You are browsing the archive for 2012 July.

Afrikaanse eBoek oor die Franse Boer

July 30, 2012 in Uncategorized

Andrew Barlow se insiggewende historiese Roman “Die Franse Boer” is ‘n belangrike bydrae tot literatuur oor die Anglo-Boereoorlog.

“Die Franse Boer” is ’n Roman deur Andrew Barlow van ‘n burger van die Vrystaat wat ‘n Franse pa had en ‘n Afrikaner ma en sy rol in die Engelse Oorlog en ‘n bietjie daarby.

Daar was tydens die Engelse Oorlog werklik ʼn Franse Boer wat aan die kant van die Boere geveg het. Sy naam was Fritz Joubert Duquesne. Hy was vyf voet tien duim lank, skraal,sterk met donker hare en baie sjarmant. Hy het aan die universiteit in Londen gestudeer en toe aan die Belgiese Militêre Akademie waar hy toe een van die beste swaardvegters in Europa geword het. Hy was ook vlot in verskeie tale.

Sy pa het in die Nylstroom omgewing geboer en toe die Engelse Oorlog uitgebreek het, het hy by die Boeremagte aangesluit. Tydens die oorlog het hy gevind dat sy suster op wreedaardige wyse vermoor was en sy ma het in ‘ʼn konsentrasie kamp gesterf. ‘ʼn Onverbiddelike haat jeens die Engelse het by hom posgevat en hy het hom dit ten doel gestel om vir Herbert Kitchener die Britse opperbevelhebber dood te maak. Fritz Duquesne was verbonde aan die Transvaalse Artillerie waar hy tot kaptein bevorder is. Die geleentheid om Kitchener dood te maak het hom nie voorgedoen nie.

Tydens die Eerste Wêreld Oorlog het by die Britte in diens getree. Die bronne verskil oor die presiese hoedanigheid. Maar die kruiser waarop Kitchener en sy staf op pad was na Rusland is gesink deur ‘ʼn reuse ontploffing en daar was geen oorlewendes nie. Duquesne het later beweer dat hy die skip laat sink het.
Tydens Wêreld Oorlog II het hy ‘ʼn groot spioenasie netwerk in Amerika gestig om namens die Duitsers te spioeneer. Die netwerk is ontbloot weens die verraad van ‘ʼn dubbelagent en Duquesne is tot gevangenisstraf gevonnis. Die bronne verskil oor die aantal jare. Van die bronne beweer dat hy in Amerika dood is ander dat hy na sy vrylating teruggekeer het na Suid-Afrika waar hy toe dood is.
Hierdie Roman, “Die Franse Boer” gebruik ʼn paar van die bekende aspekte van sy bedrywighede en soos die leser sal sien nie baie nie. Verskeie ander gebeure wat geskiedkundig juis is word ook gebruik. In die storie trou Rouget Robespierre, die Franse Boer, met ʼn meisie in die Oos Vrystaat waar die mense boer, kort voor die oorlog. Hy neem deel aan verskeie gevegte en vorder tot kommandant van ʼn kommando. Later toe die kommando by sy skoonouers se plaas verby trek vind hy sy vrou sterwend aan longontsteking nadat sy en hulle kind deur haar broer wat toe ‘ʼn joiner was op ‘ʼn wintersnag byna nakend die veld ingejaag is terwyl die huis afgebrand is. ʼn Ruk daarna is die broer/swaer gevange geneem en Rouget se wraak is gepas.

Later is die kommando betrokke by die ontsetting uit ʼn tronk waar ʼn paar ander kommando lede gevange was wagtend om tereggestel te word. So ʼn insident het te Fauresmith plaasgevind.

Daar is baie ander insidente, ʼn paar waarvan op werklike gebeure gebaseer en ander weer blote verbeeldingsvlugte.
Die verhaal vorder tot waar Rouget die kommando verlaat om Kitchener te Pretoria te dood en nie daarin kon slaag nie, totdat hy eindelik vir Kitchener se kruiser opblaas naby Scapa Flow aan die Skotse kus. Die verhaal eindig met Rouget se terugkeer na die plaas in die Oos Vrystaat en sy sterwe daar by sy ou maat Theo wat in daardie omgewing bly boer het na die Engelse Oorlog.

Soos die verhaal vorder van die een na die ander gebeure word kwelvrae geopper wat nog steeds van baie groot belang is. Vraagstukke soos die probleem van vergifnis en wraak, die onderwerping van die eie behoud aand die belange van die groter eenheid, die van familie en volk en self respek. Die vraag van die benutting van die swart mense as vegters in daardie oorlog en die probleme met die aanvaarding daarvan en dus hoe dit gesien is en gesien hoort te word. Ook tot ʼn mate die probleme van geloof in so ‘n stryd en hoe dit gehanteer hoort te word. Die leser moet egter die aangeleenthede self uitmaak in die lig van die omstandighede. Die vraagstukke is tans nog steeds geldig.

Kliek hier om meer oor Andrew Barlow te lees!  

Die Franse Boer eBoek

Die Franse Boer eBoek

MyAfrikaans betree die Afrikaanse mikro- uitgewers bedryf as ‘n Boutique eboeke uitgewer

July 25, 2012 in Uncategorized

Die prestasie van die Amerikaanse eBoek mark het weereens die eerste kwartaal van 2012 verras. Eboek verkope het die verkope van hardebandboeke verby gesteek met ‘n inkomste van $282 miljoen teenoor $228 miljoen van hardebandboeke. Self-publiseer eboeke het ‘n groot gedeelte van die mark uitgemaak veral aan die goedkoper spektrum van die mark.

Twee self-gepubliseerde eBoeke het Amazon.com se lys van topverkoper fiksie titels gehaal. Die weghol sukses Fifty Shades of Grey het as self-publikasie eBoek verskyn voor dit uitgegee is deur ‘n klein Australiese uitgewer en daarna bekom deur Vintage Books.

Internasionaal verdien skrywers miljoene deur ‘n verskeidenheid goedkoop eBoeke te publiseer. Amanda Hocking het ‘n legende geword in die self-gepubliseer veld deurdat sy meer as $2 Miljoen verdien het met ‘n dosyn eboeke wat gemik is op die jeugmark. Baie bekende en gewilde skrywers volg ook deesdae die self-gepublikasie roete omdat dit vir hulle meer beheer oor hul werk gee en verhoogde profyt. Hierdie internasionale ontwikkelings verskaf uitsonderlike geleenthede aan Afrikaanse skrywers. Die grootte van die self-gepublikasie Afrikaanse eBoeke mark word bevestig deur die 550 000 maandelikse navrae op die soekenjin Google vir die soekterm: Afrikaans.

Byliner Digitale Uitgewer doen ook baanbreker werk in die mikro- uitgewers bedryf. Byliner is ‘n uitgewer net soos Random House of Macmillan maar publiseer eBoeke vir beperkte fokusgroepe. Byliner deel die profyt met die outeur op 50/50 basis. Byliner Uitgewer se dienste is geposisioneer tussen die tydskrif en die boek-/ eboeke mark.

MyAfrikaans beplan om te fokus op lang-soort joernalistiek – dit is iets tussen ‘n tydskrif artikel en ‘n kort-formaat boek. Daar bestaan in die Afrikaanse eBoeke mark ‘n vraag na ‘n uitgewer wat Blog-skrywers die geleentheid sal bied om hul Blogs as ‘n eBoek-bundel uitgee. Chris Dixon, ‘n Blog-skrywer en stigter van Hunch.com het onlangs al sy blog-artikels saam gebundel en as ‘n eBoek uit gegee by Amazon.

Myafrikaans lewer ‘n diens aan skrywers as ‘n Boutique eBoeke uitgewer. ‘n Boutique eBoeke uitgewer is nuwe konsep in die Afrikaanse uitgewersbedryf. MyAfrikaans is ‘n digitale uitgewer en multimedia inhoud diensverlener wat fokus op die internasionale Afrikaanse lesersmark, laer profiel skrywers en klein projekte van hoe profiel skrywers. After centuries of not changing very much at all, the book industry is going through the same kind of upheaval as newspapers, Hollywood and the music business are — and that means more uncertainty, but also more opportunity. Mathew Ingram

Vind meer uit oor myAfrikaans Afrikaanse Boutique eBoeke uitgewer, kliek hier!

Uittreksel van die Afrikaanse eBoek Lilith X

July 24, 2012 in Uncategorized

Afrikaanse eBoek

 

eKhaya, die digitale druknaam van Random House Struik, het Die 95 stellings van Lilith X bekend gestel. Hierdie Afrikaanse eBoek is deur die bekende Lizette Rabe geskryf.

Volgens die Joodse mitelogie:

Toe God Adam geskape het, was Adam eensaam. God het toe Lilith geskep met die selfde stof as waaruit Adam gemaak is. Maar hulle het gestry, Adam wou baasspeel oor Lilith. Lilith was trots en eiesinnig, en het gelykheid geeis met Adam omdat sy uit die selfde stof gemaak is as Adam.

Lilith het Adam verlaat en het uit Eden gevlug. God het drie engele agter haar aangestuur. Hulle het haar gevang en beveel om terug te gaan na Adam.Lilith het wraak gesweer en verklaar dat sy kinders swak sal maak.

God het toe vir Eva geskep uit Adam se ribbebeen en nie ook uit stof nie.

Lees ‘n uittreksel van die Afrikaanse eBoek hieronder.

Proloog I: Lilith X
Hier staan Lilith, want sy kan nie anders nie.

Lilith is ’n gewone mens. Toevallig ’n vroulike een.

Of waarskynlik. Dalk. Nie toevallig nie. Want dan sou sy nie haar private, persoonlike, pynlike protes begin het as sy nie tot die “mindere”

geslag, die “swakker vat”, die “tweedeklas-burgery” behoort het nie.

Sou sy nie haarself eers weer ver anderkant ’n verdwasende, verbysterende, onthutsende eksistensiële tyd-ruimtelik-spirituele reis gevind het nie.

As sy ’n man was, sou sy immers nie die status quo bevraagteken het nie. Dit is tog ondenkbaar onvanpas om dit wat jou bevoordeel, te bevraagteken.

Maar daarom staan Lilith hier, want sy kan waaragtig nie anders nie.

Tot hier, sogodhelpemy, en niks verder nie.

Genoeg ís inderdaad genoeg.

Genoeg sigbare en onsigbare, subtiele en onsubtiele ontmensliking, soos wat Lilith en haar geslagsgenote dit tot sover beleef het.

Lilith begin haar eie, persoonlike, private protesbeweging.

Sy protesteer. Te hel met die boksies van die samelewing, die vormpies waarin ons gegiet word, die blikke waarin ons gedruk word. Waarin vroue gedruk word. (Ja, waarin ook mans gedruk is. Soos die arme Boetmanne, veral, wat so betáál vir die sondes van die vaadre.) Maar vroue is soveel magteloser. En ons doen so mee, want hoe meer ons ons

“bevry”, hoe meer beperk ons onsself, perk ons onsself in, word ons ingekerker, vasgevang, onderdruk.

Want ja, ons mag maar sedert Die Bevryding buite die huis werk.

Maar sussa, sorg tog dat jy ook jou ou huiswerkies doen. Nie net jou verpligtinge nakom nie. Nee, mens, jy moet die homegoddess wees!

Sorg dus ook dat jy in ’n aantreklike verpakking kom, glad van vel, blink van haar, slank van lyf.

Wees dít. Doen dát. Dink só.

Of liewer: Dink nie.

Dis die paradigmas van ons postmoderne bestaan wat bepaal hoe deur sommige gedóén moet word, en hoe deur sommige gedínk mag 9

word. As jy ’n vrou is, moet jy verkieslik nie dink nie, en veral mooi in jou fiefiefyn spoortjie trap.

Maar so het hierdie Lilith toe wel by haar self begin dink. (Reg, sy kon netsowel by haarself begin drink het.) En tot die gevolgtrekking gekom: Die gedagte van ’n algehele hervorming elke 500 jaar pas haar.

Kyk, ontdek sy, dit ís amper 500 jaar ná daardie vorige oerske protes.

Nie dat hierdie patetiese protestant dink háár protes het hoegenaamd die potensiaal van dáárdie protestant s’n nie. Nie die minste nie. Lilith ken haar limiete. ’n Lilith is vir seker nie ’n Luther nie. En as vrou het Lilith in elk geval nooit juis agtergekom dat sy maar selfs net ’n klein bietjie ambisieuse verwagtinge mag hê nie.

En gelukkig: Dit maak nie saak nie.

Veral nie vir Lilith nie. Haar protes is net maar in haar eie klein wêreldjie. Sy wil maar net haar eie mikro-bestaan hervorm. Sy hoop vir niks meer nie. Sy is immers nie manlik nie, en dus ook nie iemand met die status van ’n manlike teoloog-priester van vyfhonderd jaar gelede nie, selfs in ons veronderstelde postmoderne postfeministiese tyd.

Maar Luthers sal sy ondanks en desnieteenstaande haar staan staan en sê godhelpemy. Want die arme ellendige siel kán net nie meer.

En, gelukkig, sê Lilith, weer, maak dit nie meer saak nie. Sy het niks om te verloor nie.

Al wat Lilith weet, is dat sy nie langer die kak van kondisionering van kerk en kultuur gaan opvreet nie.

Moenie dink Lilith is woedend omdat sy ’n kragwoord gebruik het nie. Sy is net gatvol. Lilith hou daarvan om te dink sy is ’n goedgebalanseerde jogi. Maar selfs as jy jouself genoeg ruimte en suurstof gee tussen die aarde se magneetveld en die son en maan se kragvelde, kan ’n gewone mens maar goed gatvol raak.

En Lilith is maar net ’n gewone vrou. Die soort wat werk, wat huis, wat sorg dat daar brood in die broodblik is, melk in die yskas. Wat man en kind. O, veral een wat man en kind. En o, veral een wat wil vrou en wil ma. Dáárvoor gee Lilith nie om nie, dís nie deel van Lilith se frustrasie met ’n manlik gekonstrueerde wêreld nie. Want Lilith is, o sy is, o sy is so graag ’n ma vir haar liefste kinders en ’n vrou vir haar geliefde. Sy weet immers mans sal nóóit so kan vrou en ma soos vroue 10

kan vrou en kan ma nie.

Maar.

Sy weet ook sy het nie getrou en liefkinders gekry en daarmee ingestem om in ’n boksie gedruk te word nie. Sy het ook nie geweet dit is wat eintlik van haar verwag is toe sy en haar ewe onskuldige geliefde hul kontrak geteken het nie. Ogottatjienee, toe sy ágterkom die samelewing verwag van haar ’n vierkantig, netjies gedoosde vroutjie het sy, eers, ja, haar stem weggeskrik.

Maar toe die stomheid wyk, en sy geleidelik haar stem begin terugkry

…Het sy geweet dat sy haar nie langer deur Die Samelewing sal laat voorskryf van wat en hoe sy kan en mag dóén, en wat en hoe sy kan en mag dínk nie.

Eintlik, eerlik, het sy nie juis tyd om te dink nie.

Is dit dalk hoekom vroue so besig gehou word, sodat ons nie kan dink nie, en nie die status quo kan bevraagteken nie?

Want sy knóóp haar so om te doen wat sy moet doen. By die werk is dit oorpresteer om te wys sy bring haar pond vleis en steek nie lyf weg omdat sy ma is nie. By die huis is dit oorpresteer om te wys sy skeep nie af nie. Kyk, regte ma’s hoort mos nie te werk nie. Lilith is van die generasie waar die skoonma, Moeder Matriarg, nie gewerk het nie. Die dominerende manipulerende mens uit ’n vorige era dink nog steeds so. Alles wat verkeerd loop in ons samelewing is mos “Die Werkende Moeder” se skuld. Iets gelyk aan die antichris/die Roomse/

Swart/Kommunistiese gevaar. Aaklige, o sondige begrip, “werkende moeder”. So teen die aard van vrouwees.

Die arme Lilith het juis so lank aan supervrou-sindroom gely.

Perfekte ma, perfekte vrou. O kyk, ’n lewe in die dag van Supervrou.

Wat beteken sy was ’n paar mense in een. Superma, supervrou, superberoepsvrou. Superhuisvrou, vanselfsprekend. Homegoddess flippen eat your blerrie heart out.

Übervrou. Maar toe het Lilith haarself genoeg bewys.

Die lewe is te kort om ’n aartappel te skil. Om ’n hemp te stryk; let alone ’n hemp te stryk tot in sy be-ef-te perfekte glorie asof dit die hoogste en edelste en enigste roeping vir ’n vrou is. Soos wat Moeder 11

Matriarg se reëls voorgeskryf het. O, sy sou dié mensie na haar hand vorm. Om te voldoen aan háár standaard vir Huis en Haard. Goed genoeg vir haar perfekte seuntjie.

Met dié moeder met wie sy – onskuldig en naïef – ’n leeftyd gelede toe ook getrou het sonder dat sy dit geweet het, het Lilith lánkal vrede gemaak. (Of daar vrede andersom is? Ag, Lilith hoop vir die moeder se eie sielevrede tog so.)

Maar dan die res, o die res. Hoe lief Lilith dit om te kind en te vrou en te werk. Sy kook, en geniet (net nie aartappels skil nie). Haar kinders, haar geliefde. Die al van haar heelal, die al van haar alles.

Die blikke waarin sy die res van die tyd gedruk word …?

Nie.

Maar, gelukkig, en darem, tussen kind en kantoor, kry Lilith haar dink gedink.

Waar sy by die punt gekom het dat sy genoeg het van ’n patriargale, paternalistiese samelewing. Die een waarin vroue gekondisioneer word om versluierd te leef. Sigbaar of onsigbaar, die sluiers is daar. ’n Samelewing wat ook en veral Lilith se eie geslag steeds kondisioneer om te glo vroue wat krities is oor hierdie boksies, is abnormaal. Daar’s iets drasties verkeerd met jou! Dis mos ’n vrou se hoogste roeping om Onderdanige Vroutjie te speel. Rib, magtag, ken jou plek!

Maar Lilith hoop tog die skille val ook van die oë van die medesusters wat nog so bedwelm is; dat die opium geleidelik begin uitwerk.

Want hierdie Lilith, nooit ’n popspeel-dogtertjiekindjie nie, een wat die in die blik druk-boodskap dan seker op ’n wonderbaarlike manier kleintyd gemis het, of miskien juis toe al daarteen gerebelleer het, het kollektief namens haar medevroue genoeg gehad.

Hierdie boksies pas nie meer nie.

In hierdie blik word sy nie langer gedruk nie.

Lilith daag kerk en kultuur uit.

En, nie nodig om te skrik nie. Sy doen dit eintlik maar suutjies, net in haar eie klein hoekie. Sy wil niemand anders se bootjie laat wankel nie. Lilith wil nie tot ander se onbehaaglikheid bydra nie; elkeen moet die eie bootjie laat seil of sink. Elke diertjie sy plesiertjie.

Egter, Lilith het haarself die lisensie gegee dat sy nou doen soos sy 12

wil doen.

Sy het haarself bevry.

Haarself tegelykertyd ook onbekeer.

Haarself heerlik ontkerk, dag en datum toe sy uit die kerk gestap het en vir haarself gesê het: Bybel-Prozac, genoeg, nou werk jy ook nie meer nie, nou sluk ek jou nie meer nie.

Ek ekskommunikeer myself.

En wat ’n verlossing.

Al lag daardie predikant, én van haar eie geslag, wat tog, die hemel behoed ons, nie as “mannehaters” en “feministe” gesien wil word nie –

en dit in die kérk! – haar uit.

Lilith, twyfelend, wat so lank so getrou probeer kerk het, so hard probeer het om in die boksie te pas. Net klein bietjie versigtig elke nou en dan gevra maar hoekom kan die kerk nie maar net klein bietjie meer vrouvriendelik wees nie? Hoekom kan die kerk hom nie dalk maar net so klein bietjie aanpas vir ’n postmoderne interpretasie nie?

Nou. Die predikant kán maar die een wees wat so – al is dit onchristelik – laaste lag.

Dit maak glad nie saak nie; dit was in elk geval die laaste sien van Lilith se blikkantien.

Want Lilith het besluit.

Pleks van wonder en dink hoekom vroue steeds so in hul okken oer gestuur word sonder dat hulle dit weet, want oliewevader, moet tog nét nie ’n feminis wees nie, het die tyd aangebreek dat sy wat Lilith is, háár 95 stellings maak.

En sy gaan hulle nie aan ’n kerkdeur slaan nie, want van daardie hoofsaaklik sondige plek bly sy lankal weg, maar op die skerm van haar rekenaar. Al is dit dan net vir haar eie saligheid.

En so dink Lilith.

En dink.

Dus.

Daarom.

Derhalwe.

Dientengevolge.

Die private sfeer. In gewone taal: die huis. Teenoor die openbare 13

sfeer. Die wêreld buite die huis. Die een waarin mans die kitaar slaan.

Waarin hulle hul ding mag doen. Waarin hulle die mag het.

Dis wat sy eintlik haat, dink Lilith. Dat mans vry is, en vroue nie.

Sterk woord, sê Lilith.

Haat.

Sy’s versigtig vir sulke woorde. Gelaai met soveel emosie. Want emosie is mos nou weer die “domein” van die vrou. En mense misbruik woorde al klaar. Daar’s niks meer respek vir woorde nie. Maar dis ’n ander saak.

En soos wat Lilith elke dag. En elke maand. En elke jaar meer van die lewe geleef het. So het sy elke dag. En elke maand. En elke jaar meer gesien hoe vroue in hul blikke gedruk en hul moere gestuur en daarmee van ’n eie lewe ontneem word.

Meer presies: In die vierkant van ’n huis gedruk word. Die “private sfeer”. Ja, ons mag al “buite” gaan speel, maar ons moet tog ons plek ken en onthou ons moet eintlik ons ding binne die boks doen.

Nie net hóé ons in ons blikke gedruk word nie. Meer presies: onderdruk word. Hoe ons gedefinieer word volgens wat ons “behoort”

te wees.

Soos dat “vroulik” beteken dat jy tog asseblief, suster, nie moet aanspraak maak op regte nie. Ogottatjienee, net nie daardie f-woord-dinges nie. Feminisme! Vloekwoord!

En die manne1 lag al die pad bed toe. Lekker reggekry om vroue2 so te kondisioneer dat hulle afsku het aan daardie woord wat hulle van hul regte ontneem.

Hoe pas dit hulle nie. Nee, vroutjieliefieskat moet tog nie vir haarself dink of doen nie. Hý bly die hoof van die huis en basta. Ons moet veral nie dink die wêreld moet met ’n nuwe mindset bedink en bedoen word nie. “Vroulik” beteken om oulik en lief en goed en gaaf te wees.

1 Nie alle mans nie. Lilith veralgemeen nie. Daar is mans wat reeds verlos is, die bevrydes, wat vir hulself kan dink, en vroue as hul gelykes sien, soos Lilith se geliefde.

Hulle is gelukkig besig om meer te word. Hulle is net nog nie genoeg nie.

2 Nie alle vroue nie. Lilith veralgemeen nie. Daar is vroue wat reeds verlos is, die bevrydes, wat vir hulself kan dink, en weet mans is hul gelykes. Hulle is gelukkig besig om meer te word. Hulle is net nog nie genoeg nie.

14

Sexy. Nié feministies nie. Nié dink nie. Die ultimate huisvrou. O, jy, jou houseproud kombuisgodin. Terwyl jy eintlik kombuisslavin is, in diens van jou heer en meester.

Daarom, miskien, ís haat dalk tog die regte werkwoord?

Want Lilith haat die subtiele en nie so subtiele nie onderdrukking van vroue, met of sonder sluier en burka. Vrouehaat in alle vorms. Vroue wat aan die hand van, letterlik, gewelddadige mans en gewelddadige patriargale samelewings sterf. Femicide, oral om ons. Selfs vroue wat letterlik waaragtig nog gestenig word. En die miljoene vroue wat daagliks met woorde gestenig word.

Fok.

Hierdie.

Onderdrukking.

Fok die paradigma waarvolgens vroue tweedeklasburgers is volgens argaïese Outestamentiese denke. Waarvolgens vroue nog in die 21ste eeu – hierdie eeu! – steeds geïndoktrineer en gekondisioneer word.

Lilith sal nie.

Lilith sál nie. Verder onderdruk word nie.

Lilith het ’n punt bereik waar sy sê, sonder ’n drama of ’n audience of

’n act van enige aard. Net gewoon:

Hier staan ek, want ek kan nie anders nie.

Ek is my eie protestant. Ek protesteer.

Ek is my eie hervormer. Ek hervorm.

Niemand hoef saam met my te protesteer nie.

Niemand hoef saam met my te hervorm nie.

Ek in my klein hoekie, ek protesteer, ek hervorm.

Dis al en dis genoeg.

Want hier staan ek. Ek kan nie anders nie.

Dis wat Lilith vir haarself sê.

Toevallig, of miskien nie, op hierdie Internasionale Vrouedag van 2000-en-hoeveel waarin die vonkposse vlieg van vrou tot vrou tot vrou: Wens mekaar ’n Voorspoedige Vrouedag toe. Wees sterk! Vryf mekaar op! Moer die moerskonts! Bliksem die bliksems! Hel die helle wat vroue so swaar laat kry!

Maar Lilith wil nie kollektiewe vrouewoede so laat klink nie.

15

Al is daar genoeg rede. Vaderweet, vroue is lank genoeg onderdruk, verkrag, vernietig. Verontmens, in elke uithoek van hierdie aarde wat ons ons moeder noem.

Nee, dis net Lilith in haar klein hoekie. Net sy wat haarself wil herdefinieer. Wat vir haarself ’n nuwe (klein) wêreldorde wil skep.

Net sy wat gekom het tot die punt waar sy vir haarself sê: Ek verwerp die bestaande. Ek eis ’n nuwe definisie van menswees.

Ek moet, want ek kan nie anders nie.

Dis Lilith.

Op hierdie dag in hierdie jaar van die Gregoriaanse Christelike kalender. Wat nie eintlik van belang is nie. Want ook hierdie dag en datum is maar net ’n manifestasie van chronologie volgens ’n Westers-bepaalde, manlike samelewingsorde. Dit kan ook wees hierdie dag en datum in die Chinese kalender, of Hindoe-kalender, of die Juliaanse een. Of watter een jou behaag.

Vir Lilith maak dit nie saak nie. Dis hierdie jaar, hierdie dag, hierdie oomblik in die, godedank, darem deesdae nuwe benaming vir tyd en ewigheid: Common Era, CE, ons Gewone Era, GE.

En dis al wat Lilith weet: Tot hier het sy gekom.

Op hierdie dag, hierdie oomblik.

Dis haar 95 stellings.

Hier staan sy. Want sy kan nie anders nie.

Lilith, Internasionale Vrouedag

Kliek hier om Proloog ii van die Afrikaanse eBoek te lees!

Die Keuse in Afrikaanse kortverhaal eBoek

July 23, 2012 in Uncategorized

 

Hierdie Afrikaanse eboek behels die vyftien beste kortverhale en artikels uit ’n gedrukte bundel, wat in Mei 2010 gepubliseer is. Tydens die samevoeging daarvan in ’n e-boek, is die stories wesenlik hersien en waar nodig verkort.

Uittreksel uit die afrikaanse eBoek deur Piet Schoombie :

 

Die Keuse

 

Die see is kalm, met net ’n ligte bries wat die skip se seile laat bol. Ons het reeds twee weke gelede in Sesarea aan boord gegaan en behoort oor ’n paar dae in Feniks aan te kom. Dan is ons maar eers halfpad na Rome. Dit sal lekker wees om weer in my geboortestad terug te wees! Ek wonder net oor die ontvangs wat daar wag? Sekerlik nie soos ek my dit voorheen ingedink het nie.

Dit sal nou nie meer dié van ’n senior amptenaar in die keiser se buitelandse diens wees nie. Ja, Marko Vittorio kom nou terug as ‘n dislojale skandemaker! Dit is rustig hier op die agterdek met net ’n paar matrose wat aan die toue verstel en die gekraak van die maste as die wind daarteen beur. Dit gee my geleentheid om die ongelooflike gebeure van die afgelope vier maande weer in oënskou te neem. Ja, voor my pad aanvanklik met dié van Judas Iskariot gekruis het, sou ek nooit kon droom dat ek vandag na Rome onderweg sou wees nie! As belastinggaarder van die goewerneur, Pontius Pilatus, het my verantwoordelikhede baie probleme meegebring.

Om belastings in te samel, is nêrens ter wêreld maklik nie. Veral nie in ‘n provinsie soos Judea nie, waar belastings van vyandiggesinde Jode ingesamel moet word. Hierdie senior posisie het egter ook sy voordele gehad. Ek het in ’n gerieflike huis met bediendes in die bo-stad van Jerusalem gewoon. Dis dié deel waar koning Herodes Agrippa se paleis is. Ook die Jode se familiehoofde en geestelike leiers, soos hulle hoëpriester, Kajafas, is daar woonagtig. Ek het gereeld Romeinse amptenare en leëroffisiere teen sononder op my daktuin onthaal. Met ’n pragtige uitsig op die Olyfberg buite die stad en oor bekers goeie wyn, het ons dan politieke gebeure en staatsake in Judea bespreek. Soms het ons ook treurig en nostalgies geraak oor ons familie en vriende in Rome, wat ons lank laas gesien het. Dit was by een so ’n geleentheid dat ek die eerste keer van Judas gehoor het. Een van die offisiere het gevra of ek bewus was van sy geldmaakskemas en of hy as ’n belastingbetaler opgeteken was? Die naam het vir my niks beteken nie en gevolglik het ek verder uitgevra. Hy was blykbaar ’n dissipel van ’n Joodse profeet en prediker, genaamd Jesus die Nasarener. Laasgenoemde se basis was in Kapernaum in die provinsie Galilea, maar dié Jesus het gereeld ook dorpe in die provinsies, Samaria en Judea, besoek. Daar was glo ’n groep van twaalf dissipels saam met hom en die Judas-persoon het hulle geldsake behartig.

Die kommandant van die militêre fort in Jerusalem het hulle onopsigtelik laat dophou, want Judas het skynbaar ook sterk politieke aspirasies gehad. Daar was die moontlikheid dat die groep se rondganery om te preek dalk net ’n rookskerm kon wees vir opstokery teen die Romeinse bewind. Ek het toe onderneem om meer inligting hieroor in te win. Aangesien my belastingafdeling van Joodse informante en tollenaars gebruik maak, het ons n goeie oor in die Joodse gemeenskap gehad. In die daaropvolgende weke het eienaardige verslae by my uitgekom. So is daar beweer dat die profeet, Jesus, kos laat vermeerder om duisende mense by sy predikings te voed. Ook dat hy siekes van ongeneeslike kwale soos melaatsheid genees. Die toppunt was dat hy dooies weer lewend kon maak! As ’n mens egter al n geruime tyd in Israel gewoon het, dan begin jy gewoond raak aan die Jode se snaakse geloofsgebruike en godsdienstige mites.

Nêrens uit die verslae was daar egter enige aanduiding dat die groep by geldmakery betrokke was waarop belasting betaalbaar sou wees nie. Inteendeel, die groep het skynbaar baie eenvoudig gelewe en hulle was hoofsaaklik van gunste en gawes van die mense afhanklik. Jesus se Joodse aanhangers het volgens die verslae daagliks toegeneem en daar was by sommige byeenkomste tot soveel as vyfduisend luisteraars en nuuskieriges. Van ooglopende politiekery was daar ook geen teken nie en die prediking het gegaan oor die Jode se God en oor welsynswerk onder hulle volksgenote. Alles was dus skynbaar onskuldig en verdienstelik. Dit was egter baie eienaardig dat die groep dikwels in woordewisselings met die Jode se geestelike leiers en hulle familiehoofde betrokke was. Hoewel Jesus gereeld in die sinagoges en in die tempel gepreek het, was daar dikwels wrywing tussen die twee faksies. Daar sou eerder verwag word dat die Joodse owerhede die profeet se goeie werk onder hulle mense sal verwelkom en waardeer.

Die enigste verduideliking kon wees dat Jesus besig was om baie gewild onder die Joodse volk te word. ’n Verdeling in die Joodse geledere was egter gunstig vir die Romeinse gesag, volgens die beginsel van verdeel en heers. Uit my versamelde inligting kon ek dus ‘n gerusstellende verslag aan die leëroffisiere deurgee.

Koop die Afrikaanse eBoer hier om die aangrypende verhaal verder te lees.

Afrikaanse webwerf in ‘n internationale mark

July 9, 2012 in Uncategorized

‘n Webwerf onontbeerlik indien jy ‘n eBoek of enige ander produk suksesvol wil bemark.

‘n Eie webwerf vir jou produk het die volgende voordele:

- Kredietwaardigheid, Kredietwaardigheid, Kredietwaardigheid,

- Kliënte en besigheidsvennote sal jou ernstiger opneem,

- Die eBoek, produk of diens sal gelys word deur Internet- soekmasjiene wat beteken jy word vinnig en maklik deur bestaande en nuwe kliënte gevind.

- Internasionale kliënte kom op jou voorstoep.

Die wegspringplek is om ‘n domeinnaam en diensverskaffer te vind. MyAfrikaans se dinamiese internasionale span kan jou sonder enige inspanning van jou kant af met beide behulpsaam saam wees. ‘n Gevatte, maklik vindbare domeinnaam is natuurlik ontsaglik belangrik in die sukses van jou webwerf. Baie mense dink dat al die beste domeinname al beset is maar dit is nie so nie! Kreatiwiteit moet aan die dag gele word met die keuse van ‘n domeinnaam. ‘n Kwaliteit domeinnaam is net so belangrik soos die “regte” adres is vir byvoorbeeld ‘n bekende advokate kantoor.

‘n Betroubare Internet-gasheer is ‘n moet want die webwerf moet 24 uur van die dag beskikbaar wees vir kliënte in alle wêrelddele.

Myafrikaans maak van uiters effektiewe en professionele web-gashere gebruik in Duitsland. MyAfrikaans het kantore in Rotterdam, Frankfurt en San Diago wat Afrikaanssprekendes bemagtig om die dinamiese internasionale Internet-tegnologie gemeenskap te betree.

Die wêreld ekonomie het die afgelope dekade oor geskakel van ‘n diensgedrewe ekonomie na ‘n kennis-ekonomie. Skaars kennis vloei oor die internetbane en word nie beheer deur doeanebeamptes of korrupte regeringsamptenare nie. Die internasionale mark is so naby soos jou naaste internet aansluiting. Met uitstekende aanlynbetalingsplatforms soos Paypal of Moneybookers is ‘n transaksie met die Oekraïne makliker as met die kafee op die hoek!

Die fasilitering van die ontwikkeling Afrikaanse eBoek sektor is een van myAfrikaans se primere doelwitte. Dit net nie meer geregverdig dat die Suid-Afrikaanse gebruiker aan die agterspeen moet suig as dit dinamiese eBoek tegnologie kom nie. Vir die eerste keer is daar in 2012 meer eBoeke in die VSA verkoop is gedrukte boeke! Net ter illustrasie hoe Suid-Afrika agter geraak het met internasionale neigings is dat daar maandeliks 27100 gebruikers in Nederland na die term “eBoeken” op Google soek.

MyAfrikaans fokus op vier hoof dienste:

- Om Suid-Afrikaanse en Afrikaanse skrywers te bemagtig om self hul eBoeke te publiseer (selfpub),

- Bemarking van Suid-Afrikaanse eBoeke,

- Webwerf ontwikkeling en generering van web-verkeer,

- Bemagtiging van Suid-Afrikaanse entrepreneurs om die dinamiese mark van internasionale handel te betree.

Kontak ons vandag:  mail@myafrikaans.com

Image: FreeDigitalPhotos.net

Skimme van Gister

July 8, 2012 in Uncategorized

Afrikaanse Eboek Skimme van GisterAfrikaanse Eboek Skimme van Gister

Uittreksel uit ‘n nuwe eBoek van Piet Schoombie

n Jong man verloor sy werk as gevolg van die wêreldwye ekonomiese ineenstorting. Hy besluit om die geleentheid te gebruik om sy voorgeslagte se wortels op die ou familieplaas te gaan naspoor.

Die plaas is egter sedertdien in ’n wildplaas omskep en word as blyplek vir groepe jagters aangewend. Met hom en sy vroutjie se besoek, is hulle aanvanklik heeltemal alleen in die opstal. Gedagtig aan die plaasmoorde in die land, is hulle dus betreklik bang en gespanne. Tydens hulle verblyf, vind hulle ook baie meer as net familie wortels! Daar wag aangename verrassings, maar ook skrikwekkende gebeure op hulle. ’n Heerlike spannende avontuurverhaal wat lesers se aandag deurgaans sal vasvang.

Die ineenstorting van die Amerikaanse banke en ander finansiële instellings het
ekonomieë internasionaal soos ’n skokgolf getref. Die gevolglike wêreldwye resessie het
nywerhede en maatskappye se winste opgekerf en derduisende mense het hulle werk verloor.
Ek was een van dié ongelukkiges! Dat ek saam met baie ander in dieselfde hartseer bootjie
was, het weinig troos ingehou. Die positiewe sy was dat ek nog jonk, sterk en gesond was. ’n
Verdere plus punt was dat my vrou, Elsa, as ’n vryskut vanaf die huis gewerk het. Gevolglik
kon sy as grafiese tekenaar gewoonweg met haar verskillende kontrakte voortgaan. Sy skilder
ook wanneer daar tussendeur ’n tydjie beskikbaar was. Derdens was ons jonk getroud met
nog geen bykomende monde om te voed nie.
Om slegs op Elsa se inkomste aan die lewe te bly, het nogtans ’n fyn balanseertoertjie
geverg. Daar is wesenlik op die huishoudelike begroting besnoei. Ons het haar ligte motortjie
verkoop en slegs met my bakkie klaargekom. Gholf, fliek, teater en uiteet was net ’n vae
herinnering uit ons dae van melk en heuning. Die huishulp en tuindienste se kontrakte is
beëindig en hulle take is tussen ons twee verdeel. Ons het weer self in die kombuis gebak en
gebrou en opnuut uitgevind dat ons vir baie goedkoper steeds lekker kon eet.
Ons ouers aan beide kante het wonderlike ondersteuning gebied en met baie simpatie en
deernis gehelp waar hulle kon. Albei vaders moes egter ook maar spook en spartel om hulle
eie betrekkings gedurende dié moeilike tye te behou. Dit was gevolglik soos manna uit die
hemel toe ons uit ’n totaal onverwagte oord ’n meevallertjie kry. Van ons vriende se familie
se buitelandse vriende het ’n huurhuis vir drie weke tydens die Wêreldbekersokkertoernooi
gesoek. Hulle geldeenheid was baie sterker as die Suid Afrikaanse Rand en die huurgeld was
gevolglik wonderlik rojaal. Skielik was ons weer sonder ’n bankoortrekking, maar ook sonder
huisvesting! Dit was nogal ‘n skok om te besef dat ons vir ’n klompie weke letterlik op straat
sou wees.
Dit was in hierdie tyd dat dit by my opgekom het om die werklose en huislose toestand te
benut vir ’n safari na die binneland. Nie sommer enige safari nie, nee ’n soort pelgrimsreis
om my wortels te gaan naspoor. Ek het lankal die drang gehad om op my voorvaders se
voetspore te gaan stap. Elsa was by die eerste vermelding daarvan nie baie beïndruk nie. Die
knellende gedagte om noodgedwonge vir vier weke onder die voete van ons ouers te wees,
het egter die knoop deurgehaak. Nie een van ons twee het kans gesien om ander mense vir so
lank te verontrief nie. Ek kon haar ook verseker dat sy oorgenoeg tyd sou hê om haar
werkstukke steeds op die skootrekenaar te doen en per e-pos in te stuur. Sy sou boonop ook
nog geleentheid kry om te skilder.
Dinge het vinnig begin gebeur, nadat ons besluit het om wel die pad te vat. Die bakkie is
gediens, die kappie is opgeknap en so verander dat ons daarin kon slaap as dit nodig sou
wees. Net die nodigste klere en toerusting is ingepak. Ons het die teerpad van die kus na die
noorde met ’n lied in die hart aangedurf. Net om uit die stad weg te kom, was alreeds ’n groot
bonus. Eers toe ons so deur veld en vlei en oor berg en dal ry, het ons besef hoe stresvol die
voorafgaande tyd vir ons albei was. Ons het gelag en gesing en was uitgelate soos kinders
wat vir die eerste keer met vakansie gaan!
Ons het kuier-kuier voortgery en in twee karavaanparke oorgeslaap op die lang pad na die
noordelike binneland. My belangrikste reisgids na ons uiteindelike bestemming was my
oupa-grootjie se biografie, wat deur my oupa geskryf is. Dié grootjie en sy pa was albei
boere. Ek het gehoop om hierdie voorsate se spore op hulle toentertydse plaas op te tel en
sodoende my eie wortels te vind en te ervaar. Wat dit presies was wat ek sou vind, het ek nie
geweet nie. Ek was egter seker dat ek sou weet wanneer ek dit raakloop.
Op die dorpie naaste aan die plaas het ek navraag gedoen en aanwysings gevra. Daar was
teleurstellende nuus. My grootjie se plaas het nie meer as ’n boerdery-eenheid bestaan nie.
Dit was slegs ’n onderdeel van ’n baie groter wildreservaat, wat uit ’n aantal plase saamgestel
is. Met die ontvolking van die platteland is dié eiendomme deur ’n konsortium sakemanne
opgekoop. Hulle het dit omskep in ’n reservaat met ’n dertigtal wildsoorte wat oor duisende
hektare weiveld versprei was. Groepe jagters van oorsee en vanuit die stede kom dan met die
nodige jaglisensies daar bokke en ander wildsoorte skiet.
Die verskillende plase se ou opstalle word as kampe gebruik waar die jagters tuisgaan. My
probleem was om te weet watter opstal dié van my oupagrootjie se plaas, Helderfontein, was.
Ek het by die bestuurder van die reservaat vir hulp aangeklop. Hy kon my nie help nie, want
die verskillende opstalle is as jag kampe met verskillende wild name aangedui en nie volgens
die plase se geregistreerde name nie. Hy het my van ’n kaart van die reservaat voorsien en my
sterkte toegewens. Ons het ook goedkeuring gekry om kosteloos in enige van die kampe tuis
te gaan, aangesien daar vanweë die sokkertoernooi baie minder jag besprekings was. Dit was
wonderlike nuus vir ’n egpaar met ’n skraps inkomste en sonder ’n eie dak vir die
onmiddellike toekoms.
Ons het die reservaat se stowwerige grondpaaie met gretige afwagting aangedurf en van
opstal tot opstal gery. Die uitgestrekte grasvelde met alleenstaande klipkoppies en berge op
die horison, was asemrowend mooi. Elsa was haastig en opgewonde om dit op haar
skilderdoeke vas te lê. Elke plaasopstal waarby ons ingedraai het, is beoordeel volgens die
swart en wit foto’s in my grootjie se biografie. Die eerste twee was definitief nie waarna ons
gesoek het nie. Die son het reeds laag in die weste gesak toe ons die derde opstal bereik het.
Ook dit het nie na die ware Jakob gelyk nie.
Ek was op die punt om teleurgesteld by die werf uit te ry, toe iets my aandag getrek het.
Ongeveer ’n honderd meter Wes van die plaashuis was daar ’n klompie ou bouvallige
buitegeboue. Die vervalle sandsteen gewel, met geroeste dubbele sink deure van ’n eertydse
waenhuis, het ooreengestem met ’n foto in die biografie. Die hemelhoë bloekombome agter
die woonhuis het ook skielik in plek geval. Ons het uiteindelik by my wortels uit die gryse
verlede gearriveer!
Ek het die reservaatbestuurder se sleutels gebruik om toegang tot die huis te verkry. Daar
was vier slaapkamers, ‘n sitkamer en ’n ten volle toegeruste kombuis, met onder meer ’n
gasstoof en gas yskas. Weens die afwesigheid van elektriese krag was daar in elke vertrek ’n
gaslamp. Die meubels was oud maar in goeie toestand. Uiteenlopende ontwerpe en fabrikate
van stoele, tafels en beddens het daarop gedui dat dit oral oor opgekoop is om die huis vir die
jagters in te rig. Die houtvloere was nog verbasend stewig en kraakvry, maar plek-plek het
die afgetrapte planke getuig van baie voete wat oor meer as ’n honderd jaar daar geloop het.
Die bakkie is in groot haas afgelaai om nog voor donker die huis en werf verder te verken.
Ek kon steeds nie verstaan dat ek nie die huis vanaf die ou foto’s herken het nie. Buite in die
skemer het ek wel die antwoord gevind. Teen die klipfondasie aan die suidekant van die huis
was daar ’n datum van 1880 in sement syfers vasgelê. Dit het geklop met die datum in die
biografie. By nadere ondersoek kon duidelik gesien word dat die oorspronklike oop stoep aan
die noordekant van die plaashuis later jare met vensters toegebou is om as ’n son vertrek in
die koue winters te dien. Dit was hierdie veranderde fasade wat gemaak het dat ek die
plaashuis nie dadelik herken het nie
Toe ek weer in die kombuis terugkom, was Elsa reeds besig om by lamplig ’n ligte
aandete voor te berei. Die donker het soos ’n lamferlap teen die vensterruite gelê en buite op
die werf was dit grafstil. Nie eers ’n kriekie in die lang gras of’ ’n padda by die watervoor
was hoorbaar nie. In die windlose winteraand was die natuur ontneem van alle naggeluide. Ek
kon ‘n vreemde spanning en ongemak by Elsa aanvoel. Sy het kort-kort na die donker
kombuisvensters sonder gordyne gekyk en het ook ’n paar keer gevoel of die buitedeur tog
wel gesluit was.
Ek het haar ’n gerusstellende drukkie gegee en gehelp om die tafel te dek. Diep binne in
was ekself egter ook kriewelrig en senuweeagtig. Ons albei het in die stad grootgeword en die
gitswart donkerte op die werf en bonatuurlike nagstilte was vir ons vreemd en selfs
vreesaanjaend! Ons was ook terdeë bewus daarvan dat daar in ’n radius van ongeveer tien
kilometers geen mense gewoon het nie. Ons het verder vroeër die middag al agtergekom dat
daar nie selfoonontvangs op die plaas was nie. Die wete van die landswye plaas rooftogte en
moorde op boere het die onheil gedagtes by ons net verder aangeblaas!
Ons het nie juis veel van ’n eetlus gehad nie, en nadat ons die skottelgoed opgewas het, is
ons kamer toe. Dié besondere slaapkamer is gekies omdat dit ’n eie aangrensende stort,
wasbak en toilet gehad het. In my grootjie se dae was daar natuurlik nie ’n badkamer nie.
Beperkte was- en toiletgeriewe is eers later vir die jagters aangebou. Die kamer was ruim en
goed gemeubeleer, maar dit het ongelukkig geen sleutel vir die binnedeur gehad nie.
Gedagtig aan die pieperige slotte aan die plaashuis se buitedeure, was ’n geslote kamerdeur
’n absolute vereiste vir ’n goeie nagrus. By verdere ondersoek het dit geblyk dat ook geeneen
van die res van die slaapkamers sleutels gehad het nie.
Elsa het my vraend en met beangste oë aangekyk. “Moenie bekommerd wees nie,” het ek
haar gekalmeer. “’n Boer maak altyd ’n plan.” Ek het op daardie stadium alles behalwe soos
’n boer gevoel en ook nie juis baie planne gehad nie. In die rolprente sit hulle gewoonlik ’n
stoel skuins onder die deur se knop. Daardie deur se handvatsel was ongelukkig te hoog vir
enige van die stoele in die huis. Die enigste ander uitweg was om ’n swaar meubelstuk voor
die deur te skuif. Die beste wat ek kon kry, was een van die bedkassies. Dit was egter nie
swaar genoeg nie en kon maklik met die deur van buiteaf weggeskuif word.
My verstand het toe reeds in die hoogste versnelling gewerk. Ek het verder probeer deur
my briewetas op die bedkassie onder die handvatsel te plaas, maar dit was net ’n paar
sentimeter te laag om die handvatsel mee vas te pen. My soektog deur die plaashuis het niks
opgelewer om die gaping op die briewetas te vul nie. Ek wou net moed opgee toe my oog op
die Bybel op die tweede bedkassie val. Dit het wonderlik en stewig as wig onder die deur se
handvatsel ingepas. Geen indringer sou van buiteaf die handvatsel kon beweeg nie. Elsa het
merkbaar ontspan en ekself was nie net verlig nie, maar nogal heel trots op my boere plan.
Die kamer se hout venster het van die outydse opskuiframe gehad. Daar was geen
diefwering geïnstalleer nie en slegs ‘n piepklein knippie het verhoed dat die onderste raam
van buite opgeskuif kon word. Dit het my egter minder as die kamerdeur gepla. As iemand by
die venster sou probeer inkom, sal die geraas my wel betyds wakker maak. Ná al die
opwinding en plannemakery was ek wawyd wakker. Elsa was egter gedaan en het gou styf
teenaan my aan die slaap geraak. Ek het nog in my grootjie se biografie rond geblaai en plekplek
‘n paar paragrawe gelees.
Die plaas en omgewing was daarvolgens ryk aan geskiedkundige gebeure. Die Anglo
Boereoorlog het twintig jaar ná die huis gebou is en tien jaar na my oupagrootjie se geboorte,
uitgebreek. Die volwasse manne, en selfs tienerseuns, waaronder my groot-grootjie, het almal
die wapen teen die Engelse magte opgeneem en slegs die vroue en kinders het op die plase
agtergebly. Volgens Brittanje se beleid van verskroeide aarde is die vroue en kinders
mettertyd na konsentrasiekampe weggevoer en die plase verwoes en die vee doodgemaak.
Die boerekrygers sou sodoende nie gereeld hulle voedselvoorrade vanaf hulle eie plase kon
aanvul nie.
My grootjie se plaas het ook onder die oorlogsvandale deurgeloop. Die plaashuis is
genadiglik nie afgebrand nie. Daar word vertel dat ’n boere patrollie per toeval op die soldate
afgekom het voor hulle met die brandstigting kon begin. Hulle het halsoorkop gevlug, maar
twee van hulle is daar op die werf doodgeskiet. Ironies genoeg is hulle, volgens die biografie,
tussen my voorsate in die familiekerkhof begrawe. ’n Besoek aan dié kerkhof was juis op my
program vir die volgende dag.
Sommige van die omgewing se vroue en kinders het betyds na die omliggende berge
gevlug. My oumagrootjie se ma, dus vier geslagte voor my, was onder dié wat vir die duur
van die oorlog in die berge geskuil het. My oupagrootjie, toe ongeveer tien jaar oud, was
saam met sy ma. Hulle het mielie- en koringmeel, droë vrugte, biltong, pluimvee en selfs
melkbokke met hulle saamgeneem. Sodoende is hulle die gruwels van die konsentrasiekampe
gespaar. Nie dat die ontberings in die primitiewe grotte en holkranse van die bergvestings
maklik was nie!
Ek het laatnag die biografie weggesit en die gaslamp doodgemaak. Skielik het die
oorweldigende donkerte my weer opnuut na my asem laat snak. Ek het nog vir ’n lang ruk so
met oop oë in die stil swart nag gelê en luister na die geluide van ’n vreemde woonhuis. Daar
was die gekraak van die dakplate in die winterkoue en êrens ’n deur- of vensterraam wat in
die ligte nag briesie geratel het.

