Die regering beklemtoon graag die voordele van Suid Afrika se deelname aan die wêreldekonomie maar is terselftertyd traag om te leer uit die lesse van die wereldekonomie. Dit is veral waar in die geval van die voorgestelde wysigings aan die Suid Afrikaanse arbeidswetgewing met betrekking tot die rol van arbeidsmakelaars. Die wysigings is gemik op die verbetering van die gehalte van die werkslewe van werkers, maar tergelykertyd kondig President Zuma ook aan dat die regering 5 miljoen nuwe werksgeleenthede wil skep teen 2020. Die voorgestelde wetswysigings sal waarskynlik ‘n negatiewe impak hê op werkskepping wat katastrofies is, as in ag geneem word dat Suid Afrika tans ‘n 24% werkloosheidsyfer het. Die ideaal is natuurlik dat die gehalte van werkslewe verhoog word paralel met die stimulasie van werksgeleenhede.
Die regering stel wetswysigings voor met betrekking tot die regulering van arbeidsmakelaars wat die volgende insluit: eerstens dat ‘n werknemer ‘n permanente kontrak moet ontvang as die werkgewer nie aanvaarbare redes kan verskaf hoekom die kontrak tydelik moet wees nie, en tweedens dat tydelike wernemers gelyke voordele en vergoeding moet ontvang in vergelyking met permanente werknemers. Aangesien laasgenoemde voorstel in pas is met internasionale standaarde gaan dit nie verder bespreek word nie, die vraag word net gevra of dit haalbaar is in ‘n ontwikkelende land soos Suid Afrika.
Indien die wetswysigings op die Wet op Arbeidsverhoudinge in sy huidige formaat gepromulgeer word, sal dit beteken dat die funksie van die Arbeidsmakelaar binne drie jaar gaan verdwyn. Private indiensnemingsagentskappe sal die huidige arbeids- makelaarstelsel vervang. Private indiensnemingsagentskappe voorsien slegs aan die behoefte van die opdraggewende organisasie en is nie die werkgewer van die kontrakwerker nie. Dit sal vir alle praktiese doeleindes onmoontlik wees vir ‘n onderneming om tydelike werknemers in diens te neem.
Volgens die Adcorp Indiensnemingsindeks is daar tans 2.13 miljoen kontrakwerkers in Suid- Afrika. Die indeks toon ook aan dat sedert 2000 die tydelike werksmag met 11.9% jaarliks gegroei het in vergelyking met ‘n teleurstellende jaarlikse afname van 1.5% in die permanente werksmag. Dit spreek vanself watter negatiewe invloed die beperking van tydelike indiensnemingsgeleenthede op werkskepping in Suid Afrika sal hê. Dit is ook onwaarskynlik dat die regering sy doelwit van 5 miljoen werksgeleenhede teen 2020 sal bereik. Die wetswysigings moet ook beoordeel word in die lig van Suid Afrika se onlanse uitnodiging om aan te sluit by die Brics-Koalisie (Brazilie, Rusland, Indie en China). Alhoewel Suid Afrika ‘n klein lid is van die koalisie word Suid Afrika beskou as die poort tot Afrika. Die vraag word tereg gevra wat die invloed van die wetswysigings op internasionale direkte beleggings moontlik kan hê. Die gebruik van tydelike werknemers is die standaard praktyk van die internasionale gemeenskap om die onvoorspelbare en dinamiese arbeidsmark te bestuur. Die genoemde wysigings in die arbeidswetgewing kan dalk net die bepalende faktor wees vir ‘n multi-nasionale ondernemer om in ‘n ander land in Sub-Sahara Afrika te belê as in Suid Afrika.
Wat is die internasionale situasie met betrekking tot Arbeidsmakelaars? Volgens die Internasionale Konfederasie van Privaat Indiensnemingsagentskappe (Ciett) is daar 72000 arbeidsmakelaars wereldwyd met ‘n omset van € 203 biljoen in 2009. Die penetrasievlak van arbeidsmakelaarwerk in die arbeidsmark was in 2009: 1.7% in Japan, 1.4% in Europa and 1.3% in die VSA. Alhoewel die arbeidsmakelaarbedryf ‘n positiewe effek het op werkskepping en die aanpasbaarheid van die arbeidsmark, is daar ook kritiek teen die praktyk. Dit is hoofsaaklik die werknemersorganisasies wat die praktyk teenstaan. Dit is moeilik vir werknemersorganisasies om tydelike werkers te organiseer, wat weer ‘n negatiewe efek het op hul kollektiewe bedingingsbasis. In Suid Afrika is dit COSATU wat veg vir die verbanning van arbeidsmakelaarpraktyke. Volgens die werknemersorganisasies fragmenteer die praktyk werksplekke en lei dit tot die uitbuiting van werkers.
Wat kan ons leer uit die internasionale ondervinding met betrekking tot Arbeidsmakelaars? Die beginsel van aanpasbare sekuriteit of te wel “flexicurity” is in die 1990’s gebore in Denemarke. Die Europese Kommissie beskou “flexicurity” as die geintergreerde strategie om gelyktydig die aanpasbaarheid van die arbeidsmark tesame met verhoogde sekurteit van werkers na te streef. Ondervinding in Europa dui daarop dat arbeidsmakelaars ‘n effektiewe strategie is vir die reintegrasie van die werkloses in die arbeidsmark. Die vraag in die arbeidsmark vir aanpasbare werkers word ook bevredig. Navorsing dui aan dat 81% van internasionale organisasies rapporteer dat arbeidsmakelary ‘n effektiewe metode is om ekonomiese fluksiasies te bestuur. Die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) het bevind dat tydens die ekonomiese krisis van laat 1998, tydelike werkers van die eerstes was wat afgelê is. Die vermindering van die werksmag het baie besighede in staat gestel om die krisis te oorleef en met die verbetering van die ekonomiese vooruitsigte was die tydelike werknemers van die eerstes wat weer in diens geneem is. In Europa sou 80% van nuwe werksgeleende nie gerealiseer het as dit nie was vir arbeidsmakelaars nie. Tydelike werk word gesien as ‘n eerste stap na ‘n permanente werksgeleentheid. Die EU Tydelike- en Agentskap Werkers Direktief (EU Temporary and Agency Workers Directive (2008/104/EC)) wat aanvaar is in November 2008 skryf die beginsel voor dat tydelike werkers en permanente werkers wat in dieselfde bedryf werksaam is en identiese funksies verrig, gelyke vergoeding en basiese voordele moet ontvang.
Die vinnige groei van die Privaat Indiensnemingsagentskappe het ook die ILO genoop om ‘n konvensie te aanvaar met die doel om internasionale standaarde daar stel vir die bedryf. Konvensie 181 balanseer die behoete van die ondernemings vir ‘n aanpasbare werksmag met die behoefte van die werkers vir werksekuriteit, en ‘n veilige- en aanvaarbare werksomgewing. Volgens die ILO kan arbeidsmakelaars ‘n belangrike rol speel in die moderne arbeidsmark as die bedryf voldoende gereguleer word. Suid Afrika het nie die Konvensie nie geratifiseer nie. Volgens die ILO kan die ratifisering van die konvensie ‘n belangrike invoed hê op die verbetering van die gehalte van werkslewe van werknemers. Ongelukkig is die huidige voorgestelde wetswysigings nie versoenbaar met die konvensie nie.
Uit die voorafgaande is dit duidelik dat beperkings op arbeidsmakelaars nie werkskepping en aanvaarbare werk in Suid Afrika sal verbeter nie, maar sal, om die waarheid te sê, die teenoorgestelde gevolg hê. Die ondervinding van die Europese Unie met “flexicurity” kan toepaslik en bruikbaar wees vir die Suid Afrikaanse arbeidsmark, deur werkskepping te balanseer met die bevordering van aanvaarbare werksomstandighede (decent work). Die alternatief word voorgestel dat die regering eerder Konvensie 181 moet ratifiseer en dan die arbeidswetgewing in lyn met die konvensie bring. Dit sal ook ‘n gunstige effek hê op die arbeidsmark as die as die rol van arbeidsmakelaars verander van arbeidsvoorsieners na menslikehulpbronspesialiste.
: