You are browsing the archive for 2011 April.

SOSIALE NETWERKE ‘N EUWEL?

April 23, 2011 in Uncategorized

Nelissen Media Consult het in samewerking met die Universiteit van Amsterdam tot verbasende bevindings gekom oor die invloed wat sosiale netwerke kan hê in die werkplek. Werknemers wat van sosiale netwerke (soos Facebook en LinkedIn) gebruik maak werk glo beter saam. Die werkers is ook meer kreatief en deel inligting makliker met ander kollegas. As die organisasie waarvan hulle deel is gebruik maak van sosiale netwerke is hulle oor die algemeen ook meer trots op hul werkgewer.


Die ondersoek was hoofsaaklik gemik daarop om vas te stel watter invloed sosiale netwerke op die interne kommunikasie van organisasies het. Volgens die navorser Peter Nelisen is dit nie meer ‘n vraag of sosiale netwerke goed is ‘n onderneming nie – dit is goed en klaar! Volgens Wim Elving, dosent in kommunikasiewetenskappe sal dit ook nie baie verstandig van ‘n organisasie wees om die gebruik van sosiale netwerke teen te staan nie.

‘n Tyd gelede het die RSG sender besluit om nie meer van facebook gebruik te maak nie en is die rede verskaf dat dit nie meer by die kommunikasie-strategie van die uitsaaier inpas nie.

Elving is van mening dat die debat of werknemers toegelaat moet word om sosiale netwerke te gebruik in die werkplek, baie is soos vroeër toe werkgewers gewonder het of dit gepas is om toegang te verskaf vir werknemers tot die geruik van telefone of die internet. Hy glo werkgewers kan eintlik nie anders as om werkers toe te laat om van sosiale netwerke in hul werk gebruik te maak nie.

Navorsing in Amerika het bevind dat nuwe toetreders tot die arbeidsmark nie eens wil werk vir ‘n organisasie wat nie die gebruik van sosiale netwerke toelaat nie. Volgens Elving gaan Sosiale netwerke in toekoms veral ‘n groot rol speel in die kommunikasie in die gesondheid- en onderwyssektor. Die meerderheid ondernemings sien nie die nut in om gebruik te maak van sosiale netwerke nie, alhoewel die meeste van hul werknemers gebruik maak van ten minste een sosiale netwerk in hul private lewe. Dit kan die ondernemers net tot voordeel trek om die offisiële gebruik daarvan eerder te fasiliteer as om dit teen te staan

Godsdiensvryheid in die werkplek

April 7, 2011 in Uncategorized

Twee interessante insidente het onlangs die Europese dagblaaie gehaal in verband die vertoning van religieuse simbole in die werkplek en skole. Die gevalle het betrekking op Europese wetgewing wat die vryheid van geloof waarborg. Artikel 9 van die Europese Konvensie van Menseregte (The European Convention on Human Rights) waarborg vryheid van denke, gewete en geloof.

 

HEMA, ’n groot en geliefde Nederlandse afdelingswinkel wat ook sake doen in België, word saam met Randstad ,‘n internasionale werkverskaffingsagentskap, beskuldig van diskriminasie. HEMA het in die Belgiese stad Gent, van Randstad gebruik gemaak om hulle van ‘n tydelike werknemer te voorsien. Die tydelike werknemer, wat moslems is, het die bestuur versoek of sy ‘n hoofbedekking mag dra en die versoek is toegestaan. Volgens HEMA het verskeie kliënte klagtes ingedien, wat daarop neerkom dat hulle nie deur ‘n klerk met ‘n hoofbedekking bedien wil word nie. Die verkoopsklerk is deur die bestuur versoek om die dra die hoofbedekking te beëindig maar het sy geweier. HEMA het ook aan haar die keuse gebied om ‘n posisie te aanvaar waar sy nie direk met die publiek in aanraking sal kom nie maar sy het dit ook geweier. Die gevolg hiervan was dat HEMA die kontrak met Randstad om van haar dienste gebruik te maak beëindig het. Wat interessant is dat moslem werknemers van Hema in Nederland wel toegelaat word om hoofbedekkings te dra maar volgens Randstad “werk dinge anders in België”. Hema en Randstad glo dat hulle binne hulle regte optree, want winkelklerke dra gewoonlik nie hoofbedekkings in België nie en dat ‘n uitsondering wel gemaak kan word as die werknemer die publiek bedien. Volgens Josef De Wittt, direkteur van België se Anti-diskriminasie en Gelykheid Agentskap is suiwer kommersiële redes nie aanvaarbare gronde vir diskriminasie nie.

Die uiteinde van die geskil gaan verseker interessant wees en die onlangse opspraakwekkende uitspraak in die Lautsi saak sal definitief ook ‘n invloed daarop hê.  

Die Lautsi v. Italië saak is beslis deur die Europese Hof vir Menseregte op 18 Maart, 2011. Mev Soile Tuulikki Lautsi het die Italiaanse regering se voorskrifte dat ‘n kruisbeeld (crucifix) op die muur van staatskole moet verskyn geopponeer . Aangesien die kruisbeeld sonder twyfel ‘n christelike simbool is het Mev Lautsi aangevoer dat haar kinders se reg tot vryheid van geloof aangetas is. Die hof het beslis dat die vertoning van die kruisbeeld nie in stryd is met die Europese Konvensie vir Menseregte nie. Volgens die hof bestaan daar ‘n wye diskresie in ledestate om voorsiening te maak vir tradisie en die kruisbeeld is ‘n simbool van die westerse demokratiese tradisie. Die hof het die mening gehuldig dat in vergelyking met die dra van hoofbedekkings is die kruisbeeld ‘n passiewe simbool. ‘n Passiewe simbool word beskryf as ‘n simbool wat geen indoktrinasie invloed het nie.

Die twee aangeleenthede is interessant in die raamwerk van die beskerming van minderheidsregte en vryheid van geloofsvryheid in Suid Afrika  

 

 

    

 

Die regering slaan die bal mis met hul interpretasie van die rol Arbeidsmakelaars

April 6, 2011 in Uncategorized

Die regering beklemtoon graag die voordele van Suid Afrika se deelname aan die wêreldekonomie maar is terselftertyd traag om te leer uit die lesse van die wereldekonomie. Dit is veral waar in die geval van die voorgestelde wysigings aan die Suid Afrikaanse arbeidswetgewing met betrekking tot die rol van arbeidsmakelaars. Die wysigings is gemik op die verbetering van die gehalte van die werkslewe van werkers, maar tergelykertyd kondig President Zuma ook aan dat die regering 5 miljoen nuwe werksgeleenthede wil skep teen 2020. Die voorgestelde wetswysigings sal waarskynlik ‘n negatiewe impak hê op werkskepping wat katastrofies is, as in ag geneem word dat Suid Afrika tans ‘n 24% werkloosheidsyfer het. Die ideaal is natuurlik dat die gehalte van werkslewe verhoog word paralel met die stimulasie van werksgeleenhede. 


Die regering stel wetswysigings voor met betrekking tot die regulering van arbeidsmakelaars wat die volgende insluit: eerstens dat ‘n werknemer ‘n permanente kontrak moet ontvang as die werkgewer nie aanvaarbare redes kan verskaf hoekom die kontrak tydelik moet wees nie, en tweedens dat tydelike wernemers gelyke voordele en vergoeding moet ontvang in vergelyking met permanente werknemers. Aangesien laasgenoemde voorstel in pas is met internasionale standaarde gaan dit nie verder bespreek word nie, die vraag word net gevra of dit haalbaar is in ‘n ontwikkelende land soos Suid Afrika.


Indien die wetswysigings op die Wet op Arbeidsverhoudinge in sy huidige formaat gepromulgeer word, sal dit beteken dat die funksie van die Arbeidsmakelaar binne drie jaar gaan verdwyn. Private indiensnemingsagentskappe sal die huidige arbeids- makelaarstelsel vervang. Private indiensnemingsagentskappe voorsien slegs aan die behoefte van die opdraggewende organisasie en is nie die werkgewer van die kontrakwerker nie. Dit sal vir alle praktiese doeleindes onmoontlik wees vir ‘n onderneming om tydelike werknemers in diens te neem.


Volgens die Adcorp Indiensnemingsindeks is daar tans 2.13 miljoen kontrakwerkers in Suid- Afrika. Die indeks toon ook aan dat sedert 2000 die tydelike werksmag met 11.9% jaarliks gegroei het in vergelyking met ‘n teleurstellende jaarlikse afname van 1.5% in die permanente werksmag. Dit spreek vanself watter negatiewe invloed die beperking van tydelike indiensnemingsgeleenthede op werkskepping in Suid Afrika sal hê. Dit is ook onwaarskynlik dat die regering sy doelwit van 5 miljoen werksgeleenhede teen 2020 sal bereik. Die wetswysigings moet ook beoordeel word in die lig van Suid Afrika se onlanse uitnodiging om aan te sluit by die Brics-Koalisie (Brazilie, Rusland, Indie en China). Alhoewel Suid Afrika ‘n klein lid is van die koalisie word Suid Afrika beskou as die poort tot Afrika. Die vraag word tereg gevra wat die invloed van die wetswysigings op internasionale direkte beleggings moontlik kan hê. Die gebruik van tydelike werknemers is die standaard praktyk van die internasionale gemeenskap om die onvoorspelbare en dinamiese arbeidsmark te bestuur. Die genoemde wysigings in die arbeidswetgewing kan dalk net die bepalende faktor wees vir ‘n multi-nasionale ondernemer om in ‘n ander land in Sub-Sahara Afrika te belê as in Suid Afrika.


Wat is die internasionale situasie met betrekking tot Arbeidsmakelaars? Volgens die Internasionale Konfederasie van Privaat Indiensnemingsagentskappe (Ciett) is daar 72000 arbeidsmakelaars wereldwyd met ‘n omset van € 203 biljoen in 2009. Die penetrasievlak van arbeidsmakelaarwerk in die arbeidsmark was in 2009: 1.7% in Japan, 1.4% in Europa and 1.3% in die VSA. Alhoewel die arbeidsmakelaarbedryf ‘n positiewe effek het op werkskepping en die aanpasbaarheid van die arbeidsmark, is daar ook kritiek teen die praktyk. Dit is hoofsaaklik die werknemersorganisasies wat die praktyk teenstaan. Dit is moeilik vir werknemersorganisasies om tydelike werkers te organiseer, wat weer ‘n negatiewe efek het op hul kollektiewe bedingingsbasis. In Suid Afrika is dit COSATU wat veg vir die verbanning van arbeidsmakelaarpraktyke. Volgens die werknemersorganisasies fragmenteer die praktyk werksplekke en lei dit tot die uitbuiting van werkers.  

 

Wat kan ons leer uit die internasionale ondervinding met betrekking tot Arbeidsmakelaars? Die beginsel van aanpasbare sekuriteit of te wel “flexicurity” is in die 1990’s gebore in Denemarke. Die Europese Kommissie beskou flexicurity” as die geintergreerde strategie om gelyktydig die aanpasbaarheid van die arbeidsmark tesame met verhoogde sekurteit van werkers na te streef. Ondervinding in Europa dui daarop dat arbeidsmakelaars ‘n effektiewe strategie is vir die reintegrasie van die werkloses in die arbeidsmark. Die vraag in die arbeidsmark vir aanpasbare werkers word ook bevredig. Navorsing dui aan dat 81% van internasionale organisasies rapporteer dat arbeidsmakelary ‘n effektiewe metode is om ekonomiese fluksiasies te bestuur. Die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) het bevind dat tydens die ekonomiese krisis van laat 1998, tydelike werkers van die eerstes was wat afgelê is. Die vermindering van die werksmag het baie besighede in staat gestel om die krisis te oorleef en met die verbetering van die ekonomiese vooruitsigte was die tydelike werknemers van die eerstes wat weer in diens geneem is. In Europa sou 80% van nuwe werksgeleende nie gerealiseer het as dit nie was vir arbeidsmakelaars nie. Tydelike werk word gesien as ‘n eerste stap na ‘n permanente werksgeleentheid. Die EU Tydelike- en Agentskap Werkers Direktief (EU Temporary and Agency Workers Directive (2008/104/EC)) wat aanvaar is in November 2008 skryf die beginsel voor dat tydelike werkers en permanente werkers wat in dieselfde bedryf werksaam is en identiese funksies verrig, gelyke vergoeding en basiese voordele moet ontvang.  

 

Die vinnige groei van die Privaat Indiensnemingsagentskappe het ook die ILO genoop om ‘n konvensie te aanvaar met die doel om internasionale standaarde daar stel vir die bedryf. Konvensie 181 balanseer die behoete van die ondernemings vir ‘n aanpasbare werksmag met die behoefte van die werkers vir werksekuriteit, en ‘n veilige- en aanvaarbare werksomgewing. Volgens die ILO kan arbeidsmakelaars ‘n belangrike rol speel in die moderne arbeidsmark as die bedryf voldoende gereguleer word. Suid Afrika het nie die Konvensie nie geratifiseer nie. Volgens die ILO kan die ratifisering van die konvensie ‘n belangrike invoed hê op die verbetering van die gehalte van werkslewe van werknemers. Ongelukkig is die huidige voorgestelde wetswysigings nie versoenbaar met die konvensie nie.  

 

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat beperkings op arbeidsmakelaars nie werkskepping en aanvaarbare werk in Suid Afrika sal verbeter nie, maar sal, om die waarheid te sê, die teenoorgestelde gevolg hê. Die ondervinding van die Europese Unie met “flexicurity” kan toepaslik en bruikbaar wees vir die Suid Afrikaanse arbeidsmark, deur werkskepping te balanseer met die bevordering van aanvaarbare werksomstandighede (decent work). Die alternatief word voorgestel dat die regering eerder Konvensie 181 moet ratifiseer en dan die arbeidswetgewing in lyn met die konvensie bring. Dit sal ook ‘n gunstige effek hê op die arbeidsmark as die as die rol van arbeidsmakelaars verander van arbeidsvoorsieners na menslikehulpbronspesialiste.

  

 

 

: