Avatar of Ansie

by

DIE POSMEESTER

November 20, 2012 in Uncategorized

Ons posbus – my man se rekenmeesterspraktyk se posbus – is geblok. Die boodskap wat ek kry is dat dit as gevolg van ‘n oorsese pakkie is, geadresseer aan my, Anna, waarop ‘n boete is. Nou ja, dan moet ek poskantoor toe en gaan uitvind wat dit is, want ek verwag geen posstuk van oorsee nie. Indien ek ‘n posstuk sou ontvang van oorsee, sou dit vooraf reeds betaal gewees het. Manlief dring aan om saam te gaan, want hy wil daardie posmeester op sy plek gaan sit. Hoe durf hy sy posbus blok as ons dan geen kennisgewing ontvang het dat daar so ‘n posstuk gearriveer het waarop ‘n boete is nie. Dit is tog immers hoe dit altyd gedoen was.

Ek ry met my klein blou motortjie en hy met sy groot wit bakkie, want van die poskantoor af gaan ek huis toe, Hermanus toe en hy terug na sy kantoor in die groot voorstad. Hy doen al amper 40 jaar lank besigheid in die groot voorstad en was een van die eerste posbus huurders van die groot poskantoor in die groot voorstad en nog nooit het enige posmeester sy posbus geblok nie. Maar mens moet darem net eers gaan uitvind, dink ek.

Ek is nog besig om vir die dametjie te verduidelik dat ek daar is om uit te vind watse posstuk waarvoor ek nie ‘n kennisgewing ontvang het die probleem veroorsaak, toe manlief beveel dat die posmeester geroep moet word. Duidelik besef hy dat die dametjie nie gemagtig is om posbusse te blok nie. Net die posmeester is.

Die posmeester daag op en wil ewe vriendelik weet waarmee hy kan help. Manlief val weg met “waar kom hy vandaan om … dit is nie hoe dit gedoen word … nog nooit tevore van so ‘n reël gehoor …” Die posmeester probeer verduidelik dat dit ‘n ander geval is die, maar manlief se ‘Johari Venster” is groot oop daar waar hy vertel, maar die kant waar hy moet terugvoer kry en luister is maar op ‘n klein skrefie oop. Ek kom agter die man probeer verduidelik en ek moet manlief vra om tog net eers te LUISTER.

Daar was glo ‘n werknemer met die naam van Anna wat ‘n oorsese KBA pakkie kom afhaal het waarop R750 betaal moes word. Ene Anna het ‘n kredietkaart aangebied, maar daar was ‘n stelsel probleem en Anna het die onervare toonbank assistent geboelie om ‘n tjek te aanvaar. Ek voel verward. Ek raak wel bietjie verstrooid en my geheue laat my soms in die steek, maar van so ‘n voorval weet ek niks.

Die tjek het gehop en hulle sukkel nou al drie maande lank om vir Anna op te spoor. Aangesien ek die enigste bekende Anna is, het junior vennoot aanvaar dat ek die sondebok was. Ek haal my tjekboek uit – nuut, skoon en nooit gebruik, want ek doen geen betalings per tjek nie en ek doen geen KBA bestellings nie. Alles vooruit betaal.

Die posmeester nooi ons na sy kantoor. Hy maak ‘n oproep en in ‘n japtrap het ons ‘n afskrif van die tjek. Die tjek behoort aan ‘n ander besigheid by ‘n ander straatadres. Sien, meeste van manlief se kliënte gebruik die praktyk se adres as geregistreerde adres. Nou hoe op aarde kry ‘n kliënt dit reg om iets KBA van oorsee te bestel na ons posbus en kry dan die kennisgewing om dit by die poskantoor te gaan afhaal? Dit is nog die raaisel.

Met manlief gekalmeer, of nee net ten opsigte van die posmeester, maar nou woedend vir die kliënt wat ook nie haar rekening by hom betaal nie, beken die posmeester dat dit vir hom die grootste onregverdigheid is dat die arme onervare toonbankassistent nou verantwoordelik gehou word vir die bedrag. Dit is die dat hy dit op hom geneem het om alles in sy vermoë te doen, selfs om hom die woede van ‘n jare lange posbushuurder op die hals te haal, om die skuldenaar op te spoor. Hy het geweet hy sou reaksie kry en het natuurlik gehoop die skuldige is beter bekend aan die posbushuurder.

Toe manlief belowe hy sal die skuldenaar opspoor en eerste die poskantoor se geld uit haar kry voor hy sy geld kry, raak die posmeester skoon bewoë. ‘n Amptenaar met magte is ook maar net ‘n mens.

Comments are closed.