitjie, slymstok, baroe, kambroe, koekemakranka en baie ander eetbare plante te ken en waar die beste plekke is om vir hulle te soek. Hy het geleer watter plante gevaarlik is en vermy moes word.
Gau het hom geleer om die spore van die verskillende wildsoorte uit te ken en hoe om die ouderdom van enige soort spoor baie noukeurig te skat. Dit was iets wat jy in die veld moes leer. Die tekens was nie deurgaans dieselfde nie. Dit het onder andere daarvan afgehang of die wind gewaai het of nie, hoe die grond of sandkorrels om die kante van die spoor gelyk het, hoe die lyne van die spoor was – was hulle skerp afgeteken of tot watter mate reeds afgebreek en baie ander tekens. Dit het lank geneem om te leer maar gaandeweg het Gert die kuns begin bemeester.
Af en toe het Gert se pa vir Gau `n geweer en `n paar patrone gegee en gesê dat hy `n springbok moet gaan skiet. Dan het Gert geleer om `n bok te bekruip totdat hulle baie naby was. Dit kon alleen gedoen word as hulle so loop dat die wind, al is dit ook hoe lig, van die bok na hulle waai. Hy het vir Gau `n paar keer gesê dat dit nie nodig is om so naby aan `n bok te kom nie, die geweer kan baie ver skiet.
“En hoeveel keer skiet die mense dan mis en kwes die bok. Dan moet `n mens baie ver baie vinnig loop om die bok te kry en dood te skiet. As jy naby kom kwes jy hom nie. Dan ly hy nie en jy hoef nie ver te hardloop en te soek nie. Onthou as jy `n dier skiet moet dit wees om kos te kry. `n Mens moenie doodmaak net omdat dit lekker is om dood te maak nie. As jy `n dier dood maak om kos te kry gee die bok se siel die bok se liggaam aan jou daarvoor en `n mens moet dankbaar wees en jy moet die bok nie laat ly nie.”
“Maar as julle die bokke met gifpyle skiet ly hulle dan.”
“Ja maar die bokke se siele weet dat dit al wapen is wat ons het en hulle verstaan dit en verkwalik ons nie. As ons hulle met opset sou laat ly of as ons onverskillig was sou hulle ons verkwalik het. Ons en die diere verstaan mekaar. Jy sal dit nog leer – ek sal jou wys. Jy het gesien dat elke keer as ons `n bok gaan skiet het dat ek eers vir die bok se siel dankie gesê het. As jy by ons mense gebly het sou jy gesien het dat ons meer plante eet as bokke. Jy sou gesien het dat ons net genoeg uithaal en pluk om te eet en nie alles op een kol nie. Ons wil nie die kos uitroei nie.”
“Gau waar is jou mense, hoekom bly jy alleen hier by ons. Jy is die enigste Boesman op die plaas.”
“Ek sal jou vertel as jy groter is. Nou sal jy nie juis kan verstaan nie.”
“Hoe groot moet ek wees om te verstaan?”
“Ek sal sien as jy groot genoeg is. Nou kan ek nog nie weet nie. Ek weet nou nog nie of jy ooit groot genoeg sal wees om te verstaan nie. Ons sal nog lank en baie moet loop en jy sal nog baie moet leer voordat jy sal verstaan. Miskien sal jy nooit kan verstaan nie maar ek dink jy sal eendag kan verstaan.”
Daardie Desember toe hy agt jaar oud geword het, het gou verby gegaan. Toe die tweede week in Januarie aangebreek het, het sy ouers hom na Calvinia geneem. Sy oom en tante en sy twee neefs en die niggie was bly dat hy by hulle sou bly.
Hulle is eers na die buitekamer wat langs die groot breë stoep geleë was. Daar het oom Kerneels sy arm op Gert se skouer gesit. “Jy sien dis nou waar julle drie rammetjies sal slaap. Die twee, Petrus en Joep slaap al lankal hier. Hier slaap julle. Bedags na skool sodra julle ander klere aangetrek het en koffie gedrink het doen julle eers al julle tuiswerk in die eetkamer – nie in die kamer nie. Dan weet ons of julle werk of net sit en droom. As julle werk klaar is help julle `n bietjie by die huis rond – nie te veel nie want julle moet tyd hê om te speel ook. Dis omtrent al die spesiale reëls wat ons het. Jou ouers kan gerus wees, jy sal hier gelukkig wees en goed opgepas word.”
Tant Sue het almal binne die kamer ingeneem en daar vir Gert gewys waar sy bed en hangkas was. “Jy en Joep is ewe groot en ek het toe vir jou genoeg skool klere gekoop. Dit is reeds in jou hangkas opgehang en weggepak. Jou skool sak is ook daar. Die boeke sal julle by die skool kry. Jou ander klere moet jy ook in die hangkas uitpak. Die skool is hier naby – dis nie eens vyf minute se stap soontoe nie.”
Daardie naweek het Gert se ouers daar gekuier en het hulle met Tant Sue en oom Kerneels al die nodige reëlings getref. Hulle het die Sondagmiddag huis toe vertrek en Lenie, Gert se ma het haar seun goed dopgehou. Sy kon sien dat hy baie hartseer was. Net `n effense trek om sy oë en `n vae uitdrukking in sy oë het dit gewys. Selfs op agt jarige ouderdom kon hy dit so goed wegsteek dat niemand anders dit raakgesien het nie.
Toe sy hom groet en styf teen haar vashou het sy saggies gesê “Dis nie lank nie, die kwartale gaan gou verby. Een van die dae is jy weer op die plaas.”
“Ja maar net vir `n rukkie dan moet ek weer weg gaan.”
“Dis nie so erg nie, jy sal gou daaraan gewoon raak.”
“Dis erg genoeg”.
Sy ouers het weggery en hulle het die motor dopgehou totdat dit oor die naaste bult verdwyn het. Joep het toe aan Gert se skouer gestamp en gesê “jy sal gou regkom en bly wees dat jy hier is. Ons is so besig dat ons skaars genoeg tyd het om alles te doen wat ons wil doen. Op skool sal jy ook gou regkom; ons twee sal in dieselfde klas wees; ma het dit reeds so gereël.”
Marie, Joep en Petrus se suster, het gesê “jy moes `n meisie gewees het dan sou ek ook `n maat gehad het. Nou is julle drie seuns en ek is die enigste meisie hier. Dis nie reg nie. As ons tuis is moet ek altyd alleen speel, die twee sê `n meisie kan nie saam met seuns speel nie maar dis net omdat ek baie dinge beter kan doen as hulle.”
“O so” het Petrus gesê “jy kan kamma goed beter doen as ons. Ons sal sien en jy moenie kla as jy nie kan bybly nie.”
Daardie aand toe die drie seuns in hulle kamer was het Petrus gevra “het jy al rugby gespeel?’
“Nee daar kan mos nie so iets op `n plaas wees nie maar ek wil graag speel.”
“Ons begin teen die einde van Februarie daarmee. Ons is nog te klein om wedstryde te speel maar ons word darem al touwys gemaak. En ons hou die groter spanne dop dan leer ons op die manier ook. Hulle sê dat hulle gou kan vasstel waar `n mens in `n span moet speel en hoeveel aanleg jy vir die spel het.”
“Ek wil graag speel. Ek het eintlik maar net daarvan gehoor en het nog nie gesien hoe dit gespeel word nie.”
“Petrus en ek neem ook judo lesse. Dit is op Dinsdag en Donderdag aande. Jy moet met ons saam gaan en dit ook neem.”
“Wat is dit?”
“Dit is `n Japanese manier om sonder wapens te veg. As jy dit goed kan doen kan jy jou verdedig teen byna enige soort aanval. Die afrigter sê dat dit baie jare van harde oefening verg om werklik baie goed te wees daarin maar as `n mens dit regtig bemeester kan jy jouself baie goed verdedig. Ek en Petrus is nou “geel  belts.”
“En wat is dit nou?”
“Soos `n mens vorder en beter word, word hy `n lyfband gegee wat hy by sy judo klere dra – die kleur dui hoe goed hy is. Dit is baie lekker om dit te doen – baie beter as boks en dit help om `n mens gesond te hou.”
“Ek sal dit ook graag wil doen.”
Hulle het gaan slaap en die volgende oggend het tant Sue vir hom gesê dat sy ma geld aan haar gegee het om vir sy sakgeld en ander uitgawes soos deelname aan sport te sorg. Sy het toe gesê dat sy vir hom die klere vir judo sou koop en saamgaan om hom by die klasse in te skryf. Daar was nie enige somersport soos krieket by die skool nie.
Gert het gou by die nuwe omstandighede aangepas en as gevolg van die dissipline by sy oom en tante het hy baie goed op skool gevorder. Wanneer daar genoeg tyd was het hy sy twee neefs oorreed om in die veld te gaan stap. Toe hulle uitvind dat dit `n aangename tydverdryf was, het van hulle skool maats en `n hele aantal meisies en sy niggie ook aan die stappery deelgeneem. Hy het hulle aangespoor om kaalvoet te loop deur aan hulle te vertel dat Gau hom geleer het om kaalvoet te loop.
“Gau het vir my gesê dat `n mens vinniger, stiller en beter stap as jy kaalvoet is. Jou voete word gou so hard dat jy selfs op dubbeltjies kan loop. Daar is soms, maar gelukkig baie selde, plekke waar dit beter is om skoene te dra. Gewoonlik kan jy om die plekke loop’.
Hy het hulle gewys watter plante eetbaar is en hoe om die wat bolle het uit te haal sonder om dit te beskadig, en vir hulle gewys hoe om die giftige plante uit te ken. Af en toe het hulle `n bok in die verte gesien en dan het hulle probeer om dit te bekruip en baie naby daaraan te kom sonder dat die bok hulle merk. Met so `n groep was dit moeilik maar gaandeweg het die groep kinders se geesdrif toegeneem toe hulle merk hoeveel pret en plesier daarin bestaan om in die veld rond te loop en allerhande interessante en moeilike dinge te probeer doen.
Op die manier het Gert alles wat Gau hom geleer het vars in sy geheue gehou. Hy het verlang na die plaas – na sy mense, na Gau en die ander werkers en die diere, na die wye vry veld waar hy en Gau en dikwels ook met sy pa rond geloop of te perd gery het. Om te leer om van die veld te leef en om taai te word. Om kaalvoet te kan loop omdat sy voetsole so hard soos dik leer geword het. Hy het die verlange en die seer van weg te wees van al die dinge weggesteek. Die mense by wie hy was het nie geweet hoe baie hy verlang het nie, hoe sy siel dikwels ver weg op die plaas was nie. Sy verlange het hom nie nukkerig gemaak nie. Hy het heelhartig aan al die nuwe bedrywighede deelgeneem en dit baie geniet. Om in al die dinge te presteer en goed te kan doen, om sy bes te doen om uit te blink was in sy geaardheid en die hartseer en verlange het daaraan geen afbreuk gedoen nie.
Sy ma het die eienskap al gemerk toe hy nog baie klein was. Sy het dit met haar man bespreek en hulle het saam daarna daaraan gewerk om dit beide aan te moedig en terselfdertyd in toom te hou. Sy ma was bang dat as dit nie effens getem word nie hy miskien maklik sou kon ontwikkel in iemand wat te intens en te meedoënloos sy oogmerke sou wou bereik. Toe Gert dus by sy oom en tante gaan bly het was hy in staat om sy emosies en gevoelens te beheer sonder dat hy ooit besef het dat sy ouers hom doelbewus so opgelei het. Hy het gou by die veranderde omstandighede aangepas.

 

Skryf gerus oor jou ervarings oor die rustelose tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis op Die Recce se Facebook blad.

Google

Add Comment Register



Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>