Kliek hier om die Afrikaanse eBoek te koop!

Image: FreeDigitalPhotos.net

Nuwe Jeug Roman deur Piet Schoombie

July 5, 2012 in Uncategorized

Die skrywer het op ’n plaas opgegroei en daarná ’n groot deel van sy werklewe in die korporatiewe sake-wêreld van Johannesburg, Suid-Afrika deurgebring. Benewens twee boeke in die gedrukte media, het hy ook vier e-boeke gepubliseer. Laasgenoemde boeke behels ‘n avontuurverhaal, twee bundels met kortverhale en ‘n jeugroman. Die skrywer is ook ’n ywerige skilder en ’n gholfspeler.

Hierdie Afrikaanse eBoek is ’n aangrypende verhaal van ’n weeskind se stryd en strewe in ’n kinderhuis om ’n staanplek vir homself in die lewe af te baken. Die seun was ’n vondeling baba en het dus nooit enige ouerliefde ervaar nie. Oënskynlik is daar ook nie familie wat hulle oor hom ontferm nie.
Hy kan dus slegs op sy eie instinkte en fisiese vermoëns staatmaak. ’n Groepie simpatieke volwassenes probeer hom wel help en bystaan waar hulle kan. Ongelukkig is daar egter ook die kansvatters wat hom wil uitbuit om hulle ten koste van ’n weeskind te verryk! Hierdie is ’n verhaal van vasbyt en deurdruk, ongeag allerhande beperkings en terugslae van die lewe. Tussendeur alles is daar natuurlik ook nog die wêreld se vele afgode, wat as struikelblokke ’n arm weeskind gereeld treiter. Die simboliek van die buiteblad is van ’n jong man wat ’n nuwe daeraad in sy lewe tegemoet stap.

Lees ‘n uittreksel van die Afrikaanse eBoek kliek hier.

Die balans tussen Engele en Skurke

July 3, 2012 in Uncategorized

Afrikaanse eBoek

Afrikaanse eBoek

Piet Schoombie  Afrikaanse eboek behels die vyftien beste kortverhale en artikels uit ’n gedrukte bundel, wat in Mei 2010 gepubliseer is. Tydens die samevoeging daarvan in ’n e-boek, is die stories wesenlik hersien en waar nodig verkort.

Die boek bevat onder andere twee Kersverhale, twee Paasverhale en ’n Pinksterverhaal. Verder is daar verhale van ’n gyselaarsdrama, ’n perlemoenstropery, ’n stem uit die graf, ’n misterie van ’n vrou by die see en ’n tipiese rooftog van die moderne tyd.

Daar is ook ’n storie van ’n baie besondere plaasbegrafnis en die biografie van ’n plaaswerker wat ’n legende in sy eie tyd was. Verder word die leser ook voorgestel aan hedendaagse engele wat ’n deurmekaar en bose wêreld draagliker maak. Voorwaar ’n potpourri van verhale en artikels wat heerlike spanning en ontspanning aan die leser kan bied.

Koop hiedie Afrikaanse eBoek hier!

Image: FreeDigitalPhotos.net

Afrikaanse eBoek vir die dapperes

July 1, 2012 in Uncategorized

Afrikaanse eBoek

Die eerste multimedia eboek is laas week in die Verenigde Koninkryk vrygestel

Nou het ek alles gehoor!

Hoe sal jy daarvan hou om ‘n Afrikaanse eBoek soos Kringe in ‘n bos te lees en te hoor hoe die olifante trompetter en die wind deur die bos waai. Uitgewers stel nou eboek weergawes vry van gewilde werke met ‘n klankbaan van klassieke musiek en klankeffekte soos die klank van reën op ‘n sinkdak.

Die stelsel gebruik tegnologie om te bepaal hoe vinnig ‘n leser lees en speel dan ‘n klankbaan wat pas by die storielyn. Die aangrypende geluide word weergegee soos die storielyn ontvou.

Die eerste multimedia eboek is laas week in die Verenigde Koninkryk vrygestel. Die Engelse The Adventures of Sherlock Holmes: The Adventure of the Speckled Band het agtergrondgeluid van stortreën,  donderslae en bloedstollende gegil.

Sjoe! So kry die lees ‘n riller van François Bloemhof alleen in jou kamer op ‘n spookagtige nag nuwe mening. Ek sien al hoe moet ek net keer om nie my my e-leser van skrik op die grond neer te goei as iemand met ‘n byl aangeval word en ek hoor die klank van byl op kopbeen en bloed wat spat. Natuurlik luister jy met ‘n oorfoon na die klankbaan van die Afrikaanse eBoek wat bydra dat jy al kaar afgesonder is van die wêreld en die effek net nog meer intens maak. Natuurlik sal daar ‘n waarskuwing moet wees op die Afrikaanse eBoek, dat dit nie bedoel is vir mense met ‘n swak hart nie!

Romeo and Juliet  deur William Shakespeare is die volgende eBoek wat gaan volg met ‘n klankbaan.

Die nuwe tegnologie is bekend gestel in die Verenigde Koningryk deur Booktrack.

Peter Thiel wat ‘n medestigter is van Booktrack, is ook ‘n raadslid van Facebook en die man agter die PayPal konsep.

Kyk gerus na die YouTube video, die lees van so ‘n eboek soos volg beskryf:  “totally immersive experience that pulls the reader into the author’s world and allows the real world to melt away”.

Die klankbaan van hierdie eboeke word aangedryf deur tablet-rekenaars soos die iPad. As die leser ‘n oomblik sy lees wil onderbreek hoef hy net aan die skerm te raak en die klankbaan word onderbreek.

Die Universiteit van New York het bevind dat tegnologie soos die aandag span van die leser verbeter. Dit is letterlik dat die leser net nie die boek kan neersit nie!

Ek kan nie wag om ‘n Afrikaanse eBoek te lees met hierdie tegnologie nie!

Bron: www.telegraph.co.uk

Video oor die toekoms van die eboek