eBoeke: Rigtingbedonnerd
August 23, 2012 in Uncategorized


Rigtingbedonnerd, NB uitgewers, Fred de Vries, R192,00
Met ‘n tas vol vrae reis die Nederlandse joernalis Fred de Vries deur Suid-Afrika om met uiteenlopende Afrikaners te praat oor die sake wat hulle raak. Vir almal vra hy dieselfde vraag: is daar nog plek vir hierdie volk aan die suidpunt van Afrika en indien wel, waar is hul emosionele tuiste – hul Nkandla – in pres. Jacob Zuma se woorde?
Resensie van die Afrikaanse eBoek Rigtingbedonnerd deur Wilhelm Jordaan
Lees die volle artikel in Beeld
Die boek is die resultaat van onderhoude wat De Vries sporadies sedert 1994 met mense gevoer het rondom twee vrae: Is daar werklik ’n plek vir ’n wit mens in Suid-Afrika? En, indien wel, wat is die voorwaardes vir ’n werkbare samelewing?
Volgens die trant van die onderhoude word met “wit” eintlik wit Afrikaners bedoel en baie meer dinge as dié vrae self kom ter sprake na gelang van die eiesoortige perspektief van die deelnemers.
Daar is temas soos Afrikaner-identiteit; skuldaanvaarding of -ontkenning oor die apartheidsverlede; die betekenis en uitwerking van magsverlies; voortgaande en nuwe rassismes; onbeholpe staatsbestuur; misdaad; veiligheid; godsdiens; taalkwessies; emigrasie; die toegeneentheid tussen gewone wit, bruin en swart mense en vele ander sake.
De Vries is ’n belese en ervare skrywer, joernalis, reisiger, navorser en boonop ’n bedrewe en innemende onderhoudvoerder.
Hy kry dit reg om mense vryelik te laat gesels en wat hy in die boek aanbied, met sy eiesoortige kommentare en nabetragtings tussen-in, is allesbehalwe droë onderhoudstof.
Die trant van die boek is tegelyk diep ernstig, lighartig, stuitig, kru, aweregs, indringend en, ja, ook rigtinggewend oor ’n beter verstaan van Afrikaner-wees in meervoud.
Met wie praat hy? Soos hyself sê: Die denkers, drinkers, hardekoppe, klakouse, dromers, doemprofete, lasposte en selfs die dooies se gedagtes word bygehaal.
Hieronder tel tientalle bekende Afrikaners (politici, skrywers, musikante, kunstenaars, aktiviste, kultuurmakelaars, skatrykes); boere; onbekende gewone mense; uitgewekenes; brandarmes en sukkelaars wat hulle in wit én gemengde plakkerskampe bevind.
Dit alles word ’n vreemde, maar heerlike geroesemoes van stemme.

Kliek hier om meer foto’s te sien van Izak de Vries wat hy tydens die bekendstelling van die boek geneem het.
Rigtingbedonnerd is by myAfrikaans beskikbaar teen R192.00